Bridgestone word amptelike vennoot en bandeverskaffer vir die Olimpiese Spele

Die president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), Thomas Bach, regs, en die uitvoerende hoof van die Bridgestone-korporasie, Masaaki Tsuya, glimlag Vrydag 13 Junie 2014 vir fotograwe by ’n mediakonferensie in Tokio waar die Japannese bandevervaardiger Bridgestone ’n ooreenkoms onderteken het om die voorste borg vir die IOK as deel van ’n kontrak vir tien jaar te word wat die 2020-Olikmpiese Spele van Tokio insluit.

Tokio, Japan (13 Junie 2014) – Die Bridgestone-korporasie (Bridgestone) het vandag aangekondig dat hy ’n ooreenkoms met die internasionale Olimpiese Komitee (IOK) aangegaan het wat die wêreld se grootste bande- en rubbermaatskappy ’n amptelike wêreldwye Olimpiese Vennoot tot die Olimpiese Spele van 2024 maak. Die aankondiging is by ’n mediakonferensie en seremoniële ondertekening van die ooreenkoms in Tokio gedoen. Die geleentheid is deur die president van die IOK, Thomas Bach, en Masaaki Tsuya, die uitvoerende hoof van Bridgestone en voorsitter van die raad, en ander Bridgestone- en IOK-afgevaardigdes en gaste bygewoon.

Bridgestone se verhouding met die Olimpiese Spele en die Olimpiese Beweging is oombliklik van krag en sluit die 2016-Olimpiese Spele van Rio in. Daarbenewens is borgskapsregte ook in Brasilië, Korea, Japan en die Verenigde State tot 2016 aan Bridgestone toegestaan. Bridgestone se regte sal van 2017 af wereldwyd geld en die 2018-Olimpiese Winterspele van PyeongChang, die 2020-Olimpiese Spele van Tokio en die Olimpiese Spele van 2022 en 2024 in stede wat nog deur die IOK gekies moet word, insluit. Die ooreenkoms sluit ook borgskapsregte by enige Olimpiese Jeugspele wat van 2017 tot 2024 kan plaasvind, in.

Die produkafdelings wat deur die Bridgestone-borgskap gedek word, sluit in: aardbewing-isoleringslaers wat gebruik word om geboue teen skade deur aardbewings te beskerm; trapfietse, ’n produkafdeling wat Bridgestone al vir langer as 60 jaar ontwikkel; en die volledige reeks bande wat deur die maatskappy vervaardig word. Dit maak Bridgestone die amptelike band van die Olimpiese Spele.

Bridgestone se uitvoerende hoof en voorsitter van die raad van trustees het in  sy reaksie daarop gesê Bridgestone is as wêreldwye onderneming baie opgewonde om ’n amptelike vennoot van die hele Olimpiese Beweging te wees. “Die beweging is ’n groep instellings wat nie net die wêreld se voorste atletiekfees aanbied nie, maar hierdie fees van sport met gemeenskappe, sosiale verantwoordelikheid, ’n respek vir diversiteit en ’n verbintenis tot die grondbeginsels van die Olimpiese Spele vermeng.” Tsuya-san het voorts gesê Bridgestone “sien uit na ’n lang en gunstige verhouding wat wedersyde voordele sal bied en waardeur ons ons verbintenis tot die samelewing sowel as ons handelsnaamboodskap sal oordra.”

Die IOK-president het gesê die Olimpiese Vennoot-program is ’n ware wêreldwye borgskapsprojek aangesien dit alle toekomstige gasheerlande van die Olimpiese Spele en hul atlete sal bevoordeel en verseker dat atlete van regoor die wêreld, en nie net die grootste lande nie, aan die Spele kan deelneem. “Trouens, die IOK herverdeel meer as 90 persent van sy inkomste aan die sportbeweging. Bridgestone is ’n wêreldleier op sy gebied en ons is baie in ons noppies om die maatskappy in die Olimpiese Vennootskapsprogram te hê. Ons is ook baie opgewonde oor die langtermyn-verbintenis wat hulle aan die Olimpiese Beweging openbaar het.”

Die vennootskap, wat uit ’n wedersydse proses vloei, gee Bridgestone ’n strategiese wêreldwye platform wat hom in staat sal stel om sy klante met nuwe aktiewe en kommunikasiemetodes te bereik, bewustheid van sy handelsmerk en tegnologie te vergroot, en voort te gaan om sy bedrywighede wêreldwyd deur die steun van sy trotse spanmaats regoor die aarde uit te brei.

Die mediakonferensie is ook bygewoon deur die vise-president van die IOK, John Coates; Tsunekazu Takeda, die voorsitter van die IOK se Bemarkingskommissie en president van die Japannese Olimpiese Komitee (JOK) sowel as vise-president van die 2012-reëlingskomitee van die Olimpiese en Paralimpiese Spele van Tokio; Yoshiro Mori, president van die 2020-reëlingskomitee van die Olimpiese en Paralimpiese Spele van Tokio; Naoko Takahashi, uitvoerende raadslid van die JOK en gouemedaljewenner in die marathon van die Olimpiese Spele van Sydney; en Kosuke Kitajima, gouemedaljewenner in swem (borsslag) van die Olimpiese Spele van Athene en Beijing.

Bridgestone tree in ooreenstemming met sy missie om die samelewing met uitstaande gehalte te bedien op, en onderskryf die grondbeginsels van die Olimpiese Spele, waarvan die doel is om sport tot voordeel van die harmonieuse ontwikkeling van die mensdom aan te wend, met die siening om ’n vreedsame samelewing en die bewaring van menswaardigheid te bevorder.

Nog inligting: www.bridgestone.com

Besoek ook:

Road Safety and Tyre Safety

Posted on by jonckie

Comments Off on Bridgestone word amptelike vennoot en bandeverskaffer vir die Olimpiese Spele