RAV4 word hersien en verfris

Rav4Sedert die bekendstelling van die oorspronklike RAV4 in Suid-Afrika in 1995 (dit is moeilik om te glo dat dit al langer as 20 jaar is) het dié gewilde Toyota-model wat die nutsmotor-omwenteling begin het, reeds drie modelvernuwings ondergaan.

Die vierde geslag van die RAV4 is in April 2013 in Suid-Afrika bekend gestel, en was van meet af aan uiters gewild onder plaaslike kopers en het die kompakte Toyota-sportnutsvoertuig se markaandeel aan die einde van daardie jaar van 3 tot 7 persent vergroot.

Sy markaandeel het sedertdien tot ’n gesonde 12 persent gestyg, wat die RAV4 die algehele voorverkoper in die mark vir klein sportnutse maak.

Meer as 5,5 miljoen van die vier geslagte van die RAV4, wat in meer as 150 lande beskikbaar is, is al verkoop, en die model is nou hersien en verfris om sy suksesverhaal in die groeiende mark vir klein sportnutse en nutsmotors voort te sit.

Die jongste model is met die onthulling van die eerste RAV4-hibriedmodel by die New Yorkse Internasionale Motorskou in April vanjaar, wat met die aankondiging oor die koms van die nuwe RAV4-reeks saamgeval het, vertoon.

Die plaaslike modelreeks is in Maart verlede jaar met die bekendstelling van ’n splinternuwe D-4D-dieselmodel van 2,2 liter en ’n outomatiese sesgang-transmissie en hoërvlak-VX-toerusting uitgebrei.

’n Nuwe raakskerm-multimediastelsel met ergonomies verbeterde kontroles en ’n hoëresolusie-skerm met vier keer meer beeldpunte (pixels) is terselfdertyd vir die hele reeks beskikbaar gestel.

Hersiene buite-stilering

Die RAV4 het in sy jongste vorm ’n slanker, meer gekunstelde voorkoms. Sy nuwe voorkant-ontwerp met die eerste ligdiode-kopligte in die reeks, sorg vir ’n baie sterker teenwoordigheid op die pad. ’n Kernelement van die nuwe ontwerp is die nuwe neus met ’n groter Toyota-kenteken wat in die boonste sierrooster aangetref word.

Die lyne van die sierrooster is vereenvoudig en afgerond, en die toevoeging van chroom-detail gee die kompakte sportnuts ’n stewiger voorkoms. Die nuwe drumpelpanele bied ’n meer vloeiende voorkoms terwyl ligdiode-kombinasieligte en hersiene buffers meer klem op die RAV4 se houding op die pad lê.

’n Elegante stertligontwerp wat ook ligdiodeligte sonder sigbare truligte gebruik, kikker die agterkant op terwyl die nuwe vorm van die onderste deel van die stertdeur en -beslag die RAV se stewige houding versterk.

Die agterste buffer het ’n groter geverfde oppervlak en hersiene weerkaatsers sowel as ’n stylvolle haaivin-lugdraad en onderkantbeskerming wat die RAV4 se teenwoordigheid op die pad net nog verder versterk.

Die buitekant-verbeterings word in al die modelle deur nuwe allooisierwielontwerpe afgerond, met verskillende style vir elke weergawe van die reeks: die 17”-wielontwerp vir die GX het nou gesplete speke, terwyl die 18”-ontwerp vir die VX-modelle verfyn is en dunner speke het om gehalte en sterkte te weerspieël.

Die voertuig is met ’n keuse van agt rompkleure beskikbaar, waaronder die nuwe Pure Blue Metallic en Dark Red Mica Metallic. Die ander kleure is Glacier White, White Pearl, Satin Silver Metallic, Graphite Grey, Inferno Metallic en Bronze Metallic.

Glenn Crompton, Vise-President van Bemarking vir Toyota SA Motors, is vol lof vir die nuwe verbeterde modelreeks. “Die RAV4 is die laagste intreepunt onder sy belangrikste mededingers en klop die res van die mark al die afgelope 18 maande wat verkope betref. Ons verkoop op die oomblik sowat 440 eenhede gemiddeld per maand en sal graag ons posisie as voorlopers in hierdie segment met die verfrisde model wil versterk.

“Dit is Toyota se verbintenis om sy produkte voortdurend te verbeter, gekoppel aan klante se entoesiastiese vraag, wat tot hierdie opgradering van die baie gewilde vierde generasie RAV4 gelei het.

