Jagersfontein slikramp plaas weer klem op weerloosheid van gemeenskappe

Die gebeure by Jagersfontein waar die wal van ʼn slikdam in die vroeë oggendure van 11 September 2022 meegegee het, plaas weer die klem op die weerloosheid van gemeenskappe en daar word dikwels gevra teen watter prys hierdie tipe ontwikkeling geskied.

Wesenlike skade is aan strukture in die dorp aangerig en het die breek van die slikdam ook ʼn negatiewe impak op landbou aktiwiteite in die omgewing tot gevolg. Gedeeltes van landbougrond in die onmiddellike omgewing van Jagersfontein, word tans deur die slik bedek en is dit op hierdie stadium onduidelik wat die langtermyn effek op die landbougrond sal wees.

Boere wat die Wolwas- en Kromellenboogspruit as natuurlike veesuiping gebruik het, is nou as gevolg van die slik genoodsaak om alternatiewe drinkplek vir hulle vee te verkry. Volgens Albertus van Schalkwyk, voorsitter van die plaaslike boerevereniging, het geaffekteerde boere aangedui dat daar ʼn onmiddellike behoefte vir waterpype, krippe en watertenks is.

Gernie Botha, hoof uitvoerende beampte van Vrystaat Landbou, sê intussen dat daar bekommernis heers oor die langtermyn uitwerking wat die slik op mens en dier kan hê aangesien dit nog nie duidelik is watter effek dit moontlik op drinkwater kan hê nie. “Op hierdie stadium is dit dalk bietjie vroeg om hieroor te spekuleer, maar kan dit in die toekoms moontlik negatiewe gevolge inhou indien giftige stowwe in die slik aanwesig is.”

ʼn Boer in die omgewing van die ramp, Dennis Louw, het verskeie vee verliese gerapporteer en is daar ʼn behoefte aan die beskikbaarstelling van pille om die lammers te voer gegewe dat ʼn groot area wat vir weiding gebruik word, tans deur die slik bedek word.

Lede van die publiek wat ’n bydrae wil maak, kan VL se webtuiste (https://vrystaatlandbou.co.za/donate/) besoek of ‘n epos rig aan info@vslandbou.co.za met opskrif “Jagersfontein”

Posted on by jonckie

Comments Off on Jagersfontein slikramp plaas weer klem op weerloosheid van gemeenskappe

Category: Veiligheid