Rokende wegspring vir Bridgestone 2012-bandeveiligheidspeiling

Photo by Denese Lups/ Phototalk

― Motorryers ernstig oor bande-veiligheid ―

Bridgestone se voortgesette Bandeveiligheidsondersoekprojek het die begin van die 2012-ondersoekseisoen gevier deurdat dié vervaardiger die hoogste persentasie bande met die regte druk tot nog toe op een enkele plek aangeteken het. Dié nuwe maatstaf is in die eerste Veiligheidsondersoekbyeenkoms van die jaar, wat in Februarie in samewerking met Pick n Pay in die parkeerterrein van die Carnival-sentrum in Benoni gedoen is, opgestel.

Die peiling is gedoen deur Bridgestone-bandespesialiste wat elke band wat hulle getoets het, as ‘goed genoeg’ (banddruk tussen 180 kPa en 290 kPa), ‘gevaarlik’ (onder 180 kPa maar hoër as 150 kPa) of ‘uiters gevaarlik’ (onder 150 kPa of hoër as 290 kPa) geklassifiseer het.

“Altesaam 1 132 bande van 283 voertuie is by Carnival ondersoek,” het Bridgestone se skakelbestuurder, Mandy Lovell, gesê. “Ons was baie in ons skik om te sien dat 95 persent van die bande wat in die peiling ondersoek is, in die kategorie ‘goed genoeg’ geval het, terwyl net een persent in die ‘gevaarlike’ kategorie, en vier persent in die ‘uiters gevaarlike’ kategorie geval het,” het sy bygevoeg. “Twee van die drie afdelings het ook nuwe rekords vir banddruk by een ligging opgestel.”

Lovell het gesê die 95 persent van bande wat as ‘goed genoeg’ geklassifiseer is, is ’n dramatiese sprong teenoor die vorige rekord van 88 persent, wat een keer in 2009 en weer in 2011 geëwenaar is. Die nuwe rekord vir die ‘gevaarlike’ afdeling was ook ’n groot verbetering teenoor die vorige rekord van vyf persent, wat in twee verskillende veiligheidsondersoeke in 2011 aangeteken is. Die rekord vir die ‘uiters gevaarlike’ kategorie bly egter op drie persent en is in ’n peiling wat in 2009 in Durban gehou is, aangeteken.

Die Bandeveiligheidspeiling is nou al ses jaar aan die gang en die peilings sluit omvattende interaksie met voertuigeienaars in, wat die verspreiding van inligtingsbrosjures oor bandeveiligheid insluit. Die ondersoekspan het benewens die bandedrukdata wat versamel is, ook vasgestel dat drie persent van die bande wat by die Carnival-winkelsentrum ondersoek is, minder as die wettige loopvlak of ander noodlottige foute soos snye of blase gehad het.

Lovell het gesê dat die voortgesette aard van die landwye bandeveiligsheidspeiling-program beteken het dat dit moontlik was om langtermyn-neigings oor die toestand van bande en banddruk te bepaal. “Ons het gereeld tot aan die einde van 2008 meer as 20 persent van die bande wat in ’n peiling ondersoek is, gekry wat só erg afgeloop of beskadig was dat hulle eintlik summier vervang moes word. Dié syfer het aan die einde van 2009 tot nagenoeg 10 persent gedaal.
Maar van 2010 af wissel dit tussen drie tot ses persent, wat nou die maatstaf is,” het sy verduidelik. “Ons het elke jaar ’n stadige dog bestendige verbetering ervaar.”

Lovell het ook gesê dat die verbetering in banddrukakkuraatheid en die toestand van bande in die algemeen beteken dat motorryers minder gevaar loop om aan noodtoestande weens bandeprobleme blootgestel te word. “Onbehoorlike banddruk en swak bande is die grootste oorsaak van bande wat bars of onklaar raak,” het sy gesê. “Bridgestone wil graag die motorryers wat aan die peiling by die Carnival-sentrum deelgeneem het, bedank en hulle prys vir die feit dat hulle bandeveiligheid ernstig opneem,” het sy afgesluit.

Besoek gerus ook die volgende skakels:

Jou versekering mag weier om te betaal as gladde bande die ongeluk veroorsaak

Tyres and Road Safety

Meet van loopvlak op band

Posted on by jonckie

Comments Off on Rokende wegspring vir Bridgestone 2012-bandeveiligheidspeiling