Vrystaat Landbou verwelkom die spoedige arrestasies na Pieter Hills se plaasmoord

Vrystaat Landbou (VL) verwelkom die spoedige arrestasies van die persone betrokke by die moord op die Hennenman-boer, Pieter Hills. Eddie Hills, Pieter se seun is ook tydens die plaasaanval beseer en is na wat verneem word in ‘n ernstige toestand in die Millpark hospitaal.

VL het namens die landbougemeenskap innige simpatie teenoor die familie betuig. “Woorde kan nie die impak van hierdie lewensverlies en trauma van hierdie brutale dade beskryf nie.”, het Francois Wilken, president van VL, Maandagoggend gesê.

VL se plaaslike boerevereniging van Hennenman het die eerste hofverskyning van die verdagtes vandag bygewoon. Ter ondersteuning van die Hills-gesin, sal VL die borgaansoek op Maandag, 16 November bywoon.

Intussen het dit aan die lig gekom dat die plaaslike landelike veiligheidskoördineerder van die polisie nie oor ‘n voertuig beskik om sy funksies te verrig nie. Die voorsitter van die plaaslike boerevereniging, T.P Theron, het aan VL bevestig dat ‘n skrywe aan die plaaslike polisie oorhandig is waarin die landbougemeenskap hul misnoeë hieroor uitspreek. VL het die skrywe dadelik na die provinsiale kantoor van die polisie ge-eskaleer om dringende aandag aan die saak te gee.

Die voortgesette misdaad aanslag op die landbousektor is onaanvaarbaar en landbouers as ’n geheel is nie meer bereid om die wetteloosheid toe te laat nie. Dit is daarom belangrik dat die regering die beloftes wat aan landbou gemaak is na die Senekal-plaasaanval dringend implementeer. Die Hennenman-plaasmoord wys SAPD se beloofde impak blyk beperk te wees. Korrupsie in plaaslike polisie skep ‘n wettelose omgewing wat plaasaanvalle in die hand werk en optrede hierop is steeds beperk.

VL werk voort aan die implementering van ʼn veiligheidsplan en ander inisiatiewe om saam met alle rolspelers landelike misdaad te bekamp, maar sal self ook voortgaan indien die regering traag is om op te tree.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou verwelkom die spoedige arrestasies na Pieter Hills se plaasmoord