Het jy ‘n ontruimingsplan vir ‘n noodgeval tuis?

Dit gebeur mos nie met ons nie – waarom dan nou ʼn ontruimingsplan.? … totdat dit te laat is!

In Suid-Afrika woon ons in mensgemaakte tronke – om die skelms uit te hou. Maar intussen hou diè noodmaatreëls, wat ons teen die boewe moet beskerm, weer binne-in. So moeilik as wat dit vir ‘n skelm is om in jou huis te kom as alles gesluit is, so moeilik is dit vir jou of jou gesin om uit te kom wanneer alles gesluit is. Navorsing toon dat van die brande waarin 55% van alle mense gesterf het, in ontwikkelde voorstede plaasvind. Die hoofrede is die geweldige sekuriteit van die huise. Baie mense word deur hulle eie sekuriteitsisteme vasgevang – sekuriteitshekke, diefwering of toegeboude vensters. In die meeste gevalle kon mense net eenvoudig nie betyds uitkom nie.

Indien daar ‘n brand by jou huis sou uitbreek, weet jou mense waar die brandblusser is, waar om die krag af te skakel, watter roetes daar bestaan om die huis veilig te verlaat en waarheen om te gaan?

Sommige huise is totaal met diefwering voor die vensters toegebou. Hoe kan iemand in ‘n noodsituasie, by so vertrek ontsnap indien daar nie vooraf ‘n spesiale plan gemaak word nie. Dit is altyd goed is om in die diefwering, ‘n klein deurtjie of venstertjie in te bou – met ‘n sleutel naby die deurtjie om dit oop te sluit. Die sleutel moet nie iewers ver soos in die voorhuis gebêre word nie.

Kan jou gesin uit jou huis uitkom, in geval van nood? Of is jou plek soos ‘n fort met hoë mure, doringdraad, diefwering en dik tralie hekke voor die deure en vensters?

Meeste kinders weet hulle kry ‘n pak slae indien hulle dalk ‘n venster breek. Maar weet hulle in geval van nood, mag hulle / moet hulle ‘n stoel of tafel deur ‘n ruit stamp of gooi om dit oop te breek, indien dit ‘n ontsnappingsroete sou wees? Vertel aan jou kinders dat hulle wel die grootste venster in die huis mag breek indien dit in ‘n noodsituasie nodig sou wees – leer hulle ook hoe om dit veilig te doen en om versigtig daar uit te ontsnap.

Die ironie is dat mense al doodgebrand het waar daar wel vensters was wat hulle kon breek om te ontsnap, maar hulle het net nooit aan die opsie gedink nie.
Dit is lewensbelangrik. Werk ‘n ontruimingsplan vir jou huis uit en deel dit met almal. Oefen dit ook gereeld. As jy kinders het, maak ʼn speletjie daarvan dan sal hulle dit ook onthou. Reël dat almal weet waar die byeenkomsplek of rendevouz in die tuin of in die straat is waar almal na die tyd bymekaar moet kom. Moet ook nie die huishulp of ander gaste op die erf vergeet nie!

Hoe help ek om ‘n brandsituasie te voorkom ?

Skakel alle onnodige elektriese apparate, soos rekenaars en veral verwarmers in die aand af. Indien die kaggel gebrand het, maak dit deeglik toe en veilig. Maak seker dat muurproppe nie oorlaai word nie. Moenie elektriese koorde onder matte lê nie. Die drade word met tyd stukkend getrap en dit lei tot kortsluitings. Verseker dat jou huis se bedrading aan die standaarde voldoen. Moenie gevaarlike stowwe op jou erf stoor nie.

[ Inligting deur CrisisOnCall: Gaan oop oë deur die lewe met CrisisOnCall.  Vind uit oor hulle krisislyn, reismonitering, mediese bystand en identifikasie in noodgevalle.  Pretoria 3353-776.  3353-776]

Posted on by jonckie

Comments Off on Het jy ‘n ontruimingsplan vir ‘n noodgeval tuis?