Vrystaat Landbou betreur die afsterwe van ‘n jong boer van Ficksburg

Vrystaat Landbou (VL) betreur die afsterwe van Evan Sorour van Ficksburg en betuig innige meegevoel aan sy familie. “Die tragiese gebeure wat op Sondag 8 Januarie afgespeel het, is tans die onderwerp van ʼn polisie ondersoek en ons vertrou dat die reg sy gang sal gaan na afloop van die ondersoek.” sê Friedl von Maltitz, vise-president van VL.

Ficksburg, soos verskeie grensdorpe langs die Lesothogrens, gaan al vir jare gebuk onder hoë vlakke van misdaad, waaronder ernstige geweldsmisdade soos plaasaanvalle en eiendomsverwante misdade veral veediefstal. Die area was alreeds in 2011 met die implementering van die Landelike Beveiliging Strategie (LBS) as ʼn hoë misdaad area vir veediefstal uitgewys en sou daar daadwerklike intervensies, aksies en planne van stapel gestuur word om die misdaad effektief te bestry.

Volgens Gernie Botha, hoof uitvoerende beampte van VL, word tussen 500 na 800 beeste word per maand deur en in die area geskuif met die hulp van voertuie. “Na ʼn dekade is die veediefstalprobleem groter as vantevore itv van weinig positiewe polisiëring resultate.”

Von Maltitz en Botha bevestig dat verskeie versoeke vir intervensies en hoëvlak ondersoeke deur beide die boerderygemeenskap en VL die afgelope jaar weereens geloods is. Geen noemenswaardige suksesse wat ʼn aanduiding gee dat misdade en veral veediefstal in die landelike gebiede effektief aangespreek is deur die polisie, het gerealiseer nie.

Weinig arrestasies word op veediefstalsake uitgevoer en die afwesigheid van enige noemenswaardige suksesse dra by tot ʼn groeiende frustrasie onder boere en hul werknemers wat deur misdadigers, veral ook in die oorgrens area, uitgebuit word.

Groot hoeveelhede vee, wat vermoedelik gesteel is, word maandeliks vanaf die area verskuif. Beweringe rakende polisie korrupsie by veediefstal groeperinge en sindikate was gemaak en daar was al vir ʼn nasionale ondersoek deur VL gevra wat tot ʼn beduidende impak op veediefstal kon lei. Dit het ook nie gerealiseer nie.

VL wat die belange van kommersiële boere teen die grense voorhou, versoek ʼn indringende ondersoek rakende die georganiseerdheid van veediefstal in die Ficksburg area, en ʼn kwartaallikse intervensie ten einde die manifestering van veediefstal effektief aan te spreek dmv addisionele mensekrag wat in die area ontplooi moet word. Dit moet noodgedwonge lei tot arrestasies en die nodige bewyslas sodat enige persone wat hulself skuldig maak aan misdaadpleging, aan die pen sal ry.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou betreur die afsterwe van ‘n jong boer van Ficksburg

Category: Wetlik Tags :