Drievoudige oorwinning vir Toyota Gazoo Racing SA in 25ste Sasol-Tydren

 leeroy-poulter-elvene-coetzee-3_1800x1800

  • 1e algeheel vir Poulter/Coetzee (Toyota Yaris S2000)
  • 2e algeheel vir De Villiers/Swan (Toyota Yaris S2000)
  • 3e algeheel vir Botterill/Vacy-Lyle (Toyota Etios S1600)

SABIE, MPUMALANGA – Leeroy Poulter en sy navigator, Elvéne Coetzee, het hul tweede oorwinning in die Suid-Afrikaanse Nasionale Tydrenkampioenskap aangeteken toe hulle in die 25e Sasol-tydren geseëvier het. Hulle het van die groen vlag by die wegspring tot die geruite vlag aan die einde voor gejaag met die enigste uitdaging was dié van hul spanmaats, Giniel de Villiers en sy navigator, Carolyn Swan, in ’n identiese Toyota Yaris S2000-tydrenmotor.

Poulter/Coetzee het die openingsneltrajek van die tydren Vrydag (22 April) gewen en nie een keer hul voorste posisie afgestaan nie. Daarbenewens het hulle alles behalwe twee van die tydren se 14 sneltrajekte ingepalm met De Villiers/Swan wat die ander gewen het.

“Die Toyota Yaris het weer foutloos geloop,” het Poulter by die dienspunt naby Sabie gesê nadat hy sy tweede agtereenvolgende oorwinning in die 2016-tydrenkampioenskap aangeteken het.

“Die enigste benoude oomblik was toe ’n opslagklip ons agtervenster gebreek het, maar ons kon ten spyte van die stof (in die kajuit) voortjaag.”

Intussen het De Villiers/Swan in ’n tweede Toyota Yaris S2000 soortgelyke sneltrajektye as Poulter/Coetzee opgestel. Die enigste uitsondering was in Sneltrajek 12 toe die voormalige Dakar-wenner meer as ’n minuut weens ’n pap wiel naby die einde van die trajek verloor het. De Villiers/Swan was ten spyte daarvan steeds tweede algeheel.

Die Toyota Gazoo Racing SA-renspan is met twee agtereenvolgende dubbele oorwinnings aan die voorpunt van vanjaar se kampioenskap.

In Klas S1600 het die Toyota-staatmaker Guy Botterill en sy navigator, Simon Vacy-Lyle, nie net hul tweede agtereenvolgende klasoorwinning losgejaag nie, maar ook die derde vinnigste tyd algeheel aangeteken, wat hul beste uitslag in hul renloopbaan ‒ derde algeheel – was.

Dit het die Yato Tools-geborgde Toyota Etios-jaers ver voor hul teensanders op die algehele punteleer verhef, wat Toyota gehelp het om skoonskip op die Sasol-tydren se wenverhoog te maak.

Die volgende byeenkoms in die 2016-kampioenskap is die Secunda Motor-tydren wat op 20 en 21 Mei beslis word.

Hierdie byeenkoms was verlede jaar ’n groot gunsteling onder die deelnemers en toeskouers, en dit lyk of dit vanjaar weer die geval wees.

leeroy-poulter-elvene-coetzee-6_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Drievoudige oorwinning vir Toyota Gazoo Racing SA in 25ste Sasol-Tydren