Top veiligheidswenke vir hierdie winter

Met Suid-Afrika stewig in die winter se greep, maan Virseker verbruikers om proaktief aandag te skenk aan geisers, pype, bedrading, ander huisonderhoud en om slim en veilig te werk te gaan met verhitting van hul huise om ‘n ysige ramp te voorkom.

“Wanneer die koue toesak, sien ons ‘n beduidende toename in versekeringseise, wat mees algemeen verband hou met geisers, gebarste pype en brandskade,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“In baie gevalle kon dit vermy word deur proaktiewe inspeksies en goeie voorkomende onderhoud, so ons doen ‘n beroep op huiseienaars, huurders en bestuursagente om deeglike inspeksies te doen en die nodige voorsorgmaatreëls te tref.”

Virseker bied die volgende praktiese wenke:

  • Geiser – Kyk uit vir tekens dat jou geiser besig is om in te gee. Geen warm water, water wat nie meer so warm is as wat dit was nie, vuil water, lekplekke (wat hul tipies voordoen as vlekke op die plafon of ‘n drukontladingsklep se pyp wat aanhou lek) en vreemde geluide is aanduidings dat iets skort. Wanneer dit moonlik is, laat jou geiser nagaan om seker te maak dat onderdele soos die element en termostaat werk, dat alle bedrading veilig is en dat daar geen lekplekke is nie. Dink daaraan om te belê in ‘n tydhouer en doelgemaakte, professioneel geïnstalleerde geiserkombers wat nie alleen elektrisiteit bespaar nie, maar ook kan help om ‘n gebarste geiser weens groot wisselings in temperatuur te voorkom. Dit is ook wys om ‘n druppan onder die geiser te installeer wat water sal opvang en wegvoer en waterskade sal beperk indien dit wel bars.
  • Pypslim – Dit is wys om seker te maak dat die temperatuur in jou huis warm en reëlmatig genoeg is om te vermy dat die temperatuur te laag daal, veral in kamers met baie pypwerk, en dat blootgestelde pype, wat geneig is om te vries, behoorlik geïnsuleer is. Maak ook seker dat alle krake en lekplekke so gou moontlik herstel word.
  • Bobaas bedrading – Kyk uit vir foutiewe bedrading op alle toestelle, omdat dit ‘n skok- en brandgevaar inhou. Wees veral bedag op los muurpropverbindings en krakies waar koperdrade ontbloot is. Toets toestelle om seker te maak dat hulle reg werk.
  • Uitklinktoets – Die uitklinkskakelaars in jou huis is meestal die eerste lyn van verdediging wanneer iets in die elektriese stelsel foutief is. Gebruik die uitklinkskakelaar se toetsknoppie – gewoonlik naby die hoofskakelaar aangebring – om seker te maak dat dit werk.
  •  Flink verhitting – Maak seker dat toestelle wat brandstof soos gas en paraffien gebruik in ‘n goeie werkende toestand is, dat hulle ver weg is van vlambare materiaal en dat die brandstof veilig weg van jou huis geberg word.
  • Geut gevaar – Verwyder alle dooie blare en afbreeksels uit geute, omdat hulle nie alleen ‘n dreineringsprobleem veroorsaak nie, maar ook ‘n groot brandgevaar inhou.
  • Raak ontslae van dooie gewig – Sny enige oorgroeide plante of dooie takke weg, omdat hulle ook ‘n brandgevaar inhou en tot beserings kan lei as hulle meegee.
  • Laat krake bars – Gaan alle ruite, vensters en strukture – veral ondersteuningstrukture vir dakke, balkonne en dekke – na vir krake. Wanneer vog in hierdie krake opbou en oornag vries, sit hulle uit en veroorsak selfs meer skade.
  • Wees voorbereid vir die Groot B – Toenemende elektrisiteitsaanvraag in die winter lei tot ‘n groter moontlikheid van beurtkrag, so hierdie is ook die ideale tyd om seker te maak dat jou sekuriteitsmaatreëls, basiese beligting- en verhittingstelsels, sowel as jou rugsteunkragstelsels gerat is daarvoor.

“Selfs met al hierdie punte nagegaan, is daar steeds ‘n kans dat die ongeluk jou mag tref. Maak altyd seker dat jy ‘n noodplan in plek het, die kontaknommers van nooddienste byderhand het en dat jy genoegsaam verseker is,” sluit Coetzee af.

Virseker is ‘n produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy Beperk, ‘n gemagtigde Versekeraar en Finansiele Diensverskaffer.

Posted on by jonckie

Comments Off on Top veiligheidswenke vir hierdie winter

Category: Algemeen, Veiligheid Tags :