Weet jou naasbestaandes of jy veilig is?

Arrive Alive het op 26 Maart 2017 die volgende getweet: “Notify your loved ones the moment you arrive alive.”

Die skoolvakansie en die Paasnaweek is om die draai en ongelukkig is dit ook die tyd waar baie motorvoertuigbotsings plaasvind. Mense word in baie gevalle ernstig beseer en paramedici moet skarrel om lewensreddende inligting tydig te bekom.

CrisisOnCall se identifikasie-bandjie kan help met vinnige lewensbelangrike inligting terwyl die reismoniteringsdiens seker kan maak dat die reis veilig verloop.

Hoe werk die reismoniteringsdiens?

Reisende lede en/of hul gesinne word met gereelde intervalle geskakel om vas te stel of die reis steeds spoedig verloop. Indien die reisende persoon nie kontak maak nie word interne en eksterne aksies geneem om die lid te soek. ʼn Nuwe gedeelte kom nou by waar die reisende persoon ʼn naasbestaande kan nomineer wat deur CrisisOnCall ingelig sal word wanneer die reis veilig voltooi is.

Hierdie diens is ook baie belangrik by skooltoere waar die onderwyser geskakel word en die ouer ingelig word wanneer die kind se bus die eindbestemming bereik het. Ons neem dus ʼn groot bekommernis weg van die ouers wanneer hul kinders op sporttoere gaan.

Hier volg twee dankie briewe van gelukkige lede:

Gerieflike Reismonitering

Op die 22 Oktober het ek ‘n “Please Call Me” gestuur vir reismonitering. ‘n Baie vriendelike en hulpvaardige dame het my terug geskakel en al die besonderhede by my gekry. Ek het haar ook gevra dat ‘n persoon my elke uur moet skakel totdat ons veilig in Ermelo by my dogter aangekom het. Gedurende ons rit van 4 ure het ‘n baie vriendelike Deon Carstens ons elke uur gebel en uitgevind of ons nog veilig en voorspoedig reis. Op die 27 Oktober het ons terug gereis vanaf Ermelo na Rustenburg en weer het ons sulke vriendelike diens gekry.

Ek is ‘n nuwe lid en wil u net baie bedank vir u vriendelike en hulpvaardige diens wat aan ons gelewer is. Dit is ‘n riem onder die hart om te weet daar is nog mense en ‘n organisasie wat sulke vriendelike diens lewer. Met sulke vriendelike en hulpvaardige mense sal ek nog lank ‘n lid van CrisisOnCall wil bly.

Nogmaals baie dankie vir u vriendelike en hulpvaardige diens. Ek en my vrou, Joy, waardeer dit opreg baie. – Nico Pietersen.

Ompad Spaar Tyd Met Reismonitering

Ons wil graag ons dank betuig aan CrisisOnCall wat ons so mooi bygestaan het met reismonitering van Rustenburg na Durban en weer terug. Ons was twee vroue en twee klein kindertjies in die voertuig. Met ons terugkeer was die N1 gesluit net voor Mooirivier, as gevolg van ‘n ongeluk. Deon het ons daarvan ingelig en gehelp om ‘n alternatiewe roete te neem wat ons verseker baie tyd gespaar het.

Ons is klokslag elke uur geskakel. Telkens moes ons die roete waarop ons is met Deon bevestig sodat hy seker kan maak ons is nog op die regte ompad. Op ‘n stadium was ons weer terug op die N3.

Met die laaste oproep wat hy op die uur gedoen het, het ek hom meegedeel dat ons nog so twintigminute van die huis was. Hy het aanbeveel dat hy ons sal skakel na ‘n halfuur om seker te maak ons is veilig. Fantastiese diens en leker geselskap wat die pad sommer korter gemaak het.

Baie dankie CrisisOnCall. – Daleen Swart

Posted on by jonckie

Comments Off on Weet jou naasbestaandes of jy veilig is?