Toyota neem voorste posisie in stryd om voertuigverkope vir Augustus

 Hilux Legend

 

  • Toyota die topverkoper in Augustus
  • Hilux steeds Nommer 1 vir die jaar tot nou
  • Uitdagende verkoopsomgewing gesteun deur sterk vraag na uitvoer

 

Marksegment Augustus 2014 Augustus 2015 %-verandering
Passasiersvoertuie 37 843 34 885 -8,5%
Ligte handelsvoertuie 14 940 13 781 -8,4%
Medium handelsvoertuie 1001 889     -12,6%
Swaar handelsvoertuie 504 393 -28%
Ekstraswaar handelsvoertuie 1217 1015 -19,9%
Busse 105 92 -14,1%
Uitvoer 24 989 28 069 12,3%
Algehele mark (plaaslik) 80 599 79 124 -1,9%

 

Die Toyota Hilux is steeds Suid-Afrika se topverkoper-voertuig vir die jaar tot nou, en het sy naaste teenstander danksy nog indrukwekkende verkope in Augustus met 156 eenhede oortref. Dié geharde dubbeldoel-werkesel het die afgelope maand ook ’n beduidende mylpaal gehaal deur die naasbeste verkope (2 449) vir ’n enkele model aan te teken.

 

Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Toyota Suid-Afrika, het gesê die Hilux is ’n Suid-Afrikaanse sowel as ’n wêreldwye suksesverhaal waarvan meer as 16 miljoen eenhede al regoor die wêreld verkoop is.
“Die Hilux is ’n ou gunsteling in Suid-Afrika, en meer as een miljoen van hulle het al ’n tuiste hier gekry. Die voertuig is nou nog gewilder as voorheen, soos wat sy topverkoper-sukses bewys,” het Hamman bygevoeg.

 

“Die bestaande modelreeks verras sy mededingers steeds op gereelde grondslag, wat Toyota ’n stewige bekendstellingsplatform vir die nuwe Hilux se koms vroeg aanstaande jaar bied,” het hy gesê.

 

Wat algehele verkope betref, het Toyota weereens ’n topklas-vertoning losgeslaan. Die markleier se Augustus-verkope was 15 persent hoër as enige ander fabrikaat, wat Toyota tot ’n nuwe jaarsyfer van meer as 79 230 verkope verhef het en op ’n markaandeel van 19,4 persent neerkom.

 

Dit is veral indrukwekkend in die lig van die feit dat die plaaslike mark ’n daling van 8,2 persent teenoor die aantal voertuie wat in Augustus 2014 verkoop is, beleef het. Nog iets wat die eintlike vraag verder versteur, is die talle aansporingspakette wat die meeste vervaardigers weens opgehoopte voorraad aanbied.

 

Uitvoer het die impak van dalende verkope effens versag deur sy opwaartse momentum te behou.  Uitvoerverkope is op 28 069 eenhede vir Augustus 2015 vasgestel, wat ’n styging van 3 080 voertuie, ofte wel 12,3% teenoor die 24 989 uitvoerverkope in Augustus 2014 was. Toyota het die afgelope maand altesaam 4 429 eenhede uitgevoer.

 

Die voortslepende gewildheid van die Fortuner en die Corolla – Suid-Afrika se gewildste sportnuts én gesinsedan – het Toyota se voorste posisie in die verkopestryd versterk. Die Fortuner het verkope van 785 eenhede vir die maand aangeteken, terwyl 1 204 Corollas in Augustus van die hand gesit is. Dit is deur nog 882 verkope van die Corolla Quest aangevul.
Ander segment-topverkopers in die Toyota-stal vir Augustus was die Land Cruiser-bakkie (335 eenhede) waar die V8-turbodieselweergawe die grootste hap gevat het. Die Avanza-veeldoeler het 445 eenhede verkoop, terwyl altesaam 1 150 weergawes van die Quantum, wat nou plaaslik by Toyota se aanleg in Prospecton in Durban vervaardig word, verkoop is.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota neem voorste posisie in stryd om voertuigverkope vir Augustus