Toyota doen beroep op inskrywings vir jaarlikse Toyota-droommotor-kunskompetisie

Capture

Is jy jonger as 15 en hou jy daarvan om te teken? Geniet jy dit om jou verbeelding vrye teuels te gee? As jy enigsins JA geantwoord het, is Toyota Suid-Afrika Motors op soek na mense soos jy. Die 9e jaarlikse Toyota-droommotor-kunskompetisie het amptelik geopen en duur nog twee weke tot 16 Maart 2015.

Die doel met die Toyota-droommotor-kunskompetisie is om geleenthede vir kinders regoor die hele wêreld te skep om hul belangstelling in motors aan te wakker en hulle te help om die genot en noodsaaklikheid van lewensdrome te ervaar deur prentjies van hul droommotors te teken. Die kompetisie is deur Toyota se President en Uitvoerende Hoof, mnr. Akio Toyoda, in die lewe geroep toe hy ’n platform wou skep om kinders te leer om die krag van drome en verbeelding in te span ten einde hul belangstelling in motors gaande te maak. Mnr. Toyoda is ten spyte van sy besige wêreldskedule steeds die hoofbeoordelaar in die kompetisie.

“Die Droommotor-kunskompetisie is ’n platform waarmee Toyota by die kinders van Suid-Afrika en die res van die wêreld deur ’n nasionale en internasionale afdeling kan inskakel. Dit stel ons ook in staat om Suid-Afrikaanse talent aan die res van die wêreld te onthul. Ons is baie opgewonde om te sien wat 2015 vir die kompetisie inhou en moedig alle Suid-Afrikaanse kinders aan om hulle in te skryf. Geen droom is te klein nie,” het Glenn Crompton, Vise-President van Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, gesê.

Die kompetisie het in 2004 afgeskop en het ’n dramatiese styging in Suid-Afrikaanse inskrywings ervaar – van net oor die 350 inskrywings in die eerste jaar tot meer as 14 000 verlede jaar. Die kompetisie word een keer per jaar gehou, en Toyota-filiale regoor die wêreld hou nasionale kompetisies in drie ouderdomsgroepe, naamlik jonger as 8, 8 tot 11 jaar en 12 tot 15 jaar oud. Die vyf beste deelnemers wen pryse op nasionale vlak en word daarna vir die internasionale deel van die kompetisie ingeskryf, wat in Japan deur Akio Toyoda beoordeel word.

Vanjaar se tema is “Jou droommotor”. Alle deelnemers wort aangemoedig om hul verbeelding te gebruik en die motor van hul drome te teken. Dit kan ’n motor wees wat kan vlieg, duik en selfs mense red. Geen droom is te klein vir die kompetisie nie. Die kompetisie sal beoordeel word deur ’n paneel wat Toyota Suid-Afrika se kreatiewe span en die skeppendekunsdirekteure van die Johannesburgse advertensie-agentskap FCB insluit.

Inskrywingsvorms sal by skole regoor Suid-Afrika afgegee word. Daarbenewens is alle inligting oor die plakkaat, inskrywingsvorm, vraelys en die reëls sowel as die lys deelnemende skole op die Toyota-webblad by www.toyota.co.za beskikbaar.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota doen beroep op inskrywings vir jaarlikse Toyota-droommotor-kunskompetisie