Sakeliga pak Eskom in hof om dorpe landswyd se krag aan te hou

Sakeliga en Eskom sien mekaar op 20 November in die hof oor elektrisiteitsonderbrekings in plaaslike gemeenskappe.

Sakeliga beoog om met hierdie regsaksie beginsels neer te lê wat Eskom verhoed om, net omdat ’n plaaslike owerheid se rekeninge by Eskom agterstallig is, betalende gebruikers in daardie munisipaliteite se elektrisiteitsvoorsiening te onderbreek.

In die jongste geding, die vierde vanjaar, hervat Sakeliga sy regsaksie teen Eskom in Musina, nadat die Musina Plaaslike Munisipaliteit nogmaals vanjaar in gebreke gebly het om die nodige gelde aan Eskom oor te betaal. Die aksie volg na kennisgewing deur Eskom op 2 November in Musina se plaaslike media dat Eskom beoog om vanaf 19 November elektrisiteitvoorsiening aan Musina te onderbreek.

Meer as 20 dorpe verskyn tans op Eskom se lys vir beplande kragonderbrekings. En vandeesweek nog het Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, by die parlement verslag gelewer dat munisipale skuld aan Eskom vanjaar in ses maande van R13,6 miljard tot R17 miljard toegeneem het. Hierdie is ’n landswye krisis, en om die krag van plaaslike ekonomieë af te skakel, gaan nie die probleem oplos nie. Daarom tree Sakeliga toe om die nodige beginsels te vestig om ’n algemene, werkbare oplossing te vind.

Eskom ontneem betalende gemeenskappe van kragdienste en gebruik as’t ware hierdie gemeenskappe as gyselaars in ’n betaalgeskil met wanbetalende plaaslike munisipaliteite.

Sakeliga benodig die steun van betalende gemeenskapslede, en in die besonder sakelui wat direk deur kragonderbrekings benadeel sal word, om ons saak te versterk. Voltooi ons aanlyn ondersteuningsvorm en stel ons in staat om hierdie hofsaak ook ter wille van jóú gemeenskap einduit te voer.

KLIK HIER: https://www.sakeliga.co.za/brandpunte/houdiekragaan/

Posted on by jonckie

Comments Off on Sakeliga pak Eskom in hof om dorpe landswyd se krag aan te hou