Waarom is jou versekering ‘n belangrike komponent in boedelbeplanning?

Photo by Gerhard Steenkamp/ Phototalk

Die dood is nooit iets wat ons sommer oor gesels of wil konfronteer voordat dit duidelik is dat die harde realitieit voor ons deur staan nie. ‘n Goeie vriendin van my se pa het die afgelope week ‘n vier-vat hartomleiding ondergaan en dit het my maar net weer laat besef hoe belangrik dit is om vroegtydig ook al my sake in orde te kry.

Ek het onlangs ‘n kliëntedag van Salvo Capital in Bloemfontein bygewoon en het mooi nagedink na die praatjie gelewer deur Piet Swanepoel, ‘n kenner in boedelbeplanning. Wat my diep getref het is dat baie van ons aanvaar dat die aankoop van lewensdekking maar voldoende is, maar nie verstaan wat die noue verband is tussen hierdie finansiële keuses wat ons uitoefen en die regsimplikasies daarvan by dood nie.

Ons sien elke dag advertensies in die media en veral op televisie wat dood en ongeskiktheidsdekking bemark teen bekostigbare pryse. Dit is egter ook belangrik om te besef waar pas hierdie versekeringspolis in die boedel in en wat die effek daarvan is by dood!

Aspekte soos boedelbelasting, sleutelpersoonversekering, koop-en –verkoop kontrakte en vele ander moet in ag geneem word! Ek het dit goedgedink om ‘n paar vrae te rig aan Piet ten einde te baat by sy kundigheid.

Ek wil dit graag deel in 3 afsonderlike besprekings en hul dan so met mekaar verbind tot voordeel van die lesers.

Waarom is versekering een van die belangrike komponente om in ag te neem by boedelbeplanning?

Versekering is nodig om voldoende fondse op die regte tyd daar te stel om laste af te los, boedelkoste en belastings te betaal en om afhanklikes te versorg en moontlike onderhoudseise na te kom.

Hoe belangrik is dit om by die aankoop van lewensversekering om ook die opstel van jou testament daarby in ag te neem?

Die testament het ‘n groot invloed op die hoeveelheid versekering wat benodig word. Verder het aspekte soos versekering wat begunstig word ‘n groot invloed op die testament en moontlike boedelbelasting betaalbaar, aangesien die begunstiging van versekering ook as ‘n tipe “testamentêre handeling” gesien kan word.

Wat is die grootste foute wat mense maak by boedelbeplanning ten opsigte van hul versekering?

Sommige mense is onder die indruk dat versekering wat begunstig of gesedeer word vry van boedelbelasting is, wat nie per se die geval is nie. Probleme kan ook ontstaan indien die testament bepalings bots met begunstiging wat t.o.v. polisse gedoen is. Waar van trusts gebruik gemaak word as eienaars van versekering, is dit belangrik om te bepaal wie die uiteindelike begunstigdes van die trust is en wie die trusteeskap van die trust sal hê wanneer die versekering moet uitbetaal.

Gebeur dit dat daar teenstrydighede is ten opsigte van die begunstiging in versekeringskontrakte teenoor die begunstiging in testament  – en wat is die algemene riglyn on te volg?

Dit gebeur. Die algemene riglyn is dat die begunstiging van ‘n polis ‘n kontraktuele handeling is en dat ‘n begunstigde polis nie deel van die boedel uitmaak nie en dat begunstiging voorrang geniet bo ‘n testamentêre bepaling. Die polis sal egter steeds ‘n geagte bate in die boedel t.o.v. boedelbelasting wees.

Wat is sleutelpersoonversekering? Wie betaal die premies en hoe werk leningsrekeninge in praltyk?

Sleutelpersoonversekering is waar ‘n werkgewer ‘n werknemer se lewe verseker en die werknemer of sy familie nie direkte of indirekte voordeel uit die opbrengs van die polis ontvang nie. Word gewoonlik gebruik om die finansiële verlies, wat ontstaan by afsterwe van ‘n kundige werknemer, aan te spreek. Die werkgewer betaal die premies.

Leningsrekenings is ‘n las vir ‘n entiteit soos ‘n BK/Maatsakppy/Trust. Deel van ‘n gebeurlikheidsaanspreeklikheidsplan van so ‘n entiteit, is om die leningsrekenings te verseker.

Wat moet die besigheidseienaars weet van sleutelpersoonversekering?

Behalwe vir bogemelde, is dit belangrik om die bepalings van Art 4(p) van die boedelbelastingwet in gedagte te hou wat bepaal dat waar ‘n maatskappy ‘n “familiemaatskappy” ten opsigte van die oorledene is, die opbrengs van die versekering onderhewig sal wees aan boedelbelasting. ‘n “Familie Maatskappy” is ‘n maatskappy waarvan die oorledene (versekerde), saam met famililede, die beheer gehad het.

[Ons sal hierdie bespreking voortsit met spesifieke aandag aan besigheidsversekering, sleutelpersoonversekering en gebeurlikheidsvoorsiening]

* ‘n Woord van dank aan Piet Swanepoel vir sy hulp

Posted on by jonckie

Comments Off on Waarom is jou versekering ‘n belangrike komponent in boedelbeplanning?