Gholfdag-geld spreek landbouveiligheid deur VKB VL lessenaar aan

In 2018 is daar reeds ses plaasaanvalle in die Vrystaat voorkom danksy goeie samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en landelike gemeenskappe. Dit is volgens die VKB VL Veiligheidslessenaar se inligting en beklemtoon die rol wat dit speel om landelike veiligheid te bevorder.

Veiligheid is ’n groot uitdaging vir die landbousektor en dié lessenaar verbeter dit op ’n interne én eksterne vlak tot voordeel van landbouers.
Die bydrae wat VKB as vennoot van Vrystaat Landbou (VL) daartoe maak is daarom belangrik om ’n diens aan VL se lede te verskaf. Dié landboubesigheid hou jaarliks ’n VKB Plaasveiligheid-gholfdag in Clarens om geld hiervoor in te samel.

Vanjaar se VKB-bydrae tot die lessenaar, wat op 19 April 2018 ingesamel is, is R 610 000 en R 190 000 meer as in 2017. Die maatskappy bied reeds die afgelope vyf jaar die gholfdag aan. Veertig spanne het deelgeneem en meegeding om pryse ter waarde van sowat R80 000.

“Ons is dankbaar vir die bydrae en pad wat ons met VKB kan stap om die VKB VL Veiligheidslessenaar doeltreffend te maak,” sê Gerhard Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van VL. “Dit help ons om ’n diens aan ons lede te verskaf en hul veiligheid te verbeter. Dankie ook aan elkeen wat aan die gholfdag deelgeneem het. Julle maak ’n verskil tot voordeel van landbouers wat kos op jul tafels sit en ons verwelkom die res van die publiek om ook deel van ons Vriende van Vrystaat Landbou ondersteuningsnetwerk te word.”

“Dit is vir VKB ’n groot voorreg om by te dra tot die taak van Vrystaat Landbou en die lessenaar,” sê Koos Janse van Rensburg, Besturende Direkteur van die VKB-groep. “Landbouprodusente en hul werknemers speel ’n enorme rol in die welvaart van nie net ons maatskappy nie, maar ook van ons land. Ten einde voedselsekerheid te verseker, is dit ons plig om na die welstand van ons streek se landbouprodusente en hul personeel om te sien.

Boonop is hierdie gholfdag die ideale geleentheid om te skakel met ander bydraers tot die landboubedryf en ook die groter ekonomie.”

Tweeledige doel van lessenaar

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, het die lessenaar ’n tweeledige doel. Eerstens is dit om interne veiligheidstrukture op grondvlak te bemagtig en uit te brei om voorkomend misdaad en veiligheid aan te spreek.

Die ander funksie is ekstern om skakeling met alle rolspelers, waarvan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die hoofrolspeler is, binne die Landelike Beveiligingstrategie (LBS) uit te brei.

“Alle doelwitte van die VKB VL Veiligheidslessenaar is gefokus op ’n pro-aktiewe benadering,” sê sy. “Daar moet pro-aktief misdaad voorkom word ten opsigte van ernstige geweldsmisdae, wat plaasaanvalle insluit.”

Dit word gedoen deur byvoorbeeld opleidingsessies oor grondbesettings, noodweer, siviele arrestasies, veediefstal en dienslewering deur die SAPD wat vir landbouers aangebied word. Die lessenaar vergader ook gereeld met plaaslike en provinsiale veiligheidstrukture, asook die SAPD-topbestuur.

Statistiek help misdaad voorkom

Die lessenaar verskaf waardevolle inligting oor plaasaanvalle en help om patrone uit te wys wat aangewend word om misdade te voorkom.

Daarvolgens het plaasaanvalle in die Vrystaat afgeneem in die eerste kwartaal van 2018. Altesaam nege plaasaanvalle het tussen Januarie en Maart 2018 plaasgevind. Tydens dieselfde tydperk in 2017 is 16 aanvalle aangeteken.

Vyf van die aanvalle vanjaar was op produsente en opkomende boere, terwyl vier op werkers was.

• Besoek www.vlvriende.org om ’n Vriend van Vrystaat Landbou te word, stuur ’n e-pos na vriend@vlvriende.org of skakel VL se kantoor by 051 444 4609.

Posted on by Media

Comments Off on Gholfdag-geld spreek landbouveiligheid deur VKB VL lessenaar aan