Kommer oor toestand van Vrystaat paaie voor reenseisoen

Vrystaat Landbou (VL), is versigtig optimisties oor die onlangse aankondiging deur mnr William Bulwane, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, dat ‘miljoene bewillig is vir die herstel van gehawende paaie in die Vrystaat’.

Francois Wilken, president van VL, sê dat die organisasie al verskeie kere met die LUR ontmoet het en skrywes gerig het om aksie te eis. Ten einde laaste is ’n memorandum in Mei 2022 deur VL aan die Premier, Sisi Ntombela, oorhandig waarin VL die provinsiale regering se onmiddellike optrede op paaie regoor die provinsie geëis het.

“Hierdie aankondiging is die resultaat van volgehoue openbare druk deur ons organisasie. Dade spreek egter harder as woorde en ons sal die vordering krities dophou.” meen Wilken.

Dit bly egter onduidelik wanneer die nodige herstelwerk aan die provinsie se padinfrastruktuur sal begin. “Die risiko is tans dat ʼn goeie reënseisoen oor vakansietyd verdere skade aan die Vrystaat se padnetwerk sal aanrig nog voordat die aanvanklike skade herstel kon word”.

Alle oë moet nou op mnr William Bulwane gerig word om te verseker dat die kritieke lys van paaie herstel word. Ons hoop is dat die provinsiale administrasie sal toesien dat die bewilligde fondse reg aangewend sal word en nie sal “verdwyn” nie.

Vrystaat Landbou sal voortgaan om verdere druk op die Provinsiale regering te plaas om ook die ander paaie in die provinsie te herstel.

Posted on by jonckie

Comments Off on Kommer oor toestand van Vrystaat paaie voor reenseisoen

Category: Algemeen