300 plaasaanvalle en moorde in Vrystaat sedert 2016, sê Vrystaat Landbou

Vrystaat Landbou (VL) het bevestig dat daar gedurende 1 April 2016 tot en met 31 Maart 2021 reeds 298 plaasaanvalle, wat 37 moorde insluit, op landbougrond in die Vrystaat plaasgevind het. Landbougemeenskappe is onder beleg deur dié tipe ernstige geweldsmisdade.

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, noem in haar verslag dat 143 kommersiële en opkomende boere in dié tydperk aangeval is waarvan 16 vermoor is. Verder wys die verslag ook uit dat 126 werkers, wat voormanne, werkers en of sekuriteitswagte insluit, aangeval is waarvan 14 vermoor is. Daar is ook 24 persone wie op plase en of kleinhoewes woonagtig is aangeval, waarvan 6 vermoor is. In sewe insidente is beide produsente en of werkers aangeval en in een insident is ’n produsent en werker albei vermoor.

“Vrystaat Landbou het bepaal dat nagenoeg 300 plase in die 5 jaar periode deur ’n aanval of moord geteiken is, wat nagenoeg 4% van die Vrystaat se boerdery-entiteite verteenwoordig (7 951 aldus StatsSA se landbou opname in 2018).” sê Buys. Dit kan dus ook genoem word dat 71 van die 88 dorpe in die Vrystaat se landbougemeenskappe die afgelope 5 jaar deur ʼn plaasaanval geraak is.

Wanneer die 2020-2021 finansiële jaar se statistieke met dié van 2019-2020 vergelyk word, is dit duidelik dat daar ʼn toename van 5 moorde was (41.67%) en ʼn toename van 14 plaasaanvalle (22.95%). Die getal plaasaanvalle en moorde is die hoogste in ʼn periode van 5 jaar in die Vrystaat. “Wat kommerwekkend is, is dat die toename gedurende die staat van inperking onder die Covid-19 pandemie plaasgevind het waar meer sigbaarheid van die polisie en wetstoepassing in plek was.” meld Buys.

Buys wys ook uit dat daar in 21 van die 73 plaasaanvalle/moorde gedurende 2020-2021, tussen twee en vyf slagoffers aangeval/vermoor is wat vrouens, familielede en of kinders ingesluit het (34.43%). In die vyf jaar periode is agtien (18) slagoffers ouer as 80 jaar oud, terwyl 19 slagoffers onder die ouderdom van 19 jaar was en dus geag kinders te wees. In 52.46% van plaasaanvalle, is slagoffers geskiet of het ernstige nek- en hoofbeserings opgedoen deur ʼn gemiddeld van drie aanvallers wat per insident opereer. Dit dui op die geweldige trauma wat families en hul gemeenskappe ervaar.

Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou se Landelike Veiligheidskomitee, wys uit dat 70 van die plaasaanvalle en moorde by 12 (23.35%) landbougemeenskappe wat teen die RSA/Lesothogrens geleë is, plaasgevind het. “Die situasie teen die grens bly kommerwekkend en is ʼn groot faktor tot onveilige landbougemeenskappe.” Le Roux sê dat VL sal volhou om ’n bydraende rol in die bewusmaking en bemagtiging van landbougemeenskappe te speel om veiliger gemeenskappe daar te stel.

Kyk Ook:

Vrystaat Landbou wil landbougemeenskappe bemagtig met gestandaardiseerde, geakkrediteerde veiligheidsopleiding

Posted on by jonckie

Comments Off on 300 plaasaanvalle en moorde in Vrystaat sedert 2016, sê Vrystaat Landbou

Category: Veiligheid