Vrystaat Lanbou Unie spreek grondkwessie by jaarkongres aan

Francois Wilken en Vrystaat Landbou (VL) het tydens die organisasie se jaarkongres hard gepraat oor die grondkwessie. VL se lede het ook hul vertroue in Wilken gestel deur hom vir die volgende twee jaar as President te verkies. Foto: Conrad Bornman / Mediaboer

’n Waterskeidingskongres. Waarskynlik die belangrikste in die geskiedenis van landbou in Suid-Afrika én die Vrystaat. Dis hoe Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL), sy organisasie se jaarkongres beskryf het.

Volgens Wilken is daar “nêrens in die wêreld landbouers wat moet boer onder die druk waarmee Suid-Afrikaanse landbouers te doen het nie”.

Meer as 250 gaste het die kongres, waar grondonteiening sonder vergoeding hoog op die agenda was, op 15 en 16 Augustus 2018 in Bloemfontein bygewoon. Die tema was Terug na ons lede en landbouers kon hul bekommernise met VL deel en debatteer.

Verskeie bekendes soos Dr John Purchase, Hoof Uitvoerende Beampte van Agbiz, Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se besigheidskool, Ivor Price, TV-aanbieder, Dan Kriek, President van Agri SA, en Andries Vermeulen, storieverteller, was teenwoordig.

Vertroue in VL-leiers

Wilken en Tommie Esterhuyse, wat die afgelope jaar as onderskeidelik VL se President en Vise-president waargeneem het, is ook vir ’n volgende termyn van twee jaar verkies.

“Ons gaan nie toelaat dat ons die etiket dra as die skuldiges van alles wat in hierdie land verkeerd gaan nie,” het Wilken gesê. Volgens hom het die regering in baie opsigte gefaal.

“As jy as politikus nie kan doen wat jou kiesers van jou vra nie, moenie die blaam verskuif nie. As jy stemme wil werf, kry dit op die regte beginsels en manier.” Hy meen landbouers sal aanhou hard werk om kos op die tafel te sit.

Volgens hom neem VL kennis van die lys plase, wat moontlik onteien kan word, wat gepubliseer is en sal hy sy lede bystaan. “Ons soek duidelik wat grondtonteiening sonder vergoeding presies beteken? Kom ons spekuleer nie in die media, om die braaivleisvure en op sosiale media nie. Kom ons kry antwoorde.”

Hy het ’n beroep op landbouers gedoen om veral in sulke omstandighede meer betrokke te wees. “As jy wil opstaan en ’n standpunt maak, moenie dit op ’n WhatsApp doen nie. Gaan na jou landbouvereniging toe en as jy só sterk oor ’n saak voel, laat my weet en ons sal dit op die agenda sit. Dan hanteer ons jou punt konstruktief: Ons kom tot ’n besluit en voer hom uit.”

Wilken meen met samewerking en verskeie insette kan die beste oplossings gevind word. “Die tyd is verby wat jy vir my sê jy het nie tyd (om insette te lewer) nie.”

Betaal ledegeld hieroor

Volgens Venter was sy boodskap minder oor politiek en meer oor dink. Hy meen klem moet gelê word op hoekom ’n mens op ’n sekere manier oor goed dink.

“Wat van die politieke geraas is regtig waar? Wat is politieke lawaai en wat is waar? Dit is wat ons moet bepaal,” het hy gesê.

Kriek het aangekondig dat Agri SA, saam met landbouers, uitgenooi is om met die ANC te vergader. “Agri SA sal die Grondwet beskerm. Maak nie saak wat nie,” het hy gesê.

Volgens Kriek, self ’n Vrystaatse landbouer, betaal hy net ledegeld aan een organisasie. “Ek vertrou slegs een organisasie met die toekoms van my plaas, my grond, my eiendomsreg en my ander regte onder die grondwet én dit is Vrystaat Landbou.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Lanbou Unie spreek grondkwessie by jaarkongres aan

Category: Veiligheid Tags :