Toyota Gazoo Racing SA onder Top 10 by Dakar 2016 se halfpadmerk

giniel2_stage7_1800x1800 (1)

SALTA, ARGENTINIË – Sneltrajek 7 van die 2016-Dakar het nie net die ren se besoek aan Bolivia afgesluit nie, maar beteken ook die einde van ’n reeks sneltrajekte hoog bo seevlak wat die turbolose V8-petrolenjins van die Toyota Hilux-renvoertuie ernstig benadeel het. Al drie die Toyota Gazoo Racing SA-voertuie is nogtans onder die voorste tien by die 2016-Dakar-ren se halfpadmerk.

Die Dakar-veterane Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz (#301), is ná sewe sneltrajekte vooraan die Toyota-aanslag en is ná nog ’n gesonde vertoning in Sneltrajek 7 in die sesde plek algeheel. Die terugkeer na die laeveldse gedeeltes van Argentinië kon nie gou genoeg aangebreek het nie.

Sneltrajek 7, wat van Uyuni in Bolivia tot by Salta in Argentinië gestrek het, het uit ’n rengedeelte van 336 kilometer tussen Bolivia en Argentinië bestaan, terwyl die hele renbrigade ook weer die grens oorgesteek het. Die tweede deel van die sneltrajek is egter weens oorstromings in die omgewing verkort. Al drie die Toyota Gazoo Racing SA-Hilux-renvoertuie het ten spyte hiervan die oornagtentkamp by Salta veilig bereik.

Die 2016-Dakar was tot dusver ’n gebeurtenisvolle byeenkoms vir Leeroy Poulter en Rob Howie (#319), wie se Hilux op die oomblik sewende algeheel is. Poulter het veral in ’n volwasse jaer ontwikkel wat sy pas kan aanpas en die ren holisties kan beskou. Erge frustrasie het vroeër die oorhand oor hom gekry, maar dié jong jaer het tot dusver in die 2016-Dakar ’n gefokusde ren gehad, hoewel die ren hom reeds ’n paar keer laat struikel en gekniehalter het.

“Die meeste van ons frustrasie is weens die spoed van die turbo-aangejaagde motors hoog bo seevlak, maar ons het ook van tyd tot tyd met die hande in die hare gesit weens stadiger verkeer om ons,” het Poulter gesê nadat hy die eerste helfte van vanjaar se ren kafgedraf het. “Ons is nogtans tevrede met ons posisie onder die voorste tien. Noudat ons weer op ’n laer hoogte is, sal ons hard druk om ’n bietjie tyd in te haal.”

Poulter het die negende vinnigste tyd in Sneltrajek 7 aangeteken ‒ net sewe minute agter die sneltrajekwenner, Carlos Sainz (Peugeot). Hy was net 13 sekondes agter sy Toyota Gazoo Racing SA-spanmaats Yazeed al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk (#305). Al Rajhi was ná die eerste sewe sneltrajekte in die agtste posisie algeheel, en is gretig om die krane in die laaste week van die ren oop te draai.

Die Dakar-deelnemers geniet vandag (Sondag 10 Januarie) ’n rusdag in Salta met die deelnemers wat ’n af-dag het terwyl die diensspanne in snelrat oorskakel.

“Vir ons is daar nie werklik iets soos ’n rusdag nie,” het die spanhoof, Glyn Hall, met hul aankoms by die tentkamp in Salta gesê. “Die manne sal ten spyte van ’n ooppadgedeelte van bykans 20 uur ná Sneltrajek 7 in Bolivia ’n omvattende ondersoek doen en die res van die dag voorkomende werk doen en onderdele en komponente vervang. Ons het gelukkig van die hardwerkendste manne in die bedryf, en ek is seker hulle sal hulle behoorlik van hul taak kwyt.”

Die deelnemers durf ná die rusdag nog ses sneltrajekte aan waarna die ren op 16 Januarie in die Argentynse stad Rosario eindig. Ses sneltrajekte van die Dakar-ren kan egter ’n beduidende invloed op die uitslag hê, veral wanneer die eerste sandduine van die 2016-Dakar aan die beurt kom.

Sneltrajek 8, wat 393 kilometer behels, sal ’n gedugte uitdaging wees, maar dit is Sneltrajek 10 van Belén tot La Rioja wat baie kenners voel die keerpunt van die ren kan wees danksy sy massiewe sandduine en lang hellings.

Die komende week hou vir die Toyota Gazoo Racing SA-renspan groot belofte in wanneer die ren na meer hanteerbare hoogtes bo seevlak terugkeer. Navigasie sal ’n al groter rol speel, en die span sien uit na die nuwe uitdagings van die volgende sneltrajekte.

giniel3_stage7_1800x1800

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Gazoo Racing SA onder Top 10 by Dakar 2016 se halfpadmerk