Departement kan nie teer lewer, boere herstel R505 en R59 uit eie sak

Nadat Mooiveld Boerevereniging van die Wesselsbron omgewing vir byna ’n jaar die departement van paaie moes smeek vir teer, het hul uit desperaatheid maar weer hand in eie sak gesteek om die R505 en R59 rybaar te kry.

“Ons vra al sedert April 2021 dat die departement slegs die teer voorsien om die twee onderskeie paaie te herstel. Ons kon egter nie langer wag nie, want dit is strooptyd en ons produkte moet vervoer word.” sê Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Veiligheidskomitee en lid van Mooiveld boerevereniging.

Talle boere en plaaswerkers het vir vier dae, gedurende 2 tot 5 Mei 2022, skouer aan die wiel gesit om die twee paaie rybaar te kry. Volgens le Roux is die toestand van die paaie te wyte aan die departement van paaie se nalatigheid om infrastruktuur in stand te hou. “Die mangaanvragmotors wat dié paaie gebruik, rig groot skade aan. Toe gebeur die vloede in Januarie en Februarie 2022 en daarom moes ons inspring en iets doen!”

Le Roux noem dat die boere, op eie onkoste en met hul eie toerusting, ongeveer 20 tot 25 sleepwavragte gruis aangery het om die R505 te herstel.

Gernie Botha, hoof uitvoerende beampte van VL, noem dat die organisasie al talle skrywes aan die kantoor van die Vrystaatse Premier gerig het om haar te woord te staan en in te lig oor die paaie kwessie. “Alhoewel ons erkenning van ontvangs op die versoek gekry het, kon ’n vergadering nog nie belê word nie.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Departement kan nie teer lewer, boere herstel R505 en R59 uit eie sak

Category: Algemeen