De Villiers en Von Zitzewitz verdedig hul derde posisie in Dakar 2014

Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz (Toyota Imperial Hilux) het hul derde plek algeheel in die Dakar-veldtydren suksesvol verdedig nadat hulle Maandag se agtste sneltrajek – die eerste in Chile ná sewe sneltrajekte en die rusdag – in ’n frustrerende sewende plek voltooi het.

Die rengedeelte oor ’n afstand van 302 kilometer, wat op ’n ooppadgedeelte van 522 kilometer van Salta in Argentinië gevolg het waar die Dakar-brigade die Andes-bergreeks deur die Paso de Jama-pas teen net onder die 5 000 meter bo seevlak oorgesteek het, was die tweede agtereenvolgende uitdaging op só groot hoogte bo seespieël. Dit is ook deur hoë snelhede en nou paaie met min verbysteekgeleenthede op ’n gemiddelde hoogte van nagenoeg 3 000 meter gekenmerk.

Die 2009-Dakar-kampioene het vir 150 kilometer sonder verbykomkans agter die Mini van die Russiese jaer Vladimir Vasilyev en sy navigator, Vitaliy Yevtyekhov van die Oekreine, gesit.

“Hy het ten spyte van die Sentinel-stelsel wat die jaer voor jou waarsku dat jy wil verbykom, nie plek gemaak nie – nie eens toe ons reg langs hom was nie,” het De Villiers gesê.

“Ons het baie tyd verloor – minstens drie minute. Dit het enige kanse wat ons gehad het om ons teenstanders vandag in te haal, in die wiele gery. Dit was baie teleurstellend.”

Die sneltrajek, wat in Calama geëindig het, is deur Nasser Al-Attiyah van Qatar en sy Spaanse navigator, Lucas Cruz, in hul Mini gewen. Hulle was 1 min 12 sek voor die verdedigende kampioene Stéphane Peterhansel en Jean Paul Cottret van Frankryk (Mini) en 2 min 36 sek voor Carlos Sainz van Spanje en sy Duitse navigator, Timo Gottschalk (SMG-duinebesie). De Villiers en Von Zitzewitz was 9 min 21 sek agter die voorjaers en net twee sekondes stadiger as Nani Roma van Spanje en Michel Perin van Frankryk (Mini), wat sesde was.

Roma en Perin is steeds die algehele voorlopers met ’n effense kleiner gaping van 23 min 46 sek teenoor Peterhansel en Cottret. De Villiers en Von Zitzewitz is 48 min 25 sek agter en word nou bedreig deur Orlando Terranova van Argentinië en Paulo Fiuza van Portugal (Mini), wat die gaping tot 3 min 30 sek verklein het.

De Villiers-hulle se Toyota Imperial-spanmaats, Leeroy Poulter en Rob Howie, het goed van Sondag se stuurprobleme, wat hulle drie ure teenoor die voorjaers laat terugsak het, herstel. Hulle was 29e in Maandag se sneltrajek en het hul algehele posisie tot 28e verbeter, en is nou 10 uur 30 min 28 sek agter die voorlopers.

“Ons het vandag ’n beter dag gehad – ons kon ’n paar motors verbysteek en het ons posisie in die algehele stand verbeter,” het Poulter gesê. “Dit was nie so maklik om verby te steek nie omdat die spoed hoog en die paadjies nou was. Ons het nou ’n baie beter wegspringplek vir Dinsdag se sneltrajek en ek sal probeer om nog vordering deur die renveld te maak.”

Sneltrajek nege, van Calama tot die 2014-Dakar se mees noordelike punt by Iquique, begin met ’n ooppadgedeelte van 27 kilometer, gevolg deur ’n rengedeelte van 422 kilometer wat die Stille Oseaan die eerste sal onthul en die deelnemers weer aan die sandduine van die Atacama-woestyn sal blootstel. Dit word as die droogste plek ter wêreld beskou waar reën nog nooit op sekere plekke aangeteken is nie. Die skouspelagtige daling van ’n reusagtige sandduin tot by die oornaghalte sal sonder twyfel duisende entoesiastiese toeskouers lok.

Die voorste jaers spring om 08:48 (13:48 Suid-Afrikaanse tyd) uit Calama weg en die eerste motor word om 14:48 (19:48 SA tyd) in Iquique verwag.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, SAA Cargo, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, 5Mastercraft, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on De Villiers en Von Zitzewitz verdedig hul derde posisie in Dakar 2014