Toyota in die kollig op Johannesburgse Internasionale Motorskou [JMS]

 

  • Nuwe Corolla maak SA buiging
  • Nuwe Etios Sport beperkte weergawe
  • Nuwe bykomstighede vir Toyota 86
  • Opkikkerings vir 2014-Hilux
  • Verfrisde 2014-Fortuner
  • Radikale nuwe voorkoms vir 2014-Prado

 

Toyota keer terug na die Johannesburgse Internasionale Motorskou (JMS) met ’n oorspronklike uitstalling wat deur origami aangespoor is en met golfontwerpelemente in pas met die fabrikaat se nuwe wêreldwye ontwerprigting vir skoutentoonstellings spog.

Die Toyota-uitstalling met sy treffende wit en silwer skakerings en verskillende sones waarin sy QDR (gehalte, betroubaarheid en duursaamheid), leierskap op die gebied van hibriedtegnologie en sy pret-om-te-ry-eienskappe uitgebeeld word, is ’n aandagtige verwysing van tegnologie, waar belangrike deurbrake en hipermoderne konsepte met beproefde modelle meng ten einde dié fabrikaat se leierskapsposisie in die plaaslike motorbedryf te beklemtoon.

Splinternuwe Toyota Corolla

Die onbetwiste ster van die uitstalling is die splinternuwe Corolla, ’n logiese evolusie van die wêreld se gewildste motor en ’n standhoudende SA topverkoper wat in sy 47 jaar nog altyd sinoniem met doeltreffende ontwerp, gemak, ruimte, betroubaarheid en waarde is.

Die nuwe Corolla, wat plaaslik van die eerste kwartaal van 2014 af te koop sal wees, is al hierdie, en heelwat meer: ’n handelsnaam deurspek van sterk, rasionele en emosionele waarde, en die gunsteling van meer as 40 miljoen eienaars regoor die wêreld (bykans 1 miljoen is net in Suid-Afrika verkoop). Dié nuweling bied nou ook die belangrike opwindingselement as deel van sy suksesformule.

Hierdie elfde geslag laat die Corolla volwaardige volwassenheid bereik. Die nuweling, wat die kaizen-filosofie so netjies saamvat, neem ’n verdere sprong op die gebied van toerusting, dinamika en praktiese bruikbaarheid, en maak sy buiging met ’n toonaangewende, moderne en harmonieuse ontwerp. Dit sal verseker dat die model sy status as klasleier – ’n posisie wat hy al die afgelope 32 jaar handhaaf – behou.

Stilering

Die Corolla is die jongste model wat Toyota se nuwe “Keen Look”-handelsnaamidentiteit kry. Dit word gekenmerk deur ’n uitdruklike snoet, uitspringende sierroostervinne wat tot in die koplighulsels strek, en sterk luginlate. Die algehele uitwerking is ’n slanker, meer selfversekerde voorkoms.

Die agterkant van die 2014-Corolla weerspieël die voorkant-ontwerp terwyl sy breë stertlighulsels deur ’n verchroomde nommerplaathulsel verbind word en ’n skoner, voortreflike voorkoms bied. Dit word deur die C-pilaar beklemtoon, wat ’n groter, skuinser hoek het en in die bokant van die bagasiebakdeksel invloei. Die kajuit wat na agter geleidelik dunner word, gee die nuwe Corolla tesame met sy breër romp ’n sterk, gehurkte houding.

Van die kant gesien pronk die nuwe Corolla met skerp karakterlyne aan sy sye en vertikaal assimmetriese deurhandvatsels (wat voorheen net in Lexus-modelle aangetref is) gelyk met die romp gevorm is.

Binneruim

Die groot nuus is dat die voertuig se lengte met 75mm verleng is. Hy is ook 15mm breër en sy asafstand is met ’n indrukwekkende 100mm verleng. Die motor se hoogte is egter met 5mm verlaag, wat vir ’n slanker voorkoms en laer swaartekragmiddelpunt sorg.

