Vrystaat Landbou vergader met Vrystaatse Provinsiale regering


Vrystaat Landbou (VL) het op 7 September 2023 in diepte gesprekke gevoer met die lede van Vrystaatse Provinsiale regering rakende gemeenskapsveiligheid asook die provinsiale padnetwerk.

Die vergadering met verteenwoordigers van VL is bygewoon deur die LUR en departementshoof van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer. Die LUR, Me MaQueen Joyce Letsoha-Mathae, is ook tans waarnemende Premier van die Vrystaat.

Die distrikskommissaris van die SAPD in Mangaung, Generaal Majoor Adams, en ander georganiseerde landbou organisasies TLU, AFASA en NAFU was ook teenwoordig.

Tydens die vergadering het Mnr Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou, dit benadruk dat landbouers en landelike gemeenskappe wesenlik van paaie afhanklik is en ‘n veilige landelike gemeenskap noodsaaklik is om voedsel te produseer.

Rakende landelike veiligheid is veediefstal, beskikbaarheid van polisie hulpbronne asook polisie aankoop prosedures bespreek. Tekorte aan personeel en voertuie by veediefstal eenhede was ook as wesenlike probleme vir die landbousektor aan die vergadering uitgewys.

Die SAPD is tans besig met die werwing van voormalige polisiebeamptes met speurondervinding in ‘n poging om die tekort aan te spreek.

Die brande wat tans in die provinsie groot skade aanrig is ook bespreek en het die LUR aangedui dat die Uitvoerende Komitee op 6 September 2023 daaroor vergader het en dat ‘n provinsiale rampverklaring uitgereik gaan word.

Dit is veronderstel om fondse te ontsluit vanaf die nasionale regering om landbouers van hulp te wees.

Volgens die regerings-verteenwoordigers is daar al reeds vêr gevorder met die oordrag van sommige provinsiale paaie na SANRAL alhoewel die prosesse nog nie afgehandel is nie.

Landbou verteenwoordigers het benadruk en die LUR het saamgestem dat korrupsie vir baie van die padinfrastruktuur-probleme verantwoordelik is. Dit gee aanleiding tot onbevoegde kontrakteurs wat paaie halfpad regmaak en dan verdwyn of substandaard dienste lewer.

Wilken het die LUR bedank vir haar bereidwilligheid om die kwessies aan te hoor, maar het pertinent aangedui dat daar nie soos in die verlede, net by praat gebly moet word nie.

“Vrystaat Landbou sal aanhou druk op die provinsiale regering plaas om die talle infrastruktuur uitdagings in die provinsie aan te spreek. As boere kan ons egter ook nie terugsit en net wag vir die staat nie. Ons moet daarom ook voortgaan om aandag aan ons eie veiligheid en organisering vermoë te gee”.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou vergader met Vrystaatse Provinsiale regering

Category: Veiligheid Tags :