Toyota SA Motors haal nuwe mylpaal met eenmiljoenste Toyota Corolla plaaslik vervaardig

 

  • Corolla Nr 1 000 000 by Prospecton-aanleg inDurbangebou
  • Voorbereiding vir 11e geslag Toyota Corolla goed op dreef
  • Corolla sluit hom by Hilux in Miljoenklub aan

Werkers en personeel van Toyota Suid-Afrika Motors het verlede week fees gevier toe die eenmiljoenste Toyota Corolla wat trots in Suid-Afrika vervaardig is, uit die maatskappy se vervaardigingsaanleg in Prospecton in Durban, KwaZulu-Natal, gery het.

Dié wit Toyota Corolla, wat Woensdag 20 November van die monteerlyn af gery het, was die kroon op ses jaar se suksesvolle vervaardiging waartydens die Corolla as linker- en regterstuurmodel vervaardig en in verskillende weergawes na lande in Oos- en Wes-Europa, die Karibiese streek en Afrika uitgevoer is.

“Dit is baie simbolies dat die Corolla hierdie mylpaal juis nou bereik,” sê Dr. Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika Motors. “Dit is nie net die viering van ’n baie suksesvolle produksielopie vir die tiende geslag van die wêreld se gunsteling-motor nie; dit baan ook die weg vir die bekendstelling van die nuwe Corolla wat sy opwagting in 2014 maak.”

Die Corolla is oorspronklik in 1975 in Suid-Afrika bekend gestel, en het gou Suid-Afrika se gunsteling-gesinsvoertuig geword. Die motor is sedert sy aankoms in Suid-Afrika by Toyota se aanleg in Prospecton gebou, en sy plaasike inhoud is mettertyd verhoog en die reeks tot linker- en regterstuur vir verskillende uitvoermarkte uitgebrei.

Hoewel die eenmiljoenste Corolla ’n trotse plek langs die eenmiljoenste Hilux inToyotase museum by sy Verkope- en Bemarkingshoofkantoor in Sandton sal beklee, is die Prospecton-aanleg reeds besig om die fabriek vir die koms van die nuwe Corolla, wat by die onlangse Johannesburgse Internasionale Motorskou in Oktober onthul is, voor te berei.

“Die Corolla is bevoordeel deur ons onlangse beleggingsprojek van R8 miljard (wat in 2008 aangekondig is), waarin die aanleg gemoderniseer is en ’n hipermoderne verfaanleg in gebruik geneem is. Ons hoop om ons volgende ronde beleggings met die nuwe Corolla in te lui en sien daarna uit om hierdie nuwe beleggingsplan te openbaar sodra ons eerste nuwegenerasie-Corolla’s uit die fabriek ry,” sê Dr. Van Zyl.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota SA Motors haal nuwe mylpaal met eenmiljoenste Toyota Corolla plaaslik vervaardig