Die nuwe Corolla sal die beste agterkant-beenruimte in sy klas vir sy passasiers hê danksy die verlengde asafstand tesame met die voorste sitplekke se rugleunings wat 10mm dunner is, en die agterste heuppunt van 75mm verder agtertoe geskuif is.

Daarbenewens is die ruimte tussen die middelkonsole en agtersitplekke met 100mm verleng, terwyl die middelste deel van die vloer aan die agterkant platter gemaak is deur die uitlaatpype te herlei. Dit het tot groter gemak vir al die passasiers gelei.

Die bagasieruim is ook verbeter. Hierdie groter praktiese bruikbaarheid spruit uit die feit dat die wielboë die kajuit weens die langer asafstand minder binnedring, en tot vier gholfsakke sal in die bagasieruim kan pas.

’n Meer sportiewe sitposisie agter die stuur is bewerkstellig deur die sitplek se hoogteverstelling te vergroot, die reikafstand van die sitplek se skuifverstelling te verleng, en die stuurkolom se hoek met twee grade te verminder.

Buiten hierdie veranderings het die sitplekke self ’n langer kussing met ’n ergonomies gevormde rand wat groter gemak vir die bestuurder op lang reise bied, sowel as systutte wat beter steun bied.

Die splinternuwe binneruim wentel uit ’n suiwer estetiese oogpunt om ikoniese dinamisme ten gunste van skoon, elegante en onbelemmerde stilering, wat die ruim afmetings van die kajuit beklemtoon.

Die horisontale voorpaneel sorg dat al die skakelaars en instrumente intuïtief gebruik en bereik kan word, wat die veiligheid van die bestuurder en passasiers verhoog deurdat dit afleiding tot die minimum beperk.

Die insittendes word ook op die stilste kajuit in dié klas getrakteer. Dit is bewerkstellig deur enjin- sowel as omgewingsgeraas wat die kajuit binnedring, aan die hand van ’n akoestiese windskerm, voorpaneel-klankdemper en skeistroke in die modderskerms te beperk.

Groter gebruik van hoësterkte staal regdeur die romp het dunner romppanele moontlik gemaak, terwyl minder onderdele en sekere kleiner komponente gehelp het om die romp 5,7kg ligter te maak sonder om algehele rompstewigheid prys te gee. Trouens, algehele rompstewigheid is deur ’n hele aantal maatreëls, maar hoofsaaklik deur ’n toename in die hoeveelheid sweiskolle, verbeter.

Wat toerusting betref, sal die nuwe Corolla die nuwe C-segment-maatstaf wees. Vier verskillende pakkette (die pakketname sal nader aan die bekendstelling aangekondig word), sal beskikbaar wees en aan alle smake voldoen, wat dié met ’n meer sportiewe voorkeur sal insluit. Die middelslagpakket sal byvoorbeeld die beste waarde vir geld bied en sal vir al die verskillende enjinweergawes beskikbaar wees. Toerusting soos ’n trurat-monitor, klankskerm, leerbekleedsel vir die sitplekke en stuurwiel, stuurgemonteerde skakelaars en sestiensduim-allooisierwiele is maar net van die nuwighede wat deel van dié modelle se standaard-toerusting sal wees.

Onder die dop

Die MacPhersonstut-voorvering en dwarsbalk-agtervering van die bestaande Corolla word in die nuwe model oorgedra, maar is aansienlik hersien en ’n dikker skokbrekersilinder vir die voorvering, wat vir beter stabiliteit en groter ritgemak ingestel is, insluit.

Die voorste kronkelveertempo is verminder terwyl die agtervering ook ’n kleiner kronkelveertempo en heringestelde dempers het.

’n Kykie onder die enjinkap onthul ’n hele reeks kragbronne, wat die volgende insluit:

  • ’n 1,3-liter-enjin wat 73kW lewer en 128Nm se wringkrag bied. Dit sal die Corolla se intreevlak-enjin wees, wat volmaak by vlote en klante vir wie brandstofverbruik voorkeur geniet, sal pas.
  • ’n Splinternuwe turbodiesel van 1,4 liter (66 kW en 205 Nm) sal die koppe met die soort verfyning en verrassende verrigting wat aan so klein enjin gekoppel is, laat draai. Dit sal die mees bekostigbare dieselmodel in die C-segment wees.
  • Die 1,6-liter-enjin (90kW en 154Nm) word uit die bestande Corolla-reeks oorgedra, hoewel die brandstofverbruik- en C02-uitlaatgassyfers verbeter is.
  • Laastens word ’n 1,8-liter-enjin met kraglewering van 103kW en 173Nm se wringkrag as vlagskip-enjin ingespan.

