Roekelose padgebruikers deel die paaie met ons…beskerm jouself!!

‘n Politikus het ‘n paar jaar gelede ‘n konferensie oor die ondersoek van ongelukke geopen deur te verwys na die feit dat mense wat die padreels verontagsaam dikwels ook ander wette verontagsaam! Ek het dikwels hieroor nagedink en besef hierdie stelling is inderdaad korrek!

Dit is ook so dat diegene wat roekeloos is op een area op die pad ook min ag slaan op die nakoming van ander aspekte en dikwels veelvuldige oortredings begaan. Vanoggend het ek juis agter een so motoris bestuur wat heeltemal op sy gemak oor ‘n stopteken/ stopstraat gery het sonder om spoed te verminder en enigsins sy remme te gebruik!

Ek het weer opgevang met hom net om te sien hoe sy seun sonder ‘n veiligheidsgordel op die agtersitplek en tussen die twee voorste sitplekke sit!

Op die Arrive Alive webwerf probeer ons soveel moontlik bewusmaking skep oor gevare op die pad en hoe padgebruikers hulself kan beskerm. Wanneer ons so ‘n oortreding bemerk is dit die volgende vrae wat dadelik by ons opkom:

– Is die bestuuder nie bewus van die padreels nie?

– Is daar meer wat ons kon doen om hom in te lig oor die gevare by kruisings?

– Is die bestuurder roekeloos, oningelig of net onnosel?

Dit is belangrik dat ons elkeen besef dat ons ongelukkig nie maar kan aanvaar dat almal verantwoordelik is nie! Ons kan ook nie altyd voorkom dat iemand voor ons inry nie! Wat ons wel kan voorkom is die impak van die skade indien daar wel ‘n botsing sal wees met so ‘n roekelose padgebruiker!

Dit is belangrik om onsself te beskerm deur daardie noodsaaklike uitgawes aan te gaan om seker te maak ons het mediese en voertuigversekering en dat ons te alle tye vasgegordel is in die voertuig!

Kyk Video

Posted on by jonckie

Comments Off on Roekelose padgebruikers deel die paaie met ons…beskerm jouself!!