Vrystaat Premier vergeet landelike gemeenskappe se motoriste

“Ons is uiters bekommerd dat die provinsiale toekenning vir die herstel en instandhouding van grondpad herstelwerk meer as gehalveer is,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat
Landbou (VL).

Die premier van die Vrystaat, Sisi Ntombela, het Maandag in haar provinsiale rede aangekondig dat die Vrystaat slegs R50 miljoen (R115 miljoen in 2021) vir grondpad herstelwerk sal ontvang.

Ironies genoeg poog premier Ntombela om R100 miljoen te bestee wat bewillig is vir landbou-infrastruktuur (besproeiingskemas, plaasgeboue en meganisasie en landbouverwerking). Volgens Wilken kon besteding aan landbou-infrastruktuur baie beter vir die provinsie se paaie aangewend word.

“Jy kan die beste infrastruktuur en toerusting op die plaas hê, maar sonder paaie sal jy nie produkte aan die mark kan lewer nie.”

Onlangse oorstromings in die provinsie het verwoesting aan landelike infrastruktuur gesaai.

Alhoewel boere baie afhanklik is van paaie, is dit die landelike gemeenskappe wat die meeste geraak word. “Ons het dit telkens op provinsiale vlak uitgelig, maar dit blyk nou dat landelike gemeenskappe totaal vergete is”, sê Wilken.

Die landbougemeenskap is nou in ‘n verknorsing. “Ons word gedwing om openbare paaie op eie koste te herstel, terwyl ons geen ondersteuning van die provinsiale regering ontvang nie.

As die boere gereedskap neerlê, ly almal in die landelike gebiede daaronder. Dit sal dit onmoontlik maak om te boer, plaaswerkers te betaal en die nasie te voed. Hierdie situasie sal ons dwing om alle wetlike weë verder te ondersoek.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Vrystaat Premier vergeet landelike gemeenskappe se motoriste