Tot 20% van Vrystaat se polisievoertuie wag op herstel

Inligting wat tot Vrystaat Landbou (VL) se aandag gekom het, dui daarop dat tussen 15% en 20% van polisievoertuie in die Vrystaat-provinsie gestrand is in staatsmotorhuise en op herstelwerk wag. Volgens die SAPD se 2021 jaarverslag, beskik die Vrystaat oor 3 848 aktiewe voertuie. Dit beteken dat tussen 680 en 900 polisievoertuie nie beskikbaar is om gemeenskappe te beveilig nie.

Volgens VL se Veiligheids-risiko analis, Dr Jane Buys, is die implikasie dat die SAPD in die Vrystaat tot 25% meer diensbaar sou wees indien die bestaande voertuigvloot ten volle aktief was.

“Gebrek aan voertuie word gereeld uitgewys as rede waarom die SAPD in hul pligte faal.”

Inaggenome die provinsiale personeel komplement van 10 575 polisiebeamptes (3 beamptes per voertuig), beteken dit dat die Polisie alreeds oor wesenlike misdaadbekampings-vermoë beskik en eintlik ʼn baie goeie diens aan gemeenskappe behoort te kan lewer. Tog is dit nie die geval nie.

Beperkte begroting word blameer vir beperkte polisiëring. Indien bogenoemde getalle in ag geneem word, kan begrotingsbeperkings nie die rede vir swak polisiëring wees nie. Die syfers dui daarop dat effektiewe bestuur binne die SAPD die enigste rede kan wees:

 Begrotings beperk nie die instandhouding van voertuie nie. Gebrekkige vlootbestuur doen wel.
 Min sigbaarheid van die polisie is nie die begroting se skuld nie. ʼn Onvermoë om pligte uit te voer is wel.
 Gebrekkige aanwending van bestaande operasionele vermoë (in al die polisie divisies) dui op ʼn gebrek aan kundigheid.

Die realiteit wys daarop dat die gebrekkige bevel- en beheerstruktuur en die aanstelling van onbevoegde persone binne die SAPD tot gevolg het dat die polisie nie hul hulpbronne reg aanwend nie.

“Ongeag begroting, is dit swak bestuur wat lei tot prosesse, strukture, mannekrag, voertuie en logistieke vermoëns wat misluk.” meen Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee

“Die Polisie faal Suid-Afrika omdat hulle nie hierdie interne probleme kan oplos nie.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Tot 20% van Vrystaat se polisievoertuie wag op herstel

Category: Veiligheid