Vrystaat Landbou stel Distrik-vloedrampverklaringsproses in werking

60% en dalk meer van gesaaides in die Wes Vrystaat is in gedrang weens erge vloedskade. “Dringende ingryping gaan nodig wees om te help om vloedgeteisterde boere in die Lejweleputswa-distrik op hul grond te hou” sê Jakkals le Roux, Vrystaat Landbou (VL) verteenwoordiger vir die Nala Munisipale area wat groot mielieproduserende streke van Wesselsbron en Bothaville dek.

Enorme vloedskade is ook aangemeld in die Tokologo-munisipaliteit tussen Hertzogville en Christiana, in Tswelopele tussen Bultfontein en Wesselsbron en in die Masilonyana munisipaliteit waar ‘n mynuitskotdam waarin die munisipaliteit rou riool vrylaat, walle gebars het en massiewe stukke plaasgrond oorstroom het, moontlik met gekonsentreerde arseen en swaar metale.

Aangesien hierdie veelvuldige plaaslike munisipaliteite almal binne die Lejweleputswa distrik gebied is, het VL ‘n beroep op die Distrik Rampbestuursbeampte gedoen om personeel te mobiliseer om ‘n assessering van die omvang van die skade te doen. Die Departementshoof van die Dept. Landbou het VL ingelig dat die saak aan die Provinsiale Regering se Uitvoerende Komitee voorgelê is en VL sal Dinsdag 11 Januarie ‘n vergadering met die LUR van Landbou & Polisie, Paaie en Vervoer bywoon om vinnig agteruitgaande paaie-infrastruktuur en die vloedramp te bespreek.

Benewens moontlike belastingverligting-ingrypings van ‘n regering wat sonder kontant sit, doen VL ook ‘n beroep op landboubesighede, banke en versekeringsmaatskappye om ook met maniere vorendag te kom om hul lojale kliënte op hul plase te help hou, aangesien staatshulp alleen nie sommige boere sal help wat die produksie inset kapitaal verloor het asook ‘n hele produksieseisoen beleef. Le Roux meld dat omvattende dekkingsversekering nie meer bestaan nie en boere moet spesifiseer of hulle vir hael, ryp, sprinkane en/of chemiese skade verseker. Daar kan nie vir vloede en droogtes verseker word nie, slegs insetkosteversekering waar ‘n produksielening aangegaan word om ‘n gewas te plant.

Selfs al droog dit genoeg uit ná historiese rekord-hoë reënval in baie dele van die Vrystaat, is dit te laat om mielies, soja en selfs sonneblomme te herplant. Waar gewasse oorleef, ding dit mee met ‘n sterk onkruidgroei met alle kunsmis wat weggeloog het en dus duur blaarvoeding of top-bemesting vereis om ‘n ordentlike oes te behaal. Baie boere wag steeds dat watervlakke daal wat hulle in hul lande kan kry om die skade behoorlik te bepaal.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou stel Distrik-vloedrampverklaringsproses in werking

Category: Algemeen Tags :