Kommer oor grensmisdaad in die Vrystaat

Vrystaat Landbou (VL), wat meer as 3 500 kommersiële landbouers in die Vrystaat verteenwoordig, is baie bekommerd oor die toename in oorgrens-misdade wat in boerderygemeenskappe plaasvind. Plase wat geleë is tussen die RSA en die Lesothogrens word veral geteiken.

Op 21 Junie 2020 is John Parr van die plaas Yaxham in die Tweespruit-omgewing, tesame met sy vrou, skoonseun en twee kinders deur 5 gewapende aanvallers aangeval en aangerand. Francois Wilken, President van VL, sê dat VL die insident ten sterkste veroordeel. Die emosionele skade op kinders wat slagoffers is tydens plaasaanvalle moet groter aandag geniet.

Volgens Wilken is die oorgrens situasie nog slegter daaraan toe as voor die staat van inperking.  Die Suid-Afrikaanse Polisie Diens (SAPD) word tans in terme van die Covid-19 pandemie daarvan weerhou om Lesotho binne te gaan op soek na misdadigers wat oorgrens en ernstige geweldsmisdade gepleeg het. Magtiging kan klaarblyklik nie deur Interpol bekom word nie aangesien dit op die hoogste vlak deur die Lesotho-regering geweier word.

Kriminele wat oorgrens opereer buit nou hierdie situasie uit en teiken toenemend boerderygemeenskappe. Dit hou ’n groot bedreiging vir hul veiligheid in. Hierdie situasie kan nie deur VL en boerderygemeenskappe aanvaar word nie.

Gedurende die staat van inperking, het daar meer as 30 oorgrens misdade plaasgevind waar meer as 300 stuks vee gesteel is. Nagenoeg 100 van die gesteelde vee is later by die Caledonrivier teruggevind. Ander ernstige misdade wat vanaf oorgrens gepleeg word, sluit in huisbrake, diefstal van sonpanele, voertuie, trekkers, bale voer en selfs aanrandings deur sekere Basothos op werkers. In die Hobhouse-area was daar gedurende die staat van inperking 2 plaasaanvalle waar werkers aangeval, aangerand en van vee beroof is. Klagtes t.o.v. misdade is van boerderygemeenskappe aangrensend aan Lesotho ontvang. Dorpe sluit onder andere in Clarens, Clocolan, Ficksburg, Hobhouse, Wepener en Zastron.

Die situasie is reeds na Agri SA verwys om dit op die hoogste vlak met die regering op te neem vir spoedige uitklaring.

Die polisie se vermoëns is tans beperk in landelike gebiede en VL doen weereens ‘n ernstige beroep op die polisie om groter kapasiteit beskikbaar te stel veral in die oorgrens areas, sê Tommie Esterhuyse, Vise-President van VL. Groter samewerking tussen die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ter voorkoming van misdade met verskerpte patrollies, is ook versoek. Die toename in oorgrens misdade laat boere geen ander keuse as om reg in eie hande te neem nie, ten einde hulself, hul families en werkers te beskerm en voedselsekerheid te verseker. Dit is immers die krimineel wat ook 3 keer per dag voedsel vanaf die landbouer se plaas eet.

Jakkals le Roux, Voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, het groot lof vir die boere in die Tweespruit en Hobhouse areas uitgespreek vir hulle vinnige reaksie en optrede om die slagoffers by te staan. Die vinnige reaksie en optrede van huisbewoners ten einde in noodweer op te tree teen kriminele optrede van die aanvallers, word ook geloof. Sodanige optrede bevestig net weereens dat ‘n georganiseerde landboustruktuur binne die Landelike Beveiligings Strategie in samewerking met die polisie, onontbeerlik is ten einde aanvallers te stuit en is ‘n duidelike bewys dat waar die strategie geïmplementeer is, misdade saam met die SAPD bekamp word. VL bedank mede-boere vir hul vinnige reaksie en paraatheid en onderneem om hulle en slagoffers by te staan ten einde te verseker dat reg en geregtigheid te alle tye gehandhaaf word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Kommer oor grensmisdaad in die Vrystaat