Vrystaat Landbou wil landbougemeenskappe bemagtig met gestandaardiseerde, geakkrediteerde veiligheidsopleiding

Vrystaat Landbou (VL) wil ’n proaktiewe misdaad omgewing skep en het daarom ʼn memorandum van verstandhouding met ʼn privaat sekuriteitsmaatskappy onderteken om gestandaardiseerde en geakkrediteerde veiligheidsopleiding aan landbougemeenskappe te bied. Die opleiding sal in samewerking met VL-strukture geskied.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, noem dat die fokus van die opleiding hoofsaaklik is om landbougemeenskappe te bemagtig om na hul eie veiligheid om te sien, binne ʼn georganiseerde landboustruktuur. “Die daarstelling van ʼn proaktiewe misdaadomgewing waar vroue, jong boere en selfs plaaswerkers d.m.v. opleiding bemagtig kan word om ʼn bydrae en rol te speel is noodsaaklik.” sê Le Roux.

“Die uitrol van die opleiding gaan ʼn groot bydraende rol speel in die bewusmaking en bemagtiging van landbougemeenskappe om veiliger gemeenskappe daar te stel.” Opleiding word ook deur middel van afstandsonderrig aangebied met praktiese opleiding wat oor naweke geskied. Die opleiding word in drie fases aangebied, naamlik huis en haard beskerming vir die gesin, sektorleiers en reaksiegroeplede en laastens spesialis opleiding wat saam met ander organisasies aangebied gaan word.

Le Roux sê dat die kostes verbonde aan die opleiding bekostigbaar sal wees vir enige individu om te deurloop. Hy noem ook dat VL-lede vir ’n spesiale tarief in aanmerking sal kom. Die opleiding is daargestel vir die totale landbougemeenskappe in die Vrystaat.

In gesprekvoering met plaaswagte en beheerkamers in die Vrystaat gedurende die laaste gedeelte van 2020, is oorweldigende steun toegesê aan die tipe opleiding wat gaan realiseer. “Die ooreenkoms baan ʼn nuwe weg vir die skep van veiliger landelike gebiede en veral landbougemeenskappe in die Vrystaat.” sê Le Roux.

Kyk Ook:

300 plaasaanvalle en moorde in Vrystaat sedert 2016, sê Vrystaat Landbou

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou wil landbougemeenskappe bemagtig met gestandaardiseerde, geakkrediteerde veiligheidsopleiding