R30-pad een van vele lewensgevaarlike paaie

“Die R30 is maar een van die vele lewensgevaarlike paaie wat deur die hele Vrystaat gaan. Paaie is ’n groot ekonomiese lewensaar deur die provinsie en moet doeltreffend in stand gehou word.”

Dit was die boodskap wat dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), weereens aan die Premier en provinsiale amptenare oorgedra het tydens ‘n vergadering by die berugte R30-pad naby Allanridge.

Boere en verteenwoordigers van VL het by die gedeelte van die R30 bymekaargekom wat onverwags deur die Premier gesluit is ná verskeie noodlottige ongelukke.

Die aankondiging deur die Premier dat die pad gesluit gaan word om ‘n brug te bou, is nie goed deur die boeregemeenskap ontvang nie aangesien hulle nou van die silo’s en kerke afgesny is.

Verder word die noodsaaklikheid van ‘n brug ook bevraagteken wanneer die koste aspek in ag geneem word.

Volgens dr Armour het die Premier en LUR vir Polisie, Paaie en Vervoer, nadat hulle met die boere gepraat het, tot ‘n skikking gekom dat ‘n vergadering tussen professionele ingenieurs, plaaslike boere met ’n ingenieurs agtergrond, provinsiale ingenieurs sowel as ingenieurs van SANRAL gefasiliteer word.

Vrystaat Landbou het ‘n memorandum vir die Minister van Vervoer, wat teenwoordig sou wees, voorberei. In die dokument word onder meer geëis dat:

1. ‘n Deeglike professionele ingenieursverslag gedoen word om alternatiewe te oorweeg vir die R30 wat opgeweeg moet word teen die voorgestelde onbekostigbare en duur brug.
2. Dat die bestaande R30 veilig oopgemaak word met die nodige 24 uur ry/stop beheer wat boere in staat sal stel om hul produkte by die silo’s/mark te kry en besigheid nie ontwrig word nie.
3. Dat nasionale regering die provinsiale regering aanspreeklik hou in terme van die vrugtelose uitgawes aangegaan volgens die bevindinge van die Ouditeur-generaal verslag.
4. Ons grondpaaie dringende aandag vereis na jare van swak en onvoldoende onderhoud.
5. Die top swaar personeelstruktuur van die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer krities hersien word om fondse te bekom om meer voltydse algemene werkers en skraperoperateurs in diens te neem.

Volgens dr Amour het LUR Bulwane hom daartoe verbind om binne drie weke ‘n vergadering tussen VL en die Minister van Paaie en Vervoer te fasiliteer.

Vrystaat Landbou veroordeel die misbruik van staatsfondse soos uitgelig in die ouditeurgeneraal verslag en die verval van ons nasionale infrastruktuurnetwerke in so ‘n mate dat dit ‘n groot impak op die plaaslike, provinsiale en nasionale ekonomieë het, die vermoë van die private sektor om werk te skep en boere om kos te lewer om die nasie te voed.

Posted on by jonckie

Comments Off on R30-pad een van vele lewensgevaarlike paaie

Category: Veiligheid, Voertuig