“Toyota het sy omvattende ervaring hiermee goed benut. Die nuwe model het nie net op die gebied van stilering verbeter nie, maar ook wat binneruim-gehalte betref, terwyl die groter gerief en meer veiligheidseienskappe daartoe sal bydra dat die RAV4 sy voorste posisie in die mark vir klein sportnutsvoertuie behou,” sê Crompton.

Hersiene binneruim-stilering

Die hooffokus van Toyota se ingenieurs in die jongste opgradering van die RAV4 was die gehaltegevoel van die binneruim. Die beligting, materiale en uitleg van die ratkierie-omgewing en bekerhouers is alles hersien en verbeter. ’n Bergruimte vir ’n sonbril is in die oorhoofse binnebeligtingshulsel bokant die windskerm ingeruim.

Die tekstuur van die afwerking is meer onderskeidend, terwyl die instrumente verbeter is met die toevoeging van ’n inligtingskleurskerm van 4,2” waarin inligting vir energieverbruik en ander voertuiginligting vertoon en voorsiening vir bybehore gemaak word.

Dit word met die 7”-Toyota-raakskerm-multimediastelsel met ergonomies verbeterde kontroles en ’n nuwe hoëresolusie-skerm vir helderder, skerper beelde ingeskakel.

Die pakket sluit Bluetooth-werking vir handvrye selfoonoproepe, ’n trurat-kamera, voertuig-inligting soos ritdata en klimaatbeheer, en die beheer van verstellings om die deure te sluit en die ligte te beheer, in. Dit maak ook eenvoudinge verbinding met toestelle soos ’n iPod of MP3-speler deur USB- op Bluetooth-verbinding moontlik. Verstellings vir die klankstelsel, soos vir die radio en CD-speler, kan ook deur die skerm beheer word.

Die skouergedeelte van die voorste deurbeslag is sagter gemaak, terwyl geriefstoerusting die volgende insluit: Voorkant-sonar (VX-modelle) met ’n waarskuwingsgonser en trumonitor (nuut vir die GX-modelle) en gidslyne (net in die VX-modelle), ’n aanvullende 12V-kragsok in die agterkant (al die modelle), en kopligte wat outomaties gelyk verstel (aangepas van handwerking in die GX-modelle).

Nuwe veiligheidstoerusting sluit in outomatiese sluiting vir die deure wat teen ’n sekere voertuigspoed inskop, outomatiese sitplekgordel-terugtrekkers vir die agterste middelsitplekke, sleepwaswaaibeheer en ’n alarmstelsel vir die GX-modelle.

Rav 4 2

 

Beslag en toerusting

Die RAV4 se toerusting (GX en VX) is aansienlik verhoog. Die GX-modelle is goed geposisioneer danksy toerusting soos ligdiode-kopligte en ligdiodes in die stertligte, modderklappe voor en agter, dakspore, outomatiese gelykverstelling vir die kopligte, 18”-allooisierwiele en dagligryligte (DRL).

Aan die binnekant sluit die GX-toerusting elektries beheerde vensters, afstand beheerde sentrale sluiting en outomatiese deursluiting, hand beheerde klimaatbeheer, multi-inligting-vertoonskerm, oprol-bagasiebakseiltjie met ’n netafskorting sowel as parkeerhulp (PDC) in, om maar net ’n paar te noem.

Toerustingveranderings: GX

Binneruim

  • Outomatiese gelykverstelling vir die kopligte
  • Oorhoofse konsole
  • Drievoudige verbinding vir aanvullende toerusting
  • Trurat-monitor

Buitekant

  • Chroomdetail op sierrooster
  • Ligdiode-kopligte
  • Ligdiode-ligsamestelle
  • Modderklappe voor en agter

Veiligheid en sekuriteit

  • Outomatiese deursluiting
  • Alarm
  • Sleepwaswaai-beheer

Die VX vul dit alles aan met volledige leerbekleedsel, elektries verstelbare bestuurdersitplek met laerugsteun, sitplekverwarmers vir voorste sitplekke, outomatiese dubbelsone-klimaatbeheer, truratkamera met gidslyne, parkeerhulp, elektriese werking vir die stertdeur, spoedbeheer en sleutellose toegang in.

