Besigheidsversekering moet ook fokus op Risiko beplanning ten opsigte van u besigheid

Ons het reeds gelet op die belangrikheid van Versekering as ‘n Komponent in Boedelbeplanning. Dit is ook uiters belangrik dat ons aandag gee aan die behoeftes van die eienaar van ‘n klein tot medium besigheid.

By groot besighede is daar baie bestuurslede wat kan oorneem waar ‘n ander bestuurslid te sterwe kom, maar by die klein tot medium besigheid kan die afsterwe of ongeskiktheid van die eienaar of bestuurder die besigheid op sy knieë dwing!

Behoeftes van die klein tot medium onderneming

Behoefte word deur die Oxford Verklarende Woordeboek omskryf as “…time of difficulty or crisis…” of “…circumstances requiring some course of action…” (Oxford 1978:584). Die behoefte aan lewensversekering van ‘n klein medium onderneming is van nature ingewikkeld en die entrepreneur is gewoonlik nie eens bewus daarvan dat hierdie behoeftes bestaan nie.

Die feit dat die entrepreneur gewoonlik nie bewus is van die krisis wat vir hom loer en by bepaalde gebeure na vore mag kom nie, maak dit dan soveel moeiliker om hierdie krisis aan te spreek. Die besigheidseienaar het vele behoeftes wat op ‘n direkte of indirekte wyse aan die besigheid verkleef is.

Die risiko waarop ek in hierdie skrywe wil konsentreer is die volgende:

Gebeurlikheidsaanspreeklikheid:

Eksterne finansiering, in welke vorm ookal, is ‘n normale deel van ‘n besigheid se kapitaalstruktuur. Die finansiering mag in die vorm van ‘n oortrokke fasiliteit, termynlening of batefinansiering wees. As deel van die kredietbeleid van die Suid-Afrikaanse banke en ander finansierders, vereis hulle normaalweg van die eienaars van ‘n besigheid om borg te teken vir eksterne finansiering wat van die spesifieke finansiële instelling verlang word. Daar bestaan ‘n potensiële risiko dat die borgskap teen die boedel van ‘n oorledene eienaar opgeroep kan word.

 

Wanneer die borg sterf, skep dit ‘n beduidende probleem vir die finansierder, die besigheid en die boedel van die oorledene eienaar. Die finansiering is gewoonlik toegestaan op voorwaarde dat die eienaars borg teken. As een van die eienaars te sterwe kom, verander die kredietprofiel ten opsigte van die finansiering en dikwels spreek die finansierder die boedel van die oorledene eienaar aan vir die skuld.

 

Alhoewel die boedel ‘n eis teen die besigheid sal hê indien hy betaling moet maak ten opsigte van ‘n lening waarvoor die eienaar borg geteken het, word dit selde afgedwing en al word dit afgedwing, is dit nie noodwendig suksesvol nie, aangesien die besigheid in die eerste plek nie in staat was om die skuld terug te betaal nie.

 

Daar is ‘n relatiewe eenvoudige oplossing vir hierdie uitdaging, naamlik Gebeurlikheidsaanspreeklikheidsversekering.

Gebeurlikheidsaanspreeklikheidsversekering.

Gebeurlikheidsaanspreeklikheidsversekering bied ‘n oplossing wat ‘n besigheidseienaar se boedel in geval van dood beskerm teen die krediteure van die besigheid. Die besigheid neem lewensdekking uit op die lewens van die besigheidseienaars vir ‘n bedrag wat, na inkomste-, boedel- en kapitaalwinsbelasting, gelyk sal wees aan die bedrag waarvoor die besigheidseienaar borg gestaan het.

Saam met die polis gaan die borggewer en die onderneming ‘n ooreenkoms met mekaar aan in terme waarvan die besigheid verplig word om die polis opbrengs te gebruik om die skuld waarvoor die besigheidseienaar borg gestaan het, te betaal. Dit word gewoonlik ondersteun deur ‘n sessie van die polis aan die finansierder as sekuriteit.

* ‘n Woord van dank aan Piet Swanepoel vir sy hulp

 

Gevolgtrekking

Dit is uiters belangrik dat ons by versekering nie net fokus op die wyse en gemak waarmee ons versekering kan vind en aankoop nie, maar ook op die redes waarom dit noodsaaklik is en wat nodig is om te verseker dat die die versekering wel die beoogde verligting bied aan die besigheid, vennote en naasbestaandes.

[ Ons sal ook in ‘n volgende bespreking let op die Koop-en Verkoopooreenkoms]

Posted on by jonckie

Comments Off on Besigheidsversekering moet ook fokus op Risiko beplanning ten opsigte van u besigheid