Die nuwe reeks sal ’n verskeidenheid ratkaskeuses bied, waaronder ’n 6-gang-handratkas vir al die enjins, sowel as ’n nuwe palwissel-transmissie (Multidrive) vir die 1,6- en 1,8-liter-enjins. Multidrive sal nie net beter brandstofverbruik bied nie, maar ook die algehele rysensasie teenoor vorige transmissies wat in ander voertuie gebruik is, aan die hand van ’n groter reeks ratverhoudings en lewendiger ‘rat’-wisselings verbeter. Wat laasgenoemde betref, het Toyota se ingenieurs sewe stapsgewyse wisselpatrone in die versnellings- en vertragingsfases met matige wisselskokke ingebou, wat die nuwe Multidrive-palwisseltransmissie in staat stel om die bekende kenmerke van meer tradisionele outomatiese transmissies na te boots. Daarbenewens bied dit ook ’n meer sportiewe verstelling wat vir ’n meer dinamiese ry-ervaring sorg danksy sagteware wat die wisselpatroon sowel as die elektriese kragstuur aanpas.

Toyota mik na ’n 5-ster-Euro N-Cap-gradering vir die nuwe Corolla en is bestem om dit reg te kry deur ’n omvattende reeks aktiewe en passiewe veiligheidsmaatreëls wat ’n hersiene ABS-remstelsel, ’n uiters sterk kajuit danksy die gebruik van hoësterkte staal regdeur, volledige lugsakke (minstens vier, wat tot sewe uitgebrei word) sowel as ’n aantal nuwighede soos sweepslagbeskermende voorsitplekke insluit.

Twee modelle sal by die JMS te sien wees – die 1.8 Multidrive met ’n hoëgraderingspakket, en die 1.4 D met ’n middelvlak-pakket. Verdere besonderhede oor die 11e generasie Toyota Corolla sal nader aan die bekendstelling in 2014 aangekondig word.

 

Die res van die JMS-modelreeks op Toyota se binnenshuise uitstalling is as volg:

 

  • Aygo – Toyota se gewilde supermini, wat minder as ’n jaar gelede verfris is, pronk met ’n verbeterde voorkoms en toerustinglys sowel as ’n hersiene tweemodel-reeks. Die Aygo, wat ook die nuwe glimlaggende gesiggie van Toyota se jongste generasie kleinmotors het, is net as vyfdeur-weergawe as die “Fresh” en die vlagskip-“Wild” (laasgenoemde sal te sien wees) beskikbaar. Kragstuur, lugversorging, ABS met EBD en BAS sowel as dubbele lugsakke voor is maar net van die standaard-toerusting wat in die “Fresh” aangetref word. Die “Wild” kry 14”-allooisierwiele, elektries beheerde vensters voor, kantlugsakke en afstand beheerde sentrale sluiting by, om maar net ’n paar van die ingeslote bykomstighede te noem.

 

  • Etios – Dié model, wat met sy bekendstelling in Mei 2012 ’n oombliklike sukses was, het ’n string verbeterings vir 2013 ondergaan. Die meeste van die verbeterings is onder die dop en is daarop gefokus om die 2013-Etios ’n beter gehalte-gevoel te gee. Visuele verfynings sluit in ’n nuwe ontwerp vir die sierrooster, rompgekleurde buitespieëlhulsels en deurhandvatsels dwarsdeur die hele reeks, sowel as ’n nuwe kantspieël. Hierdie eienskappe is nie net esteties meer vleiend nie, maar die nuwe ontwerp verhoog ook die motor se aerodinamiese verrigting – lugstabiliserende vinne aan die onderkant van die kantspieëlhulsel lewer veral ’n bydrae tot hanteringstabiliteit en minder windgeraas. Die agterkant is ook aan die hand van ’n nuwe stertligontwerp vir die luikrug- sowel as die sedan-weergawe verfris.