 Rav 4 4

Toerustingveranderings: VX

Binneruim

  • Truratmonitor met gidslyne
  • Oorhoofse konsole
  • Drievoudige verbinding vir aanvullende toerusting

Buitekant

  • Chroomdetail op sierrooster
  • Ligdiode-kopligte
  • Ligdiode-stertligligsamestelle
  • Parkeersensors voor

Veiligheid en sekuriteit

  • Sleepwaswaai-beheer
  • Outomatiese deursluiting
  • Driepunt-sitplekgordel in die middel agter

Veiligheidstelsels

Die vyfster-gegradeerde RAV4 is toegerus met sweepslag-beskermende sitplekontwerp en sewe lugsakke as standaard-toerusting, wat ’n knie-lugsak vir die bestuurder en dubbelfase kantlugsakke vir die voorste sitplekke insluit.

Aktiewe veiligheidstelsels sluit sluitwerende remme (ABS) met remkragverdeling (EBD), noodremhulp (BA), voertuigstabiliteitsbeheer (VSC) en kloubeheer (TRC) in, terwyl die modelle met aandrywing deur al vier wiele (AWD) ook VSC+ het wat VSC en die voertuig se elektriese kragstuur (EPS) inkorporeer.

Petrol- en diesel-enjins

Die kragbronne wat in die jongste RAV4-reeks ingespan word, bly dieselfde. Dit behels soos voorheen ’n tweeliter-Valvematic-petrolenjin van 107kW in tweewielaandrywingsformaat met ’n keuse van ’n sesgang-handratkas of Toyota se uiters gevorderde outomatiese Multidrive S-transmissie wat bestuurders van sportiewe sekwensiële sewegang-werking voorsien.

Die 110kW-D-4D-dieselenjin van 2,2 liter is aan ’n sesgang-handratkas (of sesgang-outoratkas) en aandrywing deur al vier wiele gekoppel, en die 132kW-VVT-i-petrolenjin van  2,5 liter aan ’n outomatiese sesgang-transmissie en aandrywing deur al vier wiele.

Enjin kW Aandrywing Transmissie CO2 (g/km)
2.0 Valvematic 107 / 6200 2WD 6MT 179
2.0 Valvematic 107 / 6200 2WD CVT 173
2.2 D 110 / 3600 2WD 6MT 149
2.2 D AWD 110 / 3600 AWD 6AT 172
2.5 VVT-i 132 / 6000 AWD 6AT 198

 

Rav 4 3

Die RAV4 maak gebruik van Toyota se gevorderde aandrywing deur al vier wiele, Dynamic Torque Control AWD. Die stelsel gebruik inligting van verskillende sensors (spoed, stuurhoek en draaibeweging) en beheer die wringkrag-oordrag tussen die voor- en agterwiele deur ’n elektromagneties beheerde koppeling voor die agterste ewenaar.

Die voor-agter-wringkragverdeling kan van 100:0 tot 50:50 wissel, terwyl voorwielaandrywing (100:0) outomaties onder gewone rytoestande in werking is om brandstofverbruik te verbeter.

Die jongste RAV4 het ook ’n gevorderde hoëspoed interaktiewe bestuurstelsel om die beheer van die Dynamic Torque Control AWD, voertuigstabiliteitsbeheer en elektriese kragstuurstelsel te koördineer om verrigting, hantering en veiligheid in alle rytoestande te bevorder.

Pryse

Die voorgestelde pryse vir die nuwe RAV4 wissel selfs met die magdom toerusting en verbeterings van R327 700 vir die intreevlak-2.0 GX tot R487 400 vir die vlagskip-2.2 D-4D VX outo, is daarop gemik om die voertuig bekostigbaar in sy segment te hou.

RAV4 2.0 GX-handrat                                    –           R327 700

RAV4 2.0 GX-CVT                             –           R338 800

RAV4 2.2D GX-handrat                      –           R409 900

RAV4 2.5 AWD VX 6-gang-outo        –           R457 000

RAV4 2.2D AWD VX 6-gang-outo     –           R487 400

Die nuwe RAV4 word gedek deur ’n fabriekswaarborg van drie jaar/100 000km en diensplan van vyf jaar of 90 000km. Die nuwe modelle word ook gesteun deur die ToyotaCare-padhulpdiens wat klante van permanente padhulp verseker en algehele gemoedsrus bied.

Posted on by jonckie

Comments Off on RAV4 word hersien en verfris