Castrol Toyota 1ste en 4de in Toyota-Woestynren

  • Anthony Taylor/Dennis Murphy (Toyota Hilux) 1e algeheel en 1e in Klas SP
  • Duncan Vos/Rob Howie (Toyota Hilux) 4e algeheel en 4e in Klas SP
  • Jason Venter en Vincent van Alleman (Toyota Hilux) 1e in Klas D
  • Toyotawen vervaardigersprys

Anthony Taylor en Dennis Murphy (Castrol-Toyota Hilux) is die voorlopige algehele en Klas SP-wenners in die afdeling vir Produksievoertuie in die 23e drie-daagse Toyota-Kalahari-Botswana-1000-Woestynren, wat Sondagmiddag (23 Junie) in die gehuggie Kumakwane aan die buitewyke van Gaborone geëindig het.

Dit was Toyota se tweede agtereenvolgende oorwinning in dié langste en moeilikste motorsportbyeenkoms in Suider-Afrika en Castrol-Toyota se tweede agtereenvolgende oorwinning in die Suid-Afrikaanse Donaldson-veldtydrenkampioenskap. Die uitslag was ook ’n persoonlike triomf vir Taylor, wat verlede jaar tot binne 17 kilometer van ’n oorwinning in die 2011-Woestynren af gekom het, net om deur ’n gebreekte halfas die soete smaak van oorwinning ontneem te word terwyl hy gerieflik voor was.

Die private jaers Hugo de Bruyn en Henri Hugo, wat ook in ’n Toyota Hilux gejaag het, was tweede algeheel sowel as tweede in Klas SP, en 8 minute en 29 sekondes agter Taylor en Murphy. Die Ford-jaers Chris Visser en Japie Badenhorst (Ranger) was derde en ’n verdere 1 min 4 sek agtertoe.

Die verdedigende kampioene en wenners van verlede jaar se Woestynren, Duncan Vos en Rob Howie, was sterk na ’n derde plek en ’n podiumposisie op pad toe hulle 30 km voor die einde noodgedwonge moes stilhou om ’n wiel te ruil. Dit het Visser en Badenhorst toegelaat om verby te kom en hulle het die eindpunt in Kumakwane voor ’n groot en baie entoesiste skare in die vierde plek en 1 min 25 sek agter Visser en Badenhorst bereik.

Taylor en Murphy se gewilde en hardverdiende oorwinning in die warm, droë en uiters stowwerige toestande het dié Castrol-Toyota-jaers tot die gesamentlike eerste plek in die kampioenskap langs Visser en Badenhorst verhef – al twee spanne het nou 85,5 punte. Vos en Howie is derde en het 54 punte.

Die private jaers Jason Venter en Vincent van Alleman (Toyota Hilux) was 12e algeheel en die wenners in Klas D nadat hulle die enigste oorlewendes in dié klas was.

Die ren het die gekombineerde renveld bestaande uit 54 produksievoertuie en buisraammotors, wat saam gejaag maar in hul onderskeie kampioenskappe deelgeneem het, ná Saterdag se wegpring tot net 13 produksievoertuie en vyf buisraammotors laat krimp.

Toyotahet die vervaardigersprys vir die byeenkoms gewen en het nou ’n gerieflike voorsprong in die algehele vervaardigerskampioenskap.

Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee, wat eerder daaraan gewoond is om in hul Castrol-Toyota Yaris aan die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap deel te neem, het van die hoogtepunt om Vrydag se kwalifiserende ronde oor ’n afstand van 62 kilometer in hul heel eerste veldrenondervinding saam te wen, tot die laagtepunt gedaal om op Saterdag se roete oor 480 km langs die pad agter te bly nadat hul Castrol-Toyota Hilux elektriese probleme opgedoen het.

Hulle het die renveld van 54 motors op indrukwekkende wyse van die wegspring af in Kumakwane gelei en ’n voorsprong van meer as twee en ’n half minute voor De Bruyn en Hugo opgebou voordat alternator-probleme hul ren vroegtydig beëindig het.

Die spanhoof, Glyn Hall, het dit as volg opgesom: “Anthony en Dennis het hulle puik van hul taak in die rofste Toyota-Woestynren in die onlangse geskiedenis gekwyt. Die roete was vanjaar hoofsaaklik splinternuut en die byeenkoms het aan die verwagting voldoen om die uiterste veldrenuitdaging op die kalender te wees. Anthony het verlede jaar só naby daaraan gekom om te wen dat die hele span in hul noppies is dat dinge vanjaar vir hom in plek geval het.

“Duncanen Rob was ongelukkig om in Vrydag se voorren eerste weg te spring en die roete vir die res van die renveld oop te jaag,” het Hall gesê. “Dit het beteken dat hulle Saterdag se ren verder terug op die wegspringrooster moes begin as wat hulle graag sou wou. En as dit nie vir probleme met die kommunikasiestelsel was wat verhinder het dat hy gewaarsku kon word dat Visser besig was om hom in te haal nie, sou hy nie teruggesit het in wat hy gedink het ’n veilige derde plek sou gewees het nie.”

Hall het ook die Imperial-groep en Castrol spesiaal bedank wat dit tesame metToyotamoontlik gemaak het om ’n derde Hilux vir Poulter en Coetzee in te skryf. “Dit het vanjaar se ren ongewtyfeld nog ’n tikkie meer Toyota-geur gegee. Baie dankie ook aan ons tegniese span wat hulle só goed van hul taak gekwyt het deur drie motors voor te berei en regdeur die hele ren na hulle om te sien. Al drie motors het puik geloop en ons was in die kol vir die uitslag soos ons beplan het.”

Die volgende ronde van die kampioenskap is dieSun City400-veldren in Noordwes die naweek van 26 en 27 Julie.

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, DeWalt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg al die opwinding en gebeurlikhede van die Castrol/Toyota-veldrenspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa.

Besoek ook:

4×4 Off-Road Driving Techniques and Vehicle Safety

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol Toyota 1ste en 4de in Toyota-Woestynren