Beurtkrag verwring vleispryse

“Terwyl die vleispryse op winkelrakke drasties styg, is die speenkalwer-pryse wat boere ontvang op ʼn 5jaar laagtepunt!”. Volgens dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), is speenkalwerpryse tans 20% laer as ʼn jaar gelede.

Die implikasie van die huidige markomgewing is dat boere vleis produseer teen ʼn 2023 kostebasis, maar ten beste ʼn inkomste gelykstaande aan 2018-pryse ontvang. Die feit dat die vraag en aanbod na vleisprodukte stabiel is, dui daarop dat eksterne faktore die vleisbedryf se prysmeganisme verwring. Een van hierdie faktore is beurtkrag.

Volgens Francois Wilken, president van VL, het die impak van beurtkrag ʼn bykomende bokoste uitwerking op die verbruiker, verskaffers en produsente van vleisprodukte. “Intussenis boere genoodsaak om duur kragopwekkings vermoëns aan te skaf wat lopende uitgawes verhoog en kapitaal vereis. Verskaffers is op hul beurt gedwing om laer pryse vir speenkalwers te betaal ten einde die kostes vir rugsteun dieselaangedrewe masjinerie te beperk.”

Wilken meen verbruikers wat reeds aan inflasiedruk verkeer uitgelewer is, koop nou in kleiner hoeveelhede aangesien vleis vir lang periodes nie gevries kan word nie. Dit en verlaagde spandering plaas weer addisionele vooraandbestuurskostes op slagpale, slaghuise en winkels.

Volgens Boy Saaiman, Vrystaat Landbou (VL) streekverteenwoordiger in die Kroonstad/Steynsrus- area, bedreig die daling in vleispryse die lewensvatbaarheid van baie boerderye.

“Indien die elektrisiteitsverskaffing-probleme voortydig aangespreek was, sou die vleisbedryf nie in hierdie situasie gewees het nie. Beurtkrag plaas ʼn onnodige koste las op die ganse vleisproduskie-waardeketting. Die gevolg is dat dit vir die boer te duur raak om vleis plaaslik te verskaf en gaan dit vir die verbruiker te duur word om vleis te koop”.

VL doen daarom ʼn dringende beroep op die bedryf asook die regering om die uitvoermark te open sodat meer vleis uitgevoer kan word en produsente daardeur kan baat deur die swak wisselkoers.

Verder moet biosekuriteit en naspeurbaarheid opgeknap word om die mark oop te hou en hoë vertroue in Suid-Afrikaanse vleis te skep.

Posted on by jonckie

Comments Off on Beurtkrag verwring vleispryse

Category: Algemeen