Wees vroeg gereed en beveilig jou motor vir die lang pad

Dit voel asof dit sommer gister nog Kersfees was, maar ons is al klaar minder as ’n maand van die Paasnaweek af, en Bridgestone raai motorryers aan om hul motors se veiligheidsondersoeke vroeg te laat doen voordat hulle op hul Paasvakansie vertrek.

“Talle motorryers is só vasgevang in ’n dolle gejaag om alles voor die Paasvakansie gereed te kry, dat hulle nooit tyd inruim om seker te maak hul motors sal hulle veilig op vakansie neem en terugbring nie,” het Mandy Lovell, skakelbestuurder van Bridgestone Suid-Afrika, gesê. “Hoekom maak jy nie nou reeds ’n afspraak by jou plaaslike passentrum om jou motor voor die Paasvakansie te laat nagaan nie?” het sy voorgestel.

Die Paastyd is wanneer die vakansie net lank genoeg is om mense toe te laat om gou weg te glip Durban of Drakensberg toe, terwyl die meer gehardes onder ons die pad Kaap toe sal aandurf. Maar aangesien die meeste mense hul voertuie waarskynlik drie of vier maande gelede laas – voor die Desember-vakansie – laat nagaan het, kan dit maklik wees om goedjies wat intussen verkeerd kon gegaan het, mis te kyk.

Die bande kon byvoorbeeld sedertdien ’n bykomende ses- tot tienduisend kilometer afgelê het, wat beteken die bande se loopvlakdiepte wat die vorige keer in Desember nog ’n ‘grensgeval’ was, kan nou in só toestand wees dat dit summier vervang moet word. Onthou net omdat die bande nie heeltemal by die minimum wettige perk is nie, dit nie beteken hulle sal in ’n skielike reënbui veilig wees nie – enige band met mindert as 3 mm se oorblywende loopvlak sal in die algemeen teen tipiese ooppadsnelhede water nie vinnig genoeg uit die pad kan verplaas om te verhinder dat die motor bo-op die water gly wanneer dit sopnat is nie.

En wat van jou remme? Hoe ver was hulle al voor Kersfees afgeloop, en hoeveel het hulle sedertdien verweer? Laat ’n spesialis daarna kyk! Dieselfde geld die skokbrekers. Wanneer hulle begin verslap, gebeur dit gewoonlik baie stadig sodat ’n mens dit nie agterkom totdat dit eendag skielik nodig is om hard te rem of uit te swaai nie, en dan is dit te laat as die motor skielik nie reg hanteer nie. Laat ’n kenner eerder daarna kyk as wat jy op die harde manier uitvind hulle is gedaan.

Moet ook nie die ruitveërlemme vergeet nie – hulle verweer baie vinnig in Suid-Afrika se warm klimaat. Maart is steeds donderstormtyd aan die hoëveld, of moontlike vroeë reëntyd in die winterreënvalstreke regoor die land, en sulke reën is gewis nie die tyd om uit te vind jou motor se ruitveërs is só verweer dat hulle nie meer die skerm kan skoonvee nie.

Natuurlik is daar ook daardie ander goed waarvan ’n mens gereeld vergeet, soos die batterywater as jou motor se battery nie ’n verseëlde eenheid is nie, die windskermwasserbottel wat volgemaak moet word, en om seker te maak alles onder die enjinkap is nog in orde – veral dryfbande, verkoelervloeistof, enjinolie en die remvloeistof.

“Dit is nie duur om hierdie basiese veiligheidstoetse te laat doen nie,” het Lovell gesê. “Dit is werklik die moeite werd om ’n spesialis te vra om nou daarna te kyk terwyl daar nog baie tyd voor die vakansie oor is,” het sy gesê. “Meer as 200 mense is in die 2012-Paasnaweek op Suid-Afrika se paaie dood – maak seker jou naam kom nie op die 2013-lys nie,” het sy gesê.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Wees vroeg gereed en beveilig jou motor vir die lang pad