Vrystaat Landbou loods die naspeurbaarheid-en-veiligheidstelsel van vee

Die 1ste Bek-en-klouseer-uitbraak in die Vrystaat het aansienlike finansiële gevolge vir die provinsie se vee-waardeketting gehad. Boere, agente, afslaers, voerkrale, abattoirs en uitvoerders is ernstig hierdeur beïnvloed.

Daarom het lede van Vrystaat Landbou (VL) gedurende die organisasie se 2022 Kongres opdrag aan VL gegee om ‘n diere-naspeurbaarheid- en veiligheidstelsel dringend te ondersoek om verdere risiko’s te versag.

“Vrystaat Landbou (VL) het in die nasleep van die 1ste Bek-en-klouseer uitbraak in die Vrystaat beslissend opgetree,” sê Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou, deurdat ‘n deeglike verkenning van verskeie stelsels op versoek van lede begin is om die kritieke behoefte aan te spreek.”

“Ons ondersoek het ‘n wye verskeidenheid oplossings ingesluit, naamlik bestaande veebestuursagteware, mikroskyfies, geo-gebaseerde en IoT-slim gekoppelde stelsels.

Elke opsie is streng geëvalueer op grond van praktiese toepassing, kostedoeltreffendheid en markgereedheid,” sê Wilken. Van kardinale belang was om ICAR-goedkeuring te verseker. ICAR dien as die internasionale Standaarde en Sertifiseringsliggaam vir dierebiosekuriteit en naspeurbaarheidsprodukte, wat akkreditasie aan vervaardigers verskaf en unieke identifikasienommers uitreik.

Na vele ontmoetings met rolspelers in die bedryf en die proefneming van sommige van die stelsels, het VL die AIMS (Animal Identification and Movement System) sisteem gekies om vir die Vrystaat opgestel te word. Dié sisteem is ontwikkel en reeds in gebruik deur Agri Oos-Kaap. Allfex is die jarelange vertroude oorplaatjie-verskaffer wat elektroniese identifikasie- (EID) en visuele ID- (VID) lasergedrukte etikette met ‘n unieke diere- idetifikasienommer verskaf.

VID-etikette bevat ‘n QR-kode van die unieke nommer wat akkurate datavaslegging moontlik maak met ‘n slimfoon.

Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder vir VL, verduidelik dat die FS-AIMS (Animal Identification, Movement and Safety)-stelsel ‘n platform bied om uniek genommerde oorplaatjies vir jou vee te bestel en toe te ken, vir die aanteken van verkoop en oordrag van vee na nuwe plekke met die nodige Artikel 6 en 8 oordragvorms en ‘n dieregesondheidsvorm.

Indien enige diere met die unieke etikette gevind word, kan huidige eienaarskap vinnig opgespoor word. Armour bevestig verder dat VL as ‘n uitreik-oefening en om ‘n verdere veiligheidsdimensie by te voeg, besig is om borgskap te verkryom, met samewerking van die staatsveeartse en meentboer-komitees, eienaarskap van meentvee op die stelsel te merk en aan te teken.

Tydens ‘n onlangse vergadering waar VL die Bethlehem Distrik Boere Unie toegespreek het, het die organisasie die regstreekse webwerf vir FS-AIMS bekendgestel wat verkry kan word vanaf die VL webwerf ( https://vrystaatlandbou.co.za/). Deur op die FS-AIMS plaatjie beeld te kliek, word jy na ‘n gratis registrasiewebwerf gelei waar enige veeboer hul profiel veilig kan invul met noodsaaklike inligting wat benodig word vir naspeurbaarheid en veiligheid. Armour gee die versekering dat inligting soos o.a. kontakbesonderhede, verpligte geregistreerde handelsmerk (soos die Wet op Diere-identifikasie) en ligging van plase/grond/voerkrale/veilingsterreine waar diere aangehou word, ens. onderhewig is aan die VL Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting-nakomingsprotokol. Bestaande dieremerkerinligting en data van bestaande bestuurstelsels kan ook op FS-AIMS gelaai word.

Die Vrystaat en Oos-Kaap het ‘n samewerkingsooreenkoms om AIMS in die toekoms verder te ontwikkel. Armour bevestig dat R1 van elke merker wat verkoop word, aangewend sal word om die stelsel te verbeter om tred te hou met industrieneigings en -behoeftes. “Indien en wanneer die Staat uiteindelik ‘n Nasionale Vee-identifikasie- en – naspeurbaarheidstelsel (LITS) verpligtend maak, sal ‘n boer die opsie hê om sy/haar uitgesoekte data moeiteloos van FS-AIMS na die nasionale LITS oor te dra. Bykomend, sal die ICAR-goedgekeurde etikette wat unieke identifikasie aan ‘n dier gee, aanvaarbaar wees vir plaas-tot-slag-naspeurbaarheid.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou loods die naspeurbaarheid-en-veiligheidstelsel van vee

Category: Veiligheid Tags :