Hoe belangrik is die Koop-en -Verkoopooreenkoms by Besigheidsversekering?

Besigheidseienaars is bewus van die gevare wanneer ‘n mede-eienaar of vennoot te sterwe kom en meeste oordeelkundige besigheidsmanne besef dat hul hulself hierteen moet verseker! Dit is egter ook belangrik dat daar nie maar net ‘n versekeringspolis uitgeneem moet word nie en dat die papierwerk en veral die Koop-en-Verkoopooreenkoms in plek moet wees.

Ons het ‘n kundige op die gebied van boedelbeplanning genader om meer besonderhede te verskaf oor die belangrikheid van hierdie ooreenkoms:

Die Koop- en Verkoopooreenkoms:

Wanneer ‘n mede-eienaar in ‘n onderneming te sterwe kom, kan dit die oorlede eienaar se boedel en ook die oorblywende eienaars geweldig blootgestel laat.

Die potensiële probleme wat vir die oorlede eienaar in sy boedel skep is die volgende:

• Die oorblywende eienaars mag dalk nie die geld hê om die belang van die oorlede eienaar se boedel te koop nie.
• Die gade van die oorlede eienaar mag dalk nie wil deelneem aan die onderneming nie, wat beteken dat sy waarskynlik oorgelaat is aan die genade van die bestaande eienaars;
• Die oorlede eienaar mag dalk oor unieke vaardighede beskik het, welke vaardighede dan vir die onderneming verlore is. Dit verhoog dus die risiko in die onderneming.
• Die oorlede eienaar het waarskynlik ‘n salaris in die onderneming verdien. Indien die eienaar dus te sterwe kom, kan die gade nie vanselfsprekend aanspraak maak op daardie inkomste, tensy sy self ook in die onderneming dieselfde werk sou doen as die oorlede eienaar. Dit sou ‘n onbillike las op die onderneming plaas om salarisse te betaal aan mense wat nie in die onderneming werksaam is nie.

Die uitdaging vir die oorblywende eienaars is:

• Die Eksekuteur van die oorlede eienaar se boedel mag dalk in die onderneming waarvan hy min of meer niks weet nie, wil inmeng;
• Hy mag dalk die oorlede eienaar se belang aan die hoogste bieder wil verkoop, wat weer die besigheid oopmaak vir “vreemde” aandeelhouers; en
• Die bestaande eienaars mag dalk nie die fondse bymekaar kan kry om die aandele in die onderneming te koop nie, en eksterne befondsing kan baie duur wees.

Die koop en verkoop oplossing bestaan uit 2 dele naamlik:

• Die ooreenkoms wat die mede-eienaars met mekaar aangaan; EN
• Die polisse wat dan die befondsing vir die ooreenkoms bied.

Dit is belangrik om daarop te let dat die samewerkingsooreenkoms in ‘n Beslote Korporasie (indien een opgestel is) gewoonlik ‘n verkoopsreg aan die ander mede-eienaar(s) verleen. So ‘n verkoopsreg skep ‘n geleentheid om eerste die belang van die oorlede mede-eienaar te koop, maar dit plaas gewoonlik nie ‘n verpligting op die partye om oor en weer mekaar se belang uit te koop by dood en/of ongeskiktheid van ‘n mede-eienaar nie.

Die koop en verkoop oplossing is juis ontwerp om die outomatiese verkoping van ‘n oorlede mede-eienaar se belang te reël in die gval van dood en/of ongeskiktheid van ‘n mede-eienaar.

Dit word gewoonlik gefasiliteer deur ‘n aparte ooreenkoms wat belyn met, en aangeheg word as ‘n aanhangsel tot die bestaande samewerkingsooreenkoms.

Die koop- en verkoopooreenkoms word befonds deur die lewens van die lede te verseker ten einde die nodige kapitaal op die regte tyd beskikbaar te hê.

Ten einde boedelbeplanning te doen, kan daar selfs oorweeg word om ‘n trust op te rig en een persentasie belang in die Beslote Korporasie aan die Trust oor te dra. Die Trust is dan ‘n lid van die Beslote Korporasie en kan die ooreenkoms so opgestel word dat die Trust, by afsterwe van elke lid, die oorlede lid se belang koop. Versekering wat in terme van so ‘n koop- en verkoopooreenkoms uitgeneem word, is vry van boedelbelasting. U skep dus addisionele likiditet in u boedel, vry van enige addisionele boedelbelasting.

Wat is die belangrikste wenke wat jy sal gee aan persone wat hul lewens en ongeskiktheidsversekering in oorweging wil neem vir die doeleindes van boedelbeplanning?

Laat doen ‘n behoorlike boedelbeplanning om te bepaal hoeveel versekering benodig word en wie die eienaar van die versekering moet wees. Bring u testament in lyn met die boedelbeplanning wat gedoen word. Moenie huiwer om ‘n kundige te nader vir advies nie!

* ‘n Woord van dank aan Piet Swanepoel vir sy hulp

 

Besoek ook:

Besigheidsversekering moet ook fokus op Risiko Beplanning ten opsigte van U besigheid

Waarom is Versekering ‘n Belangrike Komponent in Boedelbeplanning?

Posted on by jonckie

Comments Off on Hoe belangrik is die Koop-en -Verkoopooreenkoms by Besigheidsversekering?