Boerderygemeenskappe moet oplettend wees gedurende feestyd, sê VL

Die feesseisoen is op hande en Vrystaat Landbou (VL) moedig boerderygemeenskappe aan om ekstra paraat en oplettend gedurende dié tydperk te wees.

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, sê dat veral eiendomsverwante misdade soos inbrake gereeld in die feestyd voorkom. ”Items en produkte wat in store geberg word soos saad, kunsmis, gif, batterye van trekkers, diesel, ens. word veral gesteel.”

Buys noem dat die organisasie in April ʼn beraming gedoen het van dieseldiefstal d.m.v. ’n vraelys wat aan veiligheidsverteenwoordigers gestuur is. Die beraming het getoon dat boere in die Vrystaat jaarliks tussen R30 tot R70 miljoen se skade ly weens dieseldiefstal. “Die diefstal kan plaasvind uit trekkers, stropers, implemente, trokke, voertuie, ens. wat op landerye staan veral in die plant- en stroop seisoen, en kan ook vanaf boere se opstalle gesteel word waar hul diesel stoor.”

Ander diefstal vanaf plase wat volgens Buys ook jaarliks voorkom, is diefstal van sinkplate. Store en onbewoonde werkershuise se dakke word dikwels gesteel. Dié tipe misdaad vind gewoonlik in nagtelike ure plaas waar kriminele inkom om dakskroewe die een aand los te maak en die volgende aand die sinkplate dan te steel.

Nog ’n eiendomsverwante misdaad wat ook voorkom, is die diefstal van sonpanele en pompe vanaf plase. Diefstal van koperkabels van spilpunte kom ook gereeld voor, veral by besproeiingsboere.

Hoe kan boere hulself voorberei om moontlike gevalle op hul plase te voorkom?

Waar moontlik, word boerderygemeenskappe aangemoedig om betrokke te wees en te raak by wit/bloulig patrollies in samewerking met die polisie in hul areas. Ekstra veiligheidsmaatreëls moet ingestel word ten einde hul eiendom en ook hul produkte, implemente en vee, teen diefstal te beskerm. “Dit is nie altyd haalbaar om ekstra kostes aan te gaan om sekuriteitsbeamptes aan te stel en kameras/alarms of tegnologiese hulpmiddels in te span nie, maar waar dit moontlik is, moet daar gepoog word om verliese teen diefstal/misdaad te beperk.” sê Buys.

“Boere moet ook enige verdagte beweging in terme van persone en of voertuie aan die polisie se Landelike Veiligheidskoördineerder asook aan die veiligheidsverteenwoordiger van die boerevereniging in hul area oordra, veral waar beweging in nagtelike ure waargeneem word. Verder moet boere ook seker maak dat hul radio kommunikasiestelsels in plek is, veral waar beurtkrag ook ʼn impak kan hê op die moontlike pleging van misdade in hul areas.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Boerderygemeenskappe moet oplettend wees gedurende feestyd, sê VL

Category: Algemeen