Wat is onderversekering en hoe beinvloed dit my eis?

Baie versekerde kliënte word erg frustreer deur die boodskap dat hul “onderverseker” is! Hierdie boodskap is veral die afgelope jaar na vloede oorgedra aan talle versekerde boere wat skade gelei het na toerusting soos spilpunte weggespoel het. In hierdie bespreking wil ons let op wat onderversekering is en hoe dit voorkom kan word. Ons sal ook gebruik maak van die inligting op die webwerf Insurance Chat.

Die meeste Suid-Afrikaners is van mening dat wanneer hul die huis en huisinhoud met ‘n polis verseker het dat hul ten volle verseker is en ten volle vergoed gaan word in die geval van skade of verlies aan eiendom. Wat hul egter nie in ag neem is dat hul besittings nie teen die vervangingswaarde verseker bly nie al betaal hul maandeliks getrou hul versekeringspremies.

Navorsing deur ‘n maatskappy met die naam CIB Insurance Solutions (CIB) gedurende 2010 het getoon dat tot 70% van boere in Suid-Afrika onderverseker kan wees. Dit blyk dat hul dikwels die vervangingswaarde van toerusting onderskat en nalaat om versekeringspolisse gereeld te hersien.

Omskrywing van Onderversekering

Onderversekering kan omskryf word  as die situasie waar jou versekeringsdekking  – daardie bedrag wat uitbetaal sal word in die geval van skade of verlies – minder is as die koste om daardie beskadigde of verlore goed te vervang. Hoewel jou uitbetaling dus sal help om die verliese te verhaal sal jy dus moet help om ‘n deel te betaal aan hierdie vervangingskoste.

Dit kan ook beskryf word as die geval waar jy verantwoordelik bly vir ‘n proporsionele betaling van jou versekeringseis. Die beginsel wat toegepas word sal soms beskryf word as “avery”. Dit behels dat waar die items onderverseker is sal die versekerde ‘n berekenbare gedeelte van daardie verlies op homself moet neem. Tegnies gesproke word die versekerde self die versekeraar vir daardie gedeelte van die verlies.

Waarom word hierdie beginsel toegepas?

–          Om Onderversekering te voorkom

–          Om te verseker dat die volle premie vir die risiko wat die versekeraar dra betaal word.

–          Sodat elke party ‘n regverdige gedeelte van die verlies dra.

Formule toegepas waar versekerde bates onderverseker is

Die volgende formule word toegepas:

[Bedrag Verseker ÷ Waarde op Risiko] x Totale Verlies

Voorbeeld 1:

Toerusting word verseker vr R10,000. Die werklike vervangingswaarde van die toerusting is R20,000. Indien die toersuting deur vuur beskadig word en dit kos R5000 om te hestel word die uitbetaling van die versekeringseis soos volg bereken.

[R10,000 ÷ R20,000] x R,5000  Bedrag Betaalbaar =R2,500

Voorbeeld 2:

‘n Gebou word verseker teen R200,000. Die werklike vervangingswaarde van die gebou is R300,000. Indien die gebou nou deur hael of ‘n ander oorsaak beskadig word en dit kos R60,000 om te hestel, word die versekeringseis soos volg bereken.

(R200 000 ÷ R300 000) x R60 000 Bedrag Betaalbaar : R40 000

Voorbeeld 3:

Jy eis R5000 vir skade aan jou motor.

Waarde van voertuig = R100 000

Voertuig verseker vir R 80 000

Aaangesien jy onderverseker is word die uitbetaling van die eis soos volg bereken:

[R80 000 ÷R 100 000] xR5,000 = R 4000

Wat is die vervangingswaarde van goedere?

Dit is ook belangrik dat ons verstaan wat bedoel word met die term “Vervangingswaarde”.

Die vervangingswaarde van goed is wat dit sal kos om ten tyde van die indien van ‘n eis daardie beskadigde goedere met soortgelyke goedere te vervang. Wanneer jy jou eis indien bepaal die versekeraar wat die waarde is waarvoor jy hierdie goed sou moes verseker. Indien jy premies betaal het vir ‘n versekerde bedrag laer as hierdie waarde sal jy vir ‘n gedeelte van die eis verantwoordelik moet wees.

Waarom is ons dikwels onderverseker?

Die redes vir onderversekering is meestal of ‘n wilsbesluit of bloot nalatigheid. Dit hou ook nou verband met inflasie en die koste van versekering.

Inflasie : Met stygende inflasie is daar ‘n groter wordende gaping tussen die bedrag waarvoor goed verseker word en die waarde om dit te vervang. Jou versekeringspolis mag dalk ‘n 7% styging in inflasie in ag neem, maar wat gebeur indien inflasie 15% toeneem? Dit beteken bloot dat jou versekeraar minder gaan uitbetaal as wat jy verwag.

Nalatigheid:

Baie mense besef nie dat hul goedere teen markwaarde en nie vervangingswaarde verseker is nie. Waar inflasie meebring dat die waarde van die item styg teen ‘n vinniger tempo as die waardevermindering oor tyd is dit dus duurder om die item te vervang as waarvoor dit aangekoop is. Ons is bloot nie sorgvuldig genoeg om te verseker dat die bedrae waarteen ons verseker tred hou met die veranderende waarde van die bates nie…

Wilsbesluit/ Keuse:

Soms word bloot besluit dat versekering te duur is – en dat gedeeltelike versekering beter is as niks. Hierdie besluit word dus geneem bloot om ‘n bietjie te spaar aan die bedrag betaalbaar aan versekeringspremies welwetend dat net ‘n gedeelte uitbetaal sal word in die geval van ‘n eis.

Hoe kan ons Onderversekering voorkom?

Hier is ‘n paar wenke:

–          Neem in ag dat vervangingswaarde van goed verander oor tyd.

–          Indien die versekeringspolis nie die verhoogde waardes in ag neem nee is die dekking onvoldoende.

–          Jy of ‘n deskundige moet gereeld ‘n realistiese waardebepaling van versekerde bates doen.

–          Hou jou inventaris van goedere in jou huis gereeld op datum  – voeg nuutgekoopte items by en verwyder items waarvan jy ontslae geraak het.

–          Gee veral aandag aan gespesialiseerde items soos kunswerke waarvoor spesialis versekering aan te beveel is.

–          Boere moet veral let op die risiko van natuurrampe soos vloede en veldbrande. Maak gebruik van ‘n kundige in landbouversekering oor raad en advies rakende beide voorkoming en dekking.

Dit is belangrik om gereeld te kommunikeer met jou versekeringsmaatskappy. Onthou dat korttermynversekering nie ‘n eenmalige proses is nie maar dat daar gereeld aanpassings gedoen moet word aan beide die bates wat verseker word en die premies wat betaal moet word!

Posted on by jonckie

Comments Off on Wat is onderversekering en hoe beinvloed dit my eis?

Comments are closed.