Jou versekering mag weier om te betaal as gladde bande die ongeluk veroorsaak!

Indien jy bestuur met gladde bande is jy nie net besig om jou eie en ander lewens in gevaar te stel nie, maar heel moontlik ook besig om jou versekeringspremies verniet te betaal! Het jy geweet dat jou versekering net dekking verleen wanneer jou voertuig padwaardig is en jou bande in behoorlike toestand is?

‘n Bekende tydskrif het verlede week ‘n paar vrae gerig aan die Arrive Alive webtuiste met betrekking tot die belangrikheid van veilige bande. Een van die vrae was juis of dit korrek is dat  versekeringsmaatskappye mag weier om ‘n uitbetaling te doen waar die versekerde voertuig met gladde bande bestuur is.

Hierdie was die beslissing van die Ombudsman in 2003 en ons kan dit verduidelik aan die hand van ‘n werklike voorbeeld:

Voorbeeld van versekeringseis na ongeluk met gladde bande

Die versekerde het bestuur op die M3 hoofweg vanaf Cavendish Square in Claremont, Cape Town, na sy huis in Vishoek.

Net voor die Tokai afrit het daar na bewering ‘n dronk voetganger gestrompel oor die pad. Die versekerde het uitgeswaai, remme aangeslaan maar kon nie daarin slaag om die botsing te voorkom nie.

Die versekeraar het geweier om die versekeringseis te betaal aangesien die loopvlak op beide die agterste bande nie voldoen het aan die vereiste standaarde vir padwaardigheid nie. Die AA het ook bevestig dat die agterste bande nie voldoen het aan die vereiste standaarde vir loopvlak nie.

Die Ombudsman se beslissing

Die versekeringspolis het duidelik stipuleer dat die dekking verleen word op voorwaarde dat die voertuig te alle tye voldoen aan die standaarde van padwaardigheid. Dit is duidelik dat die bande nie voldoen het aan hierdie standaarde nie. Die versekeraar se besluit is nie net gegrond in die polisvoorwaarde nie maar ook op grond van die feit dat die skade verminder kon wees indien die bande in ‘n goeie toestand gehou is. Die ombudsman het beslis dat die versekeraar korrek was om die eis van die hand te wys.

Dit is egter belangrik om ook te meld dat hierdie nie ‘n sleutelgat skep vir versekeraars om aanspreeklikheid te ontduik nie. Die versekeraar sal steeds moet aantoon dat dit die gladde bande was wat die ongeluk veroorsaak het en dat die ongeluk nie sou plaasvind indien die bande in behoorlike toestand was nie.

Vir meer oor hierdie onderwerp besoek ook hierdie skakels in Engels:

Car insurance might not cover accidents with smooth tyres on your car!

What is the causal link required before a car insurer can reject your claim?

Gevolgtrekking

Die vereiste van padwaardigheid en behoorlike bande op jou voertuig is veel belangriker as bloot om versekeringseise uitbetaal te kry! Dit help niks dat jou versekering ‘n uitbetaling doen maar jy sit in ‘n rolstoel of het ‘n geliefde in ‘n motorongeluk verloor nie! Maak seker dat jy te alle tye behoorlike beheer oor jou voertuig kan uitoefen en gee jouself die beste geleentheid om behoorlik te reageer in ‘n gevaarsituasie op die pad!

Posted on by jonckie

Comments Off on Jou versekering mag weier om te betaal as gladde bande die ongeluk veroorsaak!