Afrikaanse versekeraar ploeg versekeringspremies terug in Afrikaanse onderwys

Studente afgeneem by Varsitybeker Rugby deur James Loretz

Virseker, die Afrikaanse korttermynversekeringsproduk, gaan R1 miljoen aan die Rapport Onderwysfonds (ROF) skenk.

Die doel van die skenking is om Afrikaanse onderwysers, spesifiek wiskunde- en wetenskaponderwysers, op te lei. Vir elke Virseker-polis wat verkoop word, word ’n bedrag aan die Virseker Trust geskenk wat daarop gerig is om Afrikaanse opleiding te bevorder.

Virseker en Rapport Onderwysfonds [ROF]

Die Trust is ’n vennootskap tussen Virseker en die Rapport Onderwysfonds (ROF).

“Die Virseker Trust se visie is om ’n bydrae te lewer om die tekort aan Afrikaanse wiskunde- en wetenskaponderwysers binne 10 jaar uit te wis,” sê dr. Dirk Hermann, voorsitter van die Virseker Trust.

“Kinders wat wiskunde en wetenskap op matriekvlak neem, het meer geleenthede as ander leerlinge om verder te studeer en om tot die arbeidsmark toe te tree.

“Goeie wiskunde- en wetenskaponderwysers is nodig sodat meer kinders wiskunde en wetenskap op matriekvlak deurkom.

“Ons maak deur dié fokus nie net ’n verskil in kinders se lewe nie, ons help om die ekonomie te voorsien van mense met broodnodige wiskunde- en wetenskapvaardighede wat tot groei en werkskepping bydra,” sê Hermann.

Voordele van Versekering deur Virseker

Volgens dr. Leon Vermaak, uitvoerende hoof van Auto & General, die moedermaatskappy van Virseker, kry ’n mens eerstens diens in Afrikaans as jy jou korttermynversekering na Virseker skuif.

“Tweedens help jy om Afrikaans weer ’n stewige vastrapplek in die ekonomie te gee.

“Laastens help jy ’n kind om in Afrikaans te studeer.

“Virseker help dat jy, deur jou polis, ’n verskil maak. Jou Virseker-polis beteken ’n glimlag op ’n kind se gesig,” sê Vermaak.

Ingevolge die vennootskap tussen Virseker en die ROF sal Virseker ’n minimum bedrag van R1 miljoen aan die ROF skenk.

Na gelang van die aantal polisse wat verkoop word, kan die bedrag selfs hoër word. Virseker het ook ooreengekom dat ’n bykomende bedrag van R500 per polis wat deur ’n spesifieke SMS-nommer verkoop word aan die ROF geskenk sal word.

Lesers kan ’n gratis kwotasie by Virseker kry deur die woord Virseker na 43261 te SMS.

Elke polis wat uit hierdie kwotasies verkoop word, sal help om nog ’n kind te laat studeer.

[Inligting van Rapport]

Posted on by jonckie

Comments Off on Afrikaanse versekeraar ploeg versekeringspremies terug in Afrikaanse onderwys