Oorgrens plaasaanvalle uit Lesotho kommer na soveelste skietvoorval

Vrystaat Landbou (VL) het sy ernstige kommer oor die veiligheid van landbougemeenskappe langs die Lesothogrens uitgespreek, na die soveelste insident waartydens drie plaaswerkers tydens ’n skietvoorval beseer is. Een van die werkers het weens sy beserings beswyk.

Vrystaat Landbou het bevestig dat die werkers op 28 Oktober 2021 op die plaas Balmacara in die Vanstadensrus-area deur Lesotho-burgers geskiet is. Dit wil voorkom asof die werkers verskeie kere geskiet is. Een van die werkers het weens sy beserings beswyk.

Volgens Jakkals le Roux, Voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, was die werkers deur 5 aanvallers, afkomstig vanaf Lesotho, geskiet. Die aanvallers het klaarblyklik weer oor die grens terug beweeg na Lesotho toe. Le Roux sê verder dat die plaas Balmacara al vir jare gekenmerk is as ʼn brandpunt-area vir oorgrens misdaad aktiwiteite, waar gesteelde voertuie, vee asook oorgrens weiding nagenoeg daagliks plaasvind.

Die SA Nasionale Weermag (SANW) is al vir jare op Balmacara gehuisves waar soldate vanaf die tydelike basis opereer.

“Die grens-situasie die laaste paar maande het geweldig versleg, met toenemende en groeiende oorgrensmisdade wat die veiligheid van landbougemeenskappe ernstig bedreig en ook groot eiendomsverwante verliese vir boere teweeg bring.” sê le Roux.

Die skietvoorval op 28 Oktober 2021 is een van 6 voorvalle waartydens slagoffers gedood en of op geskiet is die afgelope maand by verskeie grensdorpe, oa Wepener, Tweespruit, Ladybrand. Die feit dat kriminele gewapen is, plaas nog groter druk op landbougemeenskappe om hulself te beveilig, weens die gebrek aan genoegsame mannekrag, toerusting en voertuie by die SANW en SAPD om oorgrens veiligheid en misdade effektief aan te spreek.

“Boere is uitgelewer om na hul eie veiligheid en die van hul gesinne en werkers om te sien.” sê Le Roux.

Intussen sê Martin de Kock, VL streekverteenwoordiger in die Zastron-area, dat al hoe meer inligting na vore kom rakende polisiebeamptes wat ʼn hand in die sak het by oorgrens misdade. “In baie gevalle draai die weermag ook ʼn “blinde oog” op oorgrensmisdade en is baie klagtes vanaf landbougemeenskappe ontvang dat soldate bewus is van kriminele aktiwiteite maar niks daaromtrent doen nie.”

Volgens De Kock vind baie van die misdadige aktiwiteite gedurende nagtelike ure plaas, waar min of bykans geen misdaad voorkomings operasies van stapel gestuur word deur beide die SANW of SAPD nie. Skriftelike versoeke vir sodanige operasies is deur al 13 grensdorpe se landbougemeenskappe na die SANW en SAPD versoek.

VL doen ʼn ernstige beroep op die hoofde van die SANW, die SAPD, die Ministers en die President om die grenssituasie te prioritiseer met groter hulpbronne om verdere lewensverliese te verhoed.

Posted on by jonckie

Comments Off on Oorgrens plaasaanvalle uit Lesotho kommer na soveelste skietvoorval

Category: Veiligheid Tags :