Vrystaat Landbou lei nog 16 private ondersoekers op om veediefstal te bekamp

Vrystaat Landbou, in samewerking met die privaat sekuriteitsmaatskappy LGV, het die afgelope 2 dae 16 bykomende Psira geregistreerde privaat ondersoekers op veediefstal opgelei. Dit bring
die totale aantal ondersoekers op 21 te staan.

Volgens Peet Swanepoel, provinsiale koördineerder vir die PSIRA privaat ondersoekers, volg die opleiding op versoek van verskeie Vrystaatse boerderygemeenskappe waar veediefstal hoogty
vier.

Die inisiatief het aanvanklik op 1 Julie 2023 in die Fezile Dabe-distrik afgeskop toe Vrystaat Landbou self R1 miljoen befonds het, omdat gevalle van veediefstal in die Vrystaat onaanvaarbare vlakke bereik het. “Tekort aan mannekrag, voertuie en toerusting by Veediefstal Eenhede (VDE) van die SAPD is ‘n groot bron tot kommer en het dit duidelik geraak dat ‘n gemeenskaps-inisiatief nodig was om te help om dinge om te keer”, sê Swanepoel.

Suksesse wat bereik is in samewerking met die polisie se Landelike Veiligheidskoördineerders asook Veediefstal Eenhede (VDE) in sekere hoë misdaad areas het alreeds gewys dat die inisiatief uitgebrei moet word.

Die boerderygemeenskappe van Steynsrus, Bultfontein, Jacobsdal, Marquard, Reddersburg en Bloemfontein het persone geïdentifiseer om as privaat ondersoekers opgelei te word, ten einde hul te bemagtig en op te lei om die tipe misdaad effektief aan te spreek. Die gemeenskappe neem ook self verantwoordelikheid vir alle operasionele onkostes aangaande die ondersoekers.

Verskeie befondsingsmodelle was voorgehou.

Mev Isabel Kruger, veediefstal veiligheidsverteenwoordiger van VL meen dat die groot behoefte op grondvlak daarop dui dat kommersiële boere geweldig geteiken word deur kriminele groeperinge en sindikate wat vee steel. Dit het so vererger dat heelwat boere hul boerderypraktyke moes opgee of van sekere dieretipes ontslae raak. Die koördinering van die tipe misdaad en sentralisering van alle inligting is van kardinale belang ten einde sukses te bereik.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou lei nog 16 private ondersoekers op om veediefstal te bekamp

Category: Veiligheid Tags :