Vrystaat Landbou rampfonds verlig tydelike nood van Jagersfontein- boere

Boere in die Jagersfontein-area wat die Wolwas- en Kromellenboogspruit as natuurlike veesuiping gebruik het, is nou genoodsaak om water aan te ry om hul diere van water te kan voorsien. Die spruit is onbruikbaar weens dik slik nadat die wal van ʼn slikdam in die vroeë oggendure van 11 September 2022 meegegee het.

Die breek van die slikdam het ook ʼn negatiewe impak op landbou aktiwiteite in die omgewing tot gevolg aangesien groot gedeeltes van landbougrond in die onmiddellike omgewing van Jagersfontein, wat ook weidingsgrond insluit, steeds deur die slik bedek word.

Albertus van Schalkwyk, voorsitter van die plaaslike boerevereniging, het by navraag bevestig dat geaffekteerde boere aangedui het dat daar ʼn onmiddellike behoefte vir waterpype, krippe en ook watertenks is. Van Schalkwyk noem ook dat Dennis Louw, ʼn boer in die omgewing van die ramp, verskeie vee verliese gerapporteer het. “Dennis het regtig ʼn behoefte aan veral pille om die lammers te voer gegewe dat ʼn groot area wat vir weiding gebruik was, tans deur die slik bedek word en talle ooie ook dood is.”

Gernie Botha, hoof uitvoerende beampte van Vrystaat Landbou, het bevestig dat die organisasie ʼn bedrag van R50 000 uit hul rampfonds aan Jagersfontein boerevereniging bewillig het om te help met onmiddellike nood.

Lede van die publiek wat ’n bydrae aan die Jagersfontein boere wil maak, kan VL se webtuiste (https://vrystaatlandbou.co.za/donate/) besoek, ʼn epos rig aan info@vslandbou.co.za met opskrif “Jagersfontein”.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Landbou rampfonds verlig tydelike nood van Jagersfontein- boere

Category: Algemeen