Toyota behou kroon as Suid-Afrika se gunsteling motor

 

  • Toyotabehou sy posisie as markleier vir die 34e agtereenvolgende jaar
  • Toyotase markaandeel styg die derde jaar ná mekaar
  • Stakings en ander onderbrekings in die voertuigbedryf kniehalter groei vir die volle jaar
  • Voertuig-uitvoer toon effense herstel
Marksegment Hele 2012 Hele 2013 %-verandering
Passasiersvoertuie 442 604 450 440 +1,8%
Ligte handelsvoertuie 160 174 169 234 +5,7%
Medium handelsvoertuie 10 104 11 595 +14,8%
Swaar handelsvoertuie 4 982 5 477 +9,9%
Ekstraswaar handelsvoertuie 11 621 12 828 +10,4%
Busse 1 134 1 046 -7,8%
Uitvoer 277 992 275 822 -0,8%
Algehele mark (plaaslik) 630 619 650 620 +3,2%

 

Toyota Suid-Afrika Motors het ’n uitdagende 2013 as Suid-Afrika se topverkoper-voertuigfabrikaat afgesluit nadat hy in Desember 9 881 voertuie verkoop het. Dit beteken datToyotain 2013 altesaam 126 749 nuweToyota-, Lexus- en Hino-voertuie aan klante gelewer het, wat op ’n aandeel van 19,5% van die algehele mark neerkom.

“Ons bly nederig oor die sukses van die Toyota-handelsnaam,” sê Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors. “Ons het toe ons die fabrikaat destyds in 1961 in Suid-Afrika gevestig het, daarop gefokus om ’n uitgebreide handelaarsnetwerk op die been te bring wat klante regstreeks kon bedien. Ons netwerk is steeds die grootste van sy soort in Suider-Afrika, en ons verkope dui daarop dat 4 uit elke 5 Toyota-voertuie deur ons handelaarsnetwerk verkoop is.”

Toyotase verkope het in 2013 met 4,5% teenoor ’n styging van net 3,2% in algehele voertuigverkope gestyg.

Algehele voertuigverkope het op 650 620 te staan gekom, wat dit die beste jaar sedert 2007 maak. Die groeikoers het egter van 16,1% in 2011 en 9% in 2012 tot 3,2% gedaal. Dit is ook ver onder die bedryf se groeiverwagting van tussen 7% en 10%.

“Die bedryf het ’n meer beduidende styging in verkope verwag. Dit was gegrond op die laer rentekoers, die vetraagde vervangingsiklus van voertuie nadat verkope in 2006 ’n hoogtepunt bereik het, talle nuwevoertuig-bekendstellings en uitgebreide bemarkingsbedrywighede,” sê Hamman.

“Ongelukkig het die verskillende stakings in die motor- en komponentbedryf, gevolg deur personeelstakings in die voertuigafleweringsbedryf, verkope vir langer as twee maande ontwrig. Die daaropvolgende tekort aan sekere hoëvolume-modelle het die jaar se plaaslike verkope en uitvoervermoë gesmoor,” sê Hamman.

“’n Mens moet voertuigverkope in Desember altyd saam met dié wat in Januarie aangemeld word, vergelyk aangesien baie kopers en handelaars voertuigregistrasies in Desember teughou ten einde die nuwe modeljaar op die voertuig se registrasiedokumente aan te bring. Die gemiddelde syfer vir dié twee maande behoort waarskynlik ’n beter aanduiding van die verkoopsgroei in 2013 te wees,” sê Hamman.

Volgens Hamman het die styging in leefkoste, die stygende brandstofprys en die Gautengse tolpaaie, waaroor wyd verslag gedoen is, ’n groter invloed op die soort voertuig wat verkoop is, eerder as die algehele verkoopsyfer, gehad. Hy verwag verdere groei in die intreevoertuig-segment, wat segmente A, B en Sub-B insluit.

’n Goeie voorbeeld is die Toyota Etios, ’n relatiewe nuweling in die intreesegment, waarvan meer as 1 865 eenhede in die laaste maand van die jaar verkoop is, terwyl meer as 1 077 eenhede van die huidige Corolla, wat nou vir die laaste maand verkoop word, in dieselfde maand van die hand gesit is.

Ander Toyota-modelle wat goed gevaar het, sluit in die Hilux, wat met 2 659 verkope Suid-Afrika se topverkoper-voertuig is, die Quantum en die Ses’fikile-taxi (1 041 eenhede) en die Toyota Fortuner, wat in Desember aan 849 nuwe eienaars oorhandig is.

Wat die toekoms betref, verwag Hamman lae enkelsyfergroei vir verkope in 2014, terwyl die uitvoer van voertuie na verwagting meer beduidend sal groei.Toyotahet in Desember altesaam 9 670 voertuie na meer as 58 lande uitgevoer.

Handelsvoertuigverkope het ’n baie beter groeikoers as ligte handelsvoertuie en passasiersvoertuie gehad, en in 2013 op algehele verkope van 30 946 te staan gekom.

“Dit is die eerste keer in 7 jaar dat ons deur die 30 000-kerf in die medium-, swaar- en ekstraswaar-handelsvoertuigmark breek,” sê Hamman. “Ons sal ’n ogie op handelsvoertuigverkope in die eerste kwartaal van 2014 hou om te kyk of die mark op hierdie syfers sal stabiliseer, soos sekere ontleders glo, en of die mark teen dieselfde tempo as Suid-Afrika se bruto binnelandse produk, soos ander voorspel, sal groei.

“Ons verwag aan die plaaslike front verdere druk op voertuigpryse namate die rand swak teen die belangrikste geldeenhede bly. Dit sal in 2014 deur verdere druk op besteebare inkomste vererger word.

“Aan die positiewe kant verwag ons ’n sterk vertoning deur die nuwe Corolla, Suid-Afrika se gunsteling-sedan, sowel as ’n aantal ander nuwevoertuig-bekendstellings. Ons verwag ook aansienlike beleggings in die voertuigbedryf namate Suid-Afrika se vervaardigers hulle in die lig van die regering se Voertuigvervaardigings- en Ontwikkelingsprogram (APDP), wat verlede jaar afgekondig is, op plaaslike hoëvolume-vervaardiging voorberei,” sê Hamman.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota behou kroon as Suid-Afrika se gunsteling motor