Veediefstal: Vrystaat Landbou kondig privaat ondersoekers aan

Veediefstal het tot so ‘n mate hand uitgeruk dat Vrystaat Landbou (VL) nou genoodsaak is om ‘n eie privaat ondersoekers inisiatief wat fokus op veediefstal daar te stel.

Volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou ly boere jaarliks groot finansiële verliese as gevolg van georganiseerde veediefstal. “In die Vrystaat is die polisie se vermoëns en kapasiteit om veediefstal te bekamp baie beperk, veral tov die ondersoek van veediefstalsake, die uitvoer van arrestasies en om sake suksesvol deur die howe te neem. Tekort aan mannekrag, voertuie en toerusting by Veediefstal Eenhede (VDE) van die SAPD is ‘n groot bron tot kommer”.

Volgens Dr Jane Buys, Veiligheid risiko analis van VL, is die privaat ondersoekers ‘n inisiatief wat in samewerking tussen VL se Landelike Veiligheid komitee en die privaat sekuriteitmaatskappy
LGV sal plaasvind. “Die eerste fase van hierdie projek is in die Fezile Dabe (FD) distrik geloods waar ons PSIRA geregistreerde privaat ondersoekers vanaf 1 Julie 2023 aktief is en sal alle ondersoeke in samewerking met die polisie plaasvind onder die vaandel van die Landelike Beveiliging Strategie (LBS)”.

Die hoë misdaad dorpe wat groot veediefstalle in die Fezile Dabe -distrik ervaar sal elkeen oor ʼn privaat ondersoeker beskik en het alreeds ʼn kursus deurloop waarin hulle onder andere ook ʼn uitgebreide handleiding rakende alle tersaaklike wetgewing ontvang het. Die dorpe wat deur privaat ondersoekers bedien gaan word is tans:

  • Heilbron
  • Mafube
  • Kroonstad / Steynsrus
  • Cornelia / Villiers
  • Parys / Sasolburg area

Buys noem dat die privaat ondersoeker boere behulpsaam sal wees met onder andere:

  • Bewaring van die misdaad toneel;
  • Afneem van ʼn A1-verklaring. Die boer moet egter steeds die saak by die plaaslike polisiestasie aanmeld;
  • Kontak/samewerking met die Veediefstal (VDE) speurder in die area;
  • Alle bewysstukke te oorhandig aan die VDE speurder;
  • Soektog te begin loods ten einde die gesteelde vee op te spoor.

Peet Swanepoel van Parys sal as provinsiale koördineerder vir die PSIRA privaat ondersoekers optree. Hy is ʼn gesoute veediefstal ondersoeker wat dekades verbonde was aan sodanige ondersoeke en het ook veediefstal speurders opgelei. Hy sal die privaat ondersoeker wie gesetel is naaste aan die klagte, uitstuur.

Die inisiatief sal gratis vir volopbetaalde VL-lede beskikbaar wees. Ander boere sal ook gediens kan word as hul ʼn voorafgestelde bedrag in VL se Veiligheidsfonds betaal. Heelwat borge is tans
by die inisiatief betrokke.

Buys sê dat die projek kwartaalliks geëvalueer sal word vir uitrol na ander distrikte se hoë misdaad areas t.o.v. veediefstal, in samewerking met die polisie. Sy maan boere om te verseker
dat hul vee, veral jonger vee, gebrandmerk en of getatoeëer is ten einde die opsporing van die vee te vergemaklik asook om eienaarskap te bewys.

Posted on by jonckie

Comments Off on Veediefstal: Vrystaat Landbou kondig privaat ondersoekers aan

Category: Veiligheid Tags :