2015-Dakar, Sneltrajek 4: Poulter skuif op, De Villiers staan vas

Dakar stage 4

COPIAPO – Dit was ’n dag van groot skuiwe in die Dakar toe die hele ren na Chile verskuif het deur die skouspelagtige Andes-bergreeks voor die aanvang van die sneltrajek oor te steek. Maar vir die Toyota-Imperial-Suid-Afrika-Dakar-span was dit die vlugvoetige Leeroy Poulter en Rob Howie (#327) wat die meeste skuiwe gemaak en ná hul aankoms in Copiapo van 21e algeheel ná sneltrajek 3 tot 14e algeheel opgeskuif het.

Sneltrajek 4 het die spanne oor ’n moordende ooppadgedeelte oor 594 km van die Argentynse dorpie Chilecito oor die grens met Chile en van meer as 4 600 m bo seevlak tot in die myndorpie Copiapo geneem. Hoewel die dorpie self moontlik meer bekend sal wees vir sy mynwerkers wat in 2010 op epiese wyse gered is, is dit vir motorsportaanhangers regoor die wêreld sinoniem met die massiewe duin waarteen die deelnemers van die Andes af reguit tot amper binne die oornag-tentkamp in ry.

“Dit was ’n fantastiese sneltrajek,” het Poulter aan die einde van die 315 km-sneldeel gesê. “Ons was die vinnigste deur die eerste paar beheerpunte, maar toe het die duine begin. Ons het twee keer naby die einde vasgeval, maar steeds die negende vinnigste tyd vir die dag opgestel.”

Dit was ’n dag van herstel vir Poulter/Howie nadat hulle die vorige dag bykans ’n uur in sneltrajek 3 verloor het. Hulle het egter deurgedruk en hul veiligheidskaart gespeel wat hulle toelaat om hul wegspringtyd een keer in die ren te verbeter. Dit het hulle in staat gestel om in die 19e posisie op die pad weg te spring ten spyte van die feit dat hulle die vorige dag net die 40e vinnigste tyd aangeteken het.

Dit het hulle toegelaat om hul pad deur die renveld voor hulle oop te jaag en sodoende nege posisies in te haal.

Dakar stage 4 maintenance

Giniel de Villiers en sy Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz (#303), het nog ’n goeie sneltrajektyd opgestel ten spyte van die feit dat hulle die pad moes “vee” nadat die MINI-jaer Orlando Terranova uitgeval het. Dié Argentynse jaer, wat sneltrajek 3 gewen het, het hope tyd verloor nadat hulle ’n rots getref het wat hul voertuig se agtervering vernietig het.

Die Toyota-Imperial-Hilux-jaers het die sneltrajek in die derde plek voltooi, agter die voorjaer Nasser Al-Attiyah (MINI) en Nani Roma (MINI), en 2 minute 57 sekondes teenoor die algehele voorloper (Al-Attiyah) afgestaan. Dit plaas hulle nou 8 min 15 sek agter Al-Attiyah in die algehele stand van sake, met die Saudi-nuwelingjaer Yazeed Alrajhi (Toyota Hilux) meer as 15 minute agter hulle in die derde plek.

“Ons het nog ’n goeie sneltrajek gehad, en moet nou net gefokus bly,” het De Villiers by die tentkamp in Copiapo gesê. “Die Hilux het weer soos klokslag geloop, en ons sien uit na nog ’n goeie sneltrajek more in Chile.”

Die spanhoof, Glyn Hall, het sy tevredenheid met al twee jaers uitgespreek. “Ons is baie tevrede met Leeroy en Rob se vordering,” het Hall aan die einde van die sneltrajek gesê. “Hulle het tot dusver in die byeenkoms gewys hulle kan geduldig wees, en ek glo vas dit sal op die lange duur vrugte afwerp. Giniel en Dirk het intussen presies gedoen wat ons van hulle verwag.”

Sneltrajek 5 begin net buite Copiapo en neem die deelnemers en hul gevolg na die oornagtentkamp in Antofagasta. Tussen-in lê ’n ooppadgedeelte van 174 km, gevolg deur ’n sneltrajek van 458 km voor nog ’n ooppadgedeelte van 65 km tot by die tentkamp. Die berugte fyn poeierstof in die omgewing, wat fesh-fesh genoem word, sal gewis ’n rol speel, maar dit is alles deel van die swerftog waaruit die Dakar bestaan.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Hallspeed, TFM, Castrol, SKF, Spanjaard, Robor, 4×4 Megaworld, NGK, Donaldson, Mastercraft, Sat4Rent, Oakley, Edgecam, Supreme Springs, FreeM, Bosch, Smiths Manufacturing en Shatterprufe sowel as Duxbury Netgear, Innovation, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Toyota en Imperial Toyota.

Dakar Toyota Maintenance

Posted on by jonckie

Comments Off on 2015-Dakar, Sneltrajek 4: Poulter skuif op, De Villiers staan vas