 

Wanneer ’n mens die deure van die vlagskip-Xs-model in luikrug- of sedan-formaat open, is die omvattende verbeterings in die sitplekafdeling dadelik opvalled. Die hoogte van die bestuurdersitplek kan nou verstel, terwyl die voorsitplekke ook bykomende kussings en hope dysteun bied, en die kopstutte kan verstel. (Die Xi-modelle behou die eenstuksitplekke met ingeboude kopstutte.) Nog ’n fatsoenlike eienskap wat nou by die lys standaard-toerusting vir die Xs-weergawes ingesluit is, is die elektries beheerde venster van die bestuurder wat met die enkele aanraking van die skakelaar heeltemal toemaak. In die agterste deel van die binneruim word ’n mens deur nog nuutgevonde weelde verras – ’n hervormde sitplek-ontwerp. Daarbenewens kry die agtersitplekke groter vaste kopstutte. Ander eienskappe wat die weeldegevoel in die Xi- sowel as die Xs-modelle verhoog, sluit die ysblou-agtergrondbeligting vir die middelste instrumentehuls in. ’n Splinternuwe 2-DIN-Toyota-klankstelsel is nou ook deel van die Xs-modelle se standaard-toerusting.

Die lugvloei-kontroles vir die Xs-weergawes is deur nuwe knoppe vervang wat solied lyk en in chroom afgewerk is, en vir ’n aangename aanrakingsgevoel sorg. Dieselfde geld die ratkierieknop, wat meer in pas met die motor se karakter is.

Twee modelle sal ten toon gestel word: die Etios 1.5 XS-sedan en die nuwe beperkte  Etios 1.5 Sport-luikrug wat onlangs beskikbaar gestel is. Die Sport, wat op die XS-luikrug gegrond is, het ’n dakdrukvlerk, 15”-allooisierwiele en “Sport”-kentekens, en is beskikbaar in vier kleure, waarvan een grys metaalvlokkieverf is wat eksklusief aan die Sport-weergawe is. Die Sport se kleinhandelprys is R138 900, wat net R7 900 duurder as sy gewone stalmaat is.

  • Yaris – wat vir 2013 verfyn is om op die gewildste modelle te fokus en die mededingendendheid van dié weergawes te verhoog, is nou eksklusief in vyfdeur-formaat beskikbaar. Die hersiene Yaris-reeks pronk steeds met sy planeetvriendelike 1,0ℓ- en 1,3ℓ-petrolenjins van 51 en 73 kW onderskeidelik. Die nuwe, eenvoudiger modelbenamings – “1.0”, “1.3” en “1.3 CVT” – verteenwoordig die drie modelle in die nuwe reeks met hul nuwe voorkoms. Die vlagskip-petrolhibried-weergawe met ’n 1,5ℓ-enjin bly soos hy is en word die “XS HSD” en “XR HSD” onderskeidelik genoem (algehele stelselverrigting van 74 kW, met ’n baie lae brandstofverbruik van net 3,8ℓ/100 km). Die Yaris XR HSD sal op die uitstalling te sien wees, en dié model is deurspek van toerusting soos voertuigstabiliteitsbeheer met wegtrekhulp, ’n knielugsak vir die bestuurder, gordynlugsakke, lugskorte voor en agter, projektor-tipe kopligte, ligdiode-dagligryligte, sleutellose toegang, outomatiese klimaatbeheer, raakskerm-klankstelsel, trurat-monitor, Bluetooth-versoenbaarheid, reënsensor-ruitveërs, outomatiese ligbeheerstelsel en elektrochromatiese binne-truspieël.

 

  • Auris – die begeesterde, splinternuwe 2013-Auris met sy skerper, meer kenmerkende voorkoms in XR HSD-gewaad sal ook by die Toyota-uitstalling te sien wees. Die hele pakket, met verbeterings wat baie dieper as net die oppervlak strek, is ligter, sy hantering en stuur is beter danksy verfynings aan die vering- en elektriese stuurstelsels, en die motor voel in die algemeen ratser en lewendiger. Sy troefkaart is egter die feit dat hy skitterend ry en ’n omvattende ritervaring bied wat hoog in die
    C-segment uitstaan.

