Drie jong mans sterf in vroegoggend ongeluk in George

Drie jong mans is vanoggend omstreeks 02:30 dood in ‘n motorongeluk in Yorkstraat, George.

Die name van die oorledenes, sal eers môre bekend gemaak word. Die drie jong mans, tussen 22 en 23 jaar, is onderskeidelik van die George-omgewing en een van Paarl.

Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, sê die families van die oorledenes sal môre (Maandag 27 Februarie) die liggame positief uitken en dan eers sal die name bekend gemaak word. Die twee seuns van George is oudleerders van York High.

Die silwer Polo waarin die drie vriende gery het, het glo ‘n randsteen getref en getol waarna dit n lamppaal ook getref het. Die motor het toe een van die geelhoutbome getref en in twee stukke geskeur.

Twee van die mans, wat vermoedelik voor gesit het, is uitgeslinger. Die derde persoon se liggaam was in die agterste gedeelte van die wrak vasgekeer en reddingswerkers moes sy liggaam met meganiese kake bevry.

Al drie is vermoedelik opslag dood.

Pojie sê die George-polisie ondersoek n saak van strafbare manslag.

In nog ‘n noodlottig ongeluk vanoggend omstreeks 05:00 op die N9 naby Herold, is n 21-jarige man in n tref en trap dood. Die man het op een van die plase gewerk en was na bewering onderweg na ‘n buurplaas toe die ongeluk plaasvind.

‘n Verbyganger het op die liggaam in die pad afgekom. Geen voertuie was op die toneel nie.

Die persoon se identiteit sal bekend gemaak word sodra sy naasbestaandes in kennis gestel is. In ‘n afsonderlike voorval is nog ‘n voetganger Vrydagaand op die N2 naby Thembalethu doodgery.

Dit bring die getal sterftes op paaie in en om George vir die afgelope naweek op vyf.

Oudtshoorn Courant

Nuusflits

OUDTSHOORN NUUSFLITS – Die Oudtshoorn-munisipaliteit het pas bevestig een van die jong mans wat gisteroggend in ‘n motorongeluk in George dood is, die seun van Oudtshoorn se munisipale bestuurder, Allen Paulse, is.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die munisipaliteit, was Dino Paulse (22) een van drie persone wat in Yorkstraat in ‘n botsing dood is.

Die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, het sy simpatie aan die munisipale bestuurder en sy familie oorgedra.

“Ons hou die Paulse-familie in ons gebede in hierdie moeilike tyd. Om ‘n kind te verloor is ‘n vreeslike seer om te verwerk en baie moeilik om te verstaan,” het hy gesê.

Dino word oorleef deur sy pa, ma, twee susters en ‘n broer.

Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaap polisiewoordvoerder, het die silwer Polo waarin die drie vriende gery het, glo ‘n randsteen getref en getol waarna dit n lamppaal ook getref het. Die motor het toe een van die geelhoutbome getref en in twee stukke geskeur.

Twee van die mans, wat vermoedelik voor gesit het, is uitgeslinger. Die derde persoon se liggaam was in die agterste gedeelte van die wrak vasgekeer en reddingswerkers moes sy liggaam met meganiese kake bevry.

Posted on by jonckie

Comments Off on Drie jong mans sterf in vroegoggend ongeluk in George

Category: Veiligheid, Voertuig Tags :