Taakspanne aangewys om paaie uitdagings te ondersoek na Vrystaat Landbou versoek

“Vrystaatse boere moet steeds self opdok vir basiese herstelwerk aan paaie en selfs betaling van skraper-operateurs, aangesien daar niks van die beloofde verbeterings gerealiseer het nie” , sê
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL).

“Boere se frustrasievlakke styg steeds omdat hulle geen van die beloofde verbeterings in die plattelandse paaie sien wat aanhoudend afneem nie! Dit noop boere om self in te spring en basiese herstelwerk te doen of self skraper-operateurs te betaal, net sodat paaie rybaar is. Ons is baie bekommerd oor die toenemende koste daarvan om sake in die landelike Vrystaat te doen.”

Wilken se uitlating volg op ‘n vergadering wat Vrystaat Landbou onlangs met die Hoof van die departement (HOD), asook Direkteure en Distrikspad-ingenieurs van die Departement van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer gehad het waar hierdie en ander bekommernisse geopper en aangespreek is.

“Ons verwelkom die erkenning van sekere kritieke probleme met ons landelike paaie en die aanstelling van spesifieke taakspanne om dit aan te spreek,” sê Gernie Botha, Hoof uitvoerende beampte van VL. “Ons neem egter ook met ernstige kommer kennis van die groot agterstand en baie beperkte begroting wat die departement het om ons paaie reg te maak, met erkenning van die
vordering met beperkte begroting waar dit bestee is,” sê Botha.

Die volgende taakspanne is deur die HOD beveel om binne die volgende maand byeen te kom om met oplossings vorendag te kom:

Die Lesotho-grenspad taakspan en Wetlikheid om swaar vragmotors van paaie af te hou wat nie vir swaar verkeer ontwerp is nie.

Dr Jack Armour, Kommersiële Bestuurder by VL, het beklemtoon dat baie beter kommunikasie en deursigtigheid in die begroting, beplanning en verkrygingsproses nodig is vir die landbougemeenskap om vertroue in die departement te herstel. Die HOD het saamgestem en die direkteur verantwoordelik vir paaie-instandhouding aangemoedig om sulke beplanning, begrotings en skedules op ‘n gereelde basis met VL te deel.

Armour het egter aangedui dat kritieke kwessies steeds nie aangespreek word, naamlik

1. ‘n Konkrete aksieplan om verstopte dreine aan te spreek en stukkende wegvoerpype te herstel wat water van ons paaie af weglei, ontbreek steeds. VL het reeds sulke voorgestelde planne ingedien.

2. Verkryging van skraperoperateurs en pik-en-graaf werkers op die grond om die basiese instandhoudingswerk te doen, soos die aanspreek van verstopte dreine, is steeds nie beskikbaar nie alhoewel dit reeds etlike jare uitgewys word dat hierdie die hoofkwessies is wat ons paaie vernietig.

3. Die verkrygingsproses om dienslewering te bespoedig; veral waar noodherstelwerk gedoen moet word. VL het die Aberfeldy-staalbrug meer as ‘n jaar gelede by die departement aangemeld en tenders is gepubliseer, op die kortlys geplaas en toe weer gekanselleer en tot op hede is geen werk aan die brug gedoen nie!

4. Met betrekking tot die aanstelling van Raadgewende Ingenieurs om toesig te hou oor die werk wat deur CDP (Contractor Development Programme) kontrakteurs gedoen word en die gebruik van EPWP-werkers om basiese padherstelwerk te doen, het die HOD het volgehou dat dit ‘n politieke EXCO-besluit was en nie maklik verander kan word nie. Verder het die HOD bygevoeg dat die
meeste van die huidige slaggat-herstelwerk deur middel van ‘n MOU met die SUT gedoen word en werk word onder toesig van gekwalifiseerde Ingenieurspersoneel uitgevoer.

Een stukkie goeie nuus was dat die HOD aangedui het dat daar moontlik 6 nuwe skrapers vir die Departement aangekoop word om in die nabye toekoms in die distrikte te gebruik. Verder ook dat
‘n nuwe direkteur aangestel is om die afdeling vir instandhouding en herstel van die geel vloot aan te spreek.

Posted on by jonckie

Comments Off on Taakspanne aangewys om paaie uitdagings te ondersoek na Vrystaat Landbou versoek

Category: Algemeen Tags :