Drama to Sneltrajek 9 van die 2016-Dakar-veldtydren verkort word

stage-9_service2_880x500

BELÉN, ARGENTINIË – Uiterste hitte wat kort by die 50 grade Celcius gedraai het, het Sneltrajek 9 van die 2016-Dakar-veldtydren gister (Dinsdag 12 Januarie) geteister. Die skof is as gevolg daarvan tot net ’n skrale 90 kilometer vir die motors en vragmotors verkort, terwyl die motorfietsjaers die volle 285 kilometer afgelê het. Die verkorte sneltrajek het vir die Toyota Gazoo Racing SA-renspan weer gemengde sukses opgelewer, en die Dakar-veterane Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, het die beste van die Toyotas gevaar.

Sneltrajek 9, wat ’n sirkelroete oor 285 kilometer oor talle sandduine naby Belén in Arnetinië moes wees, was duidelik baie meer geskik vir die V8-aangedrewe Toyota Hilux-renbakkies. De Villiers en sy spanmaats, Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, het met vlieënde vaandels weggespring. Trouens, Poulter het by die eerste navigasiepunt tot net twee sekondes agter die voorjaer opgeskuif.

“Dinge het egter ongelukkig van toe af nie volgens plan verloop nie,” het Poulter gesê nadat hulle by die oornagtentkamp aan die einde van die verkorte sneltrajek aangekom het. “Ons het vir ’n oomblik gehuiwer toe ons ’n moeilike skeurvallei bereik het. Ons het oral rompstukke van ’n Peugeot sien rondlê, en was as gevolg daarvan oorversigtig.”

Poulter/Howie (#319) het heelwat tyd in die vallei verloor voordat hulle hul pad versigtig met die roete langs gevind het. Hulle het twee pap wiele opgedoen, en die eindpunt uiteindelik in die elfde plek vir die dag gehaal ‒ net meer as 16 minute agter die sneltrajekwenner, die Peugeot-jaer Carlos Sainz. Die gevolg is dat Poulter/Howie op die algehele uitslae tot sewende algeheel teruggesak het ‒ net minder as twee minute voor hul spanmaats Yazeed al Rajhi en sy navigator, Timo Gottschalk (#305).

Al Rajhi/Gottschalk was agtste in die sneltrajek en 9:38 agter Sainz.

Hulle het ook goed weggespring, maar gesukkel om die eerste navigasiepunt te kry en bykans 13 minute vroeg in die sneltrajek verloor. Hulle het egter goed teruggeveg om die skade te beperk, en is nou in die sesde plek algeheel.

Die vertoning van die dag het egter aan De Villiers/Von Zitzewitz (#301) behoort nadat hulle die vorige dag teleurstellend swak in Sneltrajek 8 gevaar het. Hulle het in Sneltrajek 9 goed herstel en die pap dik aangemaak, en was ten spyte van ’n pap wiel halfpad deur die sneltrajek die vierde vinnigste vir die dag, maar net 38 sekondes agter Sainz. Dit het hulle die vyfde plek algeheel laat inneem met nog vier sneltrajekte oor.

“Die terrein in Sneltrajek 9 was uiters rof,” het die spanhoof, Glyn Hall, in Belén gesê. “Ons is baie tevrede dat al drie ons motors foutlose verrigting gehad het, en is trots daarop dat die Toyota Hilux so betroubaar is.”

Al drie die span se motors het ná Sneltrajek 9 nuwe dryfasse gekry ter voorbereiding op wat waarskynlik die deurslaggewende sneltrajek van die 2016-Dakar gaan wees. Sneltrajek 10 neem die deelnemers deur die berugte sandduine in Fiambalá oor ’n afstand van 278 km. Dit word gevolg deur ’n lang ooppadgedeelte van oor die 400 km tot by die stad La Rioja.

Die Dakar het nog vier sneltrajekte, waarna die byeenkoms Saterdag 16 Januarie in die Argentynse stad Rosario eindig. Soos dinge nou ná Sneltrajek 9 staan, word die drie Toyota Gazoo Racing SA-Toyota Hilux-renbakkies deur net tien minute en sewe sekondes van mekaar geskei, en hoewel die span steeds hard baklei om plekke in die algehele uitslae op te maak, is die binnestryd duidelik hard aan die woed. De Villiers is op die oomblik voor, maar sy spanmaats blaas in sy nek, wat in die laaste vier sneltrajekte gewis vir ’n interessante stryd sal sorg.

Posted on by jonckie

Comments Off on Drama to Sneltrajek 9 van die 2016-Dakar-veldtydren verkort word