 

Die Auris-hibried deel dieselfde buitestilering- en uitgebreide binneruim-hersiening wat met die nuwe Auris bekend gestel is, maar die hibried-modelle (met middelslag-XS- en hoëgraadse XR-beslag) gaan effens verder deur unieke detailstilering wat hulle as die vlagskipmodelle in die reeks identifiseer. Die belangrikste hiervan is die agterste ligsamestelle wat hibried-spesifieke ligdiodeligte het, 17”-grafietallooisierwiele (XR), panoramiese dak (XR), parkeerhulp (XR), ysgrys-leerinsetsels op die voorpaneel sowel as leerbekleedsel wat eksklusief aan die HSD XR is, sowel as die gebruik van dubbele mikvere agter en VSC om die dwarslat op die gebied van hantering op te skuif.

 

  • Prius – geen Toyota-uitstalling sal volledig wees sonder die wêreld se topverkoper-hibriedmotor, die Prius, nie. Die Prius, wat net met volledige topspesifikasie beskikbaar is, kry die volle voorkeur-behandeling – om groen te wees, beteken nie jy hoef ’n kluisenaar te wees nie. Kyk net na al die speelgoed wat die nuwe Prius Exclusive as deel van sy standaard-toerusting insluit: Toyota se nuwerwetse raakskermstelsel vir die klankstelsel, multimedia-verbindings, satellietnavigasie en Bluetooth plus ’n trurat-kamera; die nuwe Prius, wat aan SatNav gekoppel is, pronk ook met gevorderde verkeerspatroonintelligensie (die stelsel voer die jongste inligting oor verkeerstoestande in die ry deur); stemherkenning om musiek te soek en te speel, telefoonkontakte te soek en oproepe te hanteer; windskermweerkaatsing aan die onderkant van die voorruit vir kern-voertuiginligting soos spoed, die Eco Drive-monitor en punt-tot-punt-navigasie-aanwysings; hoëtrou-JBL-klankstelel met agt luidsprekers en kragbesparende GreenEdge-luidsprekertegnologie; waterwerende glas, outomatiese skemer-ligdiode-kopligte met ingeboude wassers, en ’n elektrochromatiese binnetruspieël wat outomaties verdof; hersiene veelvuldige vertoonskerm met 3D-beeld en nuwe werking wat ’n maandelikse verslag vir brandstofverbruik, vyf maande se data op ’n rolskerm, en ’n eko-besparingsrekenaar insluit; intelligente parkeerhulp – hierdie ongelooflike tegniese wonderwerk help jou om te parkeer (parallel-parkering en reguit parkering) deur die motor vanself in ’n beskikbare ruimte te parkeer; en skakelaars aan die stuurwiel waarmee die bestuurder die klankstelsel, lugversorging en die Eco Drive-monitor kan beheer sonder om af te kyk of sy of haar hande van die stuurwiel af te haal. Maar die kersie op die koek van hierdie ‘ruimte-eeuse’ eienskappe is sonder twyfel die sonpaneel-sondak (wat ’n gewone elektries beheerde sondak insluit) – dit hou die motor koel wanneer dit in die son geparkeer is deur die klimaatbeheerstelsel te aktiveer en vars lug deur die kajuit te stuur. Let asseblief daarop dat hierdie net die ore van die toerusting-seekoei is…

Die nuwe Prius het ook sleutellose toegang (met afstandbeheer), volledige leerbekleedsel regdeur, ’n veeldoel-stuurwiel met verskillende keuselysies, en ’n outomatiese klimaatbeheerstelsel wat ’n stuifmeelfilter insluit, om maar net ’n paar van die geriefseienskappe te noem.

 

  • Toyota 86 – die motor wat Toyota se pretfaktor aansienlik opgeskuif het, sal natuurlik ook by die JMS wees.  Hier het jy ’n motor wat dieselfde as ’n moderne blitsbuks kos, maar nogtans klassieke sportmotor-lekkernye opdis – enjin in die snoet en met agterwielaandrywing, ratse versnellerreaksie en blitsige stuurreaksie sonder die behoefte om teen die spoed van lig te beweeg om dit te kan geniet. Trouens, die 86 por jou om hom so gereeld as wat dit menslik moontlik is, met die voet in die hoek te ry – 90% van die tyd. Jy sou emmers geld moes uithaal om iets te kry wat by die hantering van die 86 kan kers vashou, en dan sou jy twee keer so vinnig moes probeer ry om die ongelooflike verstelbaarheid van die onderstel te voel. Pleks daarvan kan jy vir R315 300 agter die stuur van die Toyota 86, ’n motor wat oorgehaal is om ons siening van ’n volbloed-sportmotor te hersien, inskuif.

 

Die 86, wat op ’n splinternuwe onderstel gegrond is, het ’n lae, uiters lugdinamiese romp wat styf oor sy vier hoeke met al sy kernkomponente gespan is en dit die wêreld se mees kompakte viersitplek-sportmotor maak. Hy pronk met die wêreld se enigste kombinasie tussen ’n kompakte turbolose bokserenjin (147kW / 2.0) en agterwielaandrywing. Hierdie unieke kragbron-formaat kombineer lae gewig, lae enjinspoed en ’n lae swaartekragmiddelpunt om die beste moontlike krag-tot-gewigverhouding te bewerkstellig. Hierdie kenmerke gee die 86 lewendige, toeganklike verrigting, heerlike dinamiese vermoë wat met die minste moontlike elektroniese inmenging na willekeur uitgebuit kan word, en volmaakte bestuurgesnot.

 

Toyota het in reaksie op klante se terugvoer ’n aantal lopende veranderinge aangebring om die 86 nog aantrekliker te maak. Dit sluit in ’n nuwe raakskerm-klankstelsel met Bluetooth-werking, ’n gevormde bagasieruimmat sowel as dagligryligte en ’n beskeie rompgekleurde lugskort op die bagasiebakdeksel – laasgenoemde is eksklusief aan die twee High-gradering-modelle.

 

  • RAV4 – Toyota het sy uitstekende ervaring goed in die splinternuwe 2013-RAV4, wat die vierde geslag is, toegepas. Dié model is aansienlik op die gebied van styl en dinamika verbeter.

Die nuwe RAV4 pronk nie net met dramatiese nuwe lyne en ’n meer volwasse binneruim nie, maar bied ook ’n meer innemende ry-ervaring – die nuweling meng die beste van al sy voorgangers saam en voeg ’n aangename gehaltekinkel daarby terwyl hy steeds aan al die oorspronklike model se beloftes vir groot pret voldoen. Die nuwe RAV4 bied klante ’n nog groter enjinreeks as tevore in reaksie op die voortgesette evolusie van die kompakte sportnutsmark en die behoefte na immer beter brandstof- en uitlaatgasdoeltreffendheid. Die nuwe RAV4 se omvattende reeks bied vir al sy petrol- en diesel-weergawes ’n ongeëwenaarde balans tussen uitstaande verrigting met voorwielaandrywing of aandrywing deur al vier wiele en die beste syfers vir CO2-uitlaatgasse in sy klas. Die nuwe RAV4, wat met ’n keuse van voor- of vierwielaandrywing, 6-gang-handrat, outomatiese 6-gang-transmissie of CVT (Multidrive S) beskikbaar is, se enjinreeks behels ’n 107kW-Valvematic-petrolenjin van twee liter in ’n tweewielaangedrewe formaat met die keuse van ’n 6-gang-handratkas of Multidrive S (Toyota se uiters gevorderde palwissel-transmissiestelsel); ’n 110kW-D-4D-dieselenjin van 2,2 liter met ’n 6-gang-handratkas en die voordeel van aandrywing deur al vier wiele danksy Toyota se AWD-stelsel; en ’n 132kW-VVT-i-petrolenjin van 2,5 liter wat aan ’n splinternuwe outomatiese 6-gang-transmissie met aandrywing deur al vier wiele gekoppel is.

 

  • FJ Cruiser – Land Cruiser se moderne weergawe van die oorspronklike FJ40 wat sy buiging in die 60’s gemaak het, die klassieke FJ Cruiser, was ’n verrassende verkoper op die plaaslike sportnuts-treffersparade – dié ‘retro-bielie’ haal gemiddeld 70 verkope per maand. Die jongste weergawe is nou danksy die toevoeging van verskeie hardebaard-veldryverbeterings heeltemal onoorwinlik. Hierdie jongste opgraderings sluit in die toevoeging van ’n tweede tenk wat sy brandstof-inhoudsvermoë tot 159 liter meer as verdubbel. Die gebruik van kruipwerking, wat Crawl Control genoem word, is die ander groot nuus. Die bestuurder kan ’n draaiskakelaar in die nuwe oorhoofse konsole gebruik om een van vyf voorafgestelde snelhede te kies. Die stelsel behou outomaties ’n lae, eenvormige spoed teen hellings op en af deur die enjinverrigting en hidrouliese remdruk te beheer, wat die bestuurder in staat stel om net op die stuurwerk te fokus. Die stelsel verhoog voertuigstabiliteit in uiterste veldry-situasies deur wieltol tot die minimum te beperk en te verhinder dat die wiele vasslaan. Die stelsel het ook die bykomende voordeel dat dit moontlike skade aan die voertuig voorkom deur die spoed oor geharde terrein sagkens te beheer. Dit verminder die las op die dryfstelsel deur die enjin-uitset en remverrigting soepel te beheer. Die FJ Cruiser kry vir die 2014-modeljaar ook nuutontwerpte 17”-sewespeek-allooisierwiele.
  • Prado – Toyota is oorgehaal om die behoorlik opgekikkerde Land Cruiser Prado-reeks met omvattend verbeterde veiligheidseienskappe, beter toegang tot die derderysitplekke, en beter binne- en buitekant-toerusting, bekend te stel. Belangrike veiligheidsopgraderings regdeur die reeks sal sleepwa-swaaibeheer en ’n noodremwaarskuwing insluit. Die VX-modelle kry blindekolmonitor- en banddruk-waarskuwing by. Sleepwa-swaaibeheer gee Land Cruiser Prado-eienaars bykomende selfvertroue en beheer wanneer hulle sleepwerk doen. Die Land Cruiser Prado se aggressiewe nuwe gesig slaan munt uit verskeie struktuurverbeterings uit sy unieke ontwerp-erfenis; ’n verdere evolusie van die klassieke Prado-sierrooster en ’n vertikale, tweevoudige konstruksie wat die nuwe Toyota se geharde voorkoms versterk. ’n Omvattende opkikkering van die binneruim kombineer nuwe skakelaars en instrumente met verbeterde beslag en ornamente, verbeterde ontwerpe vir die tweede- en derdery-sitplekke met nuwe materiale, en nuwe binneruim-kleurskemas. Die Land Cruiser Prado het sy Suid-Afrikaanse buiging in die 90’s gemaak en is nou halfpad deur sy vierde geslag. Die reeks is beskikbaar met die keuse van ’n vierliter-petrolenjin en ’n drieliter-turbodiesel. Nog detail oor die nuwe Toyota Prado sal nader aan sy bekendstelling in November aangekondig word.

 

  • Hilux en Fortuner – SA se plaaslike topverkoper-stalmaats, die Hilux en Fortuner, kry vir 2014 ’n behoorlike gesigsontrimpeling. Die meeste van die veranderings is aan die binnekant, waar al twee modelle die nuwe swart voorpaneel kry (teenoor die gryse wat uitgefaseer word). Die Fortuner se bekleedsel verander na swart leer vir die 3.0- en 4.0-weergawes terwyl die 2.5-weergawes bypassende swart doekstofbekleedsel kry om by die nuwe beslag te pas. Die splinternuwe multimedia-stelsel is ook opgegradeer. Van die nuwe stelsel se eienskappe is ’n toestel waarmee ’n mens na foto’s kan kyk, video/DVD-speler (wanneer die voertuig stilstaan), volkleur-kunsalbum en uitgebreide raakvlak-kategorieë soos om musiek af te laai. Die Hilux 3.0- en 4,0-dubbelkajuitmodelle kry net soos die Fortuner 3.0- en 4.0-modelle ook ’n trurat-monitor as deel van hul standaard-toerusting.

 

  • FT 86 Open Concept – Toyota sal sy nuwe FT 86 Open-konsepmodel die eerste keer op Afrika-bodem onthul. Dié motor, wat spesifiek gebou is om mense se reaksie vir die moontlike bekendstelling van ’n oopdak-weergawe van sy wêreld-erkende 86-sportkoepee te toets, is ontwerp om die lewendige, uiters innemende en toeganklike verrigtings- en hanteringsvermoë van die 86 met die bykomende aantrekking van oopdak-motorry te vermeng.

 

Die skoumotor het ’n spesiale kleurskema van suiwer wit en vlootblou wat deur Toyota Boshoku Milan Design (TBMD) ontwerp is om die gees en atmosfeer van Milaan, een van die wêreld se voorste sentra vir mode en ontwerp, vas te vang. Die romp is spierwit en in teenstelling met die blou dak. Die wit geperforeerde leerbekleedsel wat aan die binnekant gebruik word, is in lae oor ’n vlootblou agtergrond met goue geelkleurige steke gestik terwyl goudkleurige matte ook gebruik word. Die FT-86 Open gebruik dieselde platform en kragbron as die 86. Dieselfde MacPhersonstut-vering voor en dubbele mikvering agter as wat in die 86 aangetref word, word  hier ingespan om ’n regstreekse stuurgevoel, blitsige reaksie en goeie beheer in die hand te werk. Die elektriese kragstuur het ’n vinnige ratverhouding van 13,1:1 wat by dié van renmodelle kan kers vashou, terwyl groot, lugverkoelde remskywe voor en agter vir skitterende pedaalgevoel ten gunste van fynproewer-motorbeheer sorg. Die 86 het ’n bykans volmaakte 53:47-gewigsverdeling tussen die voor- en agterkant, wat help om die volmaakte reaksie op selfs die kleinste stuur-, versneller- en reminsette te lewer, sowel as ’n lae swaartekragmiddelpunt van net 460 mm. Hoewel die gebruik van ’n sagtekap die swaartekragmiddelpunt waarskynlik nog laer sal maak, sal verdere ingenieursontleding gedoen moet word om dieselfs balans as in die koepee te bewerkstellig. Die 86 laat die skaal op net 1 257kg kantel – danksy omvattende gewigsbesparende maatreëls, wat die motor ’n krag-tot-gewigverhouding van nagenoeg 117 kW per ton gee. Die ingenieursontwikkeling van die cabriolet om dit ’n “gewigsneutrale” naasbestaande van die koepee te maak, sal ’n kern-studiefokus wees as Toyota besluit om die projek verder te ontwikkel.

 

  • Le Mans TS030-hibried-replika – ’n uitstalling wat in die hibried-leierskapsone in die kollig sal wees, is die baanbreker-TS030-hibriedmotor wat deur Anthony Davidson, Sébastien Buemi en Stéphane Sarrazin in die Le Mans-uithouren in ’n skitterende tweede plek oor die wenstreep gestuur is.

 

Die 2013-TS030-hibried maak gebruik van ’n hersiene weergawe van die Toyota Racing-hibriedstelsel wat die eerste keer in 2012 gebruik is. Die superkatisator-stelsel lewer 221kW se oombliklike stukrag benewens die 390kW wat deur sy turbolose V8-petrolenjin van 3,4 liter ontwikkel word.

Die span het die kragbron, onderstel en lugdinamiese eienskappe voor die nuwe reëls wat vir 2014 aangekondig is, verfyn om kraglewering, doeltreffendheid, die bestuur van die verskillende komponente en betroubaarheid te verbeter.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota in die kollig op Johannesburgse Internasionale Motorskou